6-jarige gehospitaliseer ná onnie hom glo aanrand

Foto: Verskaf.

Die Oos-Kaapse departement van onderwys het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná ʼn 6-jarige seun van dié provinsie glo so erg deur ʼn onderwyseres aangerand is dat hy in die hospitaal beland het.

Edmund van Vuuren, DA-LP, het gesê die kind is op 13 Junie vanjaar glo deur sy onderwyser by Island View-plaasskool by Grootvleiplaas in die Alexandria-distrik voor ander leerders aangerand.

“ʼn Strafregtelike saak is aanhangig gemaak en die kind is in Port Alfred in die hospitaal opgeneem.”

Die DA het dié beweerde gedrag deur die onderwyser skerp veroordeel. “Geen kind moet onder enige omstandighede aan enige vorm van mishandeling onderwerp word nie,” het Van Vuuren gesê.

Hy het gesê ouers vertrou dat hul kinders veilig sal wees wanneer hulle skool bywoon. “Die ANC-regering het dié vertroue verbreek.”

Van Vuuren het bygevoeg dat hy vir Nicky de Bruin, die distriksdirekteur van die Sarah Baartman-onderwysdistrik, gekontak het om die saak onder die departement se aandag te bring. “Daar is vir my gesê dat die saak dringende aandag en ondersoek sal geniet.”

De Bruin het Donderdagmiddag aan Maroela Media bevestig dat die ondersoek na die voorval in die finale stadium is en dat dit na verwagting teen einde vandeesmaand afgehandel sal wees en die departement dan daarvolgens sal optree.

Hy het gesê die feit dat dit nou skoolvakansie is vertraag die proses deels.

Die betrokke onderwyseres is nog werksaam by die skool en sal ná die vakansie aanmeld.

Volgens De Bruin is die seun dieselfde dag nog uit die hospitaal ontslaan en sal die departement vir hom berading aanbied ná die voorval.

Van Vuuren het gesê ʼn DA-regering sal dit as een van die hoofprioriteite stel dat kinders en ouers rustigheid sal hê dat hul kinders veilig is tydens skooltye. “Ek doen ʼn beroep op die LUR om streng gevolge in plek te stel vir onderwysers wat skuldig bevind word aan enige vorm van mishandeling en seker te maak die skuldiges ry aan die pen.”

Hy het verder gesê in skokkende syfers wat deur Mandla Makaphula, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, bekendgemaak is, het dit aan die lig gekom dat 18 sake van fisieke- en seksuele aanranding van leerders deur onderwysers sedert 2015 plaasgevind het.

“Wat nog meer skokkend is, is dat 60% van dié sake by laerskole plaasgevind het.”

Volgens Makaphula is agt van die onderwysers in die 18 sake skuldig bevind, twee van die agt is afgedank as gevolg van die lyfstraf of aanranding, vier onderwysers het bedank en ses sake is nog nie afgehandel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Hanna ·

Kan jy glo, wat gaan met die mense aan. Lyk my geweld is aan die orde van die dag!!!!

Linda Gouws ·

A-nee-a! Dis ‘n skreiende skande! Kyk hoe lyk die arme kind en dan praat ek nie eers van die sielkundige uitwerking wat daarmee gepaard gaan nie. Nee, dit is onaanvaarbaar!!! Hoekom is die onderwyser nog werksaam by die skool?

Estelle ·

Wil ek ook weet. Belaglik. Ek het 3 dogters in die onderwys en hulle is so lief vir hul kinders. Wat gaan in so n onderwyser se kop aan…..moet sumier afgedank word. Klad op onderwysers se naam.

Max ·

Die onderwyser het net die department van onderwys se voorskrifte nagekom. Hy het nie die kind pak gegee nie.

Sê maar net ·

My skoondogter gee skool…en sy sê jy moet hare op jou tande hê…die kinders luister nie…vloek op jou….skree op jou… sê reguit vir jou…los my uit ek sal dit nie doen nie… nee wat ek is bly ek hou nie skool nie… Ek haal my hoed vir die onderwysers van vandag af..

SubB ·

@sê maar net, ek gee nou al 11 jaar skool, en dis waar wat jy sê, maar meestal kom dit voor by tieners, maar jy kan nogsteeds nie te lyf gaan nie, veral nie n 6 jarige KIND nie, die onnie is duidelik in die beroep vir die verkeerde redes.

LB S ·

Wel, laat ek jou maar sê, as dit my kind was, sou ek nou in die tronk gesit het!
Geen grootmens behoort sy woede op so jong kind uit te haal nie, ek is jammer, daar is ander maniere van doen. Buitendien, hoe weet jy wat in daai kind se lewe aangaan, dalk is dit sy manier van aandag en hulp soek! Nou kry hy net meer van dit wat hy elke dag dalk by die huis ontvang.

Johnnie ·

My vraag is waarom word sulke mense nie tronk toe gestuur nie.

Andrea van Vuren ·

Die onderwyseres gaan gedissiplineer word en dan met volle betaling op verlof gestuur word en oor ‘n paar jaar weer aangestel word. Dis mos hoe dit in hierdie land gaan. Geen haan gaan daarna kraai nie.

Nettie ·

@Thinus Coetzee – ek dink ek kan saamstem met jou. Mens kan net saampraat as jy sélf in die onderwys staan en in skole soos wat hierdie outjie moet wees, skool gee. Ek woon naby ‘n NGK Sendingskool en my oë wil soms omdop en my ore tuit vir die gedrag en woordgebruik van sommige leerders.

Dít, tersyde gestel: geen oortreding gee enige onderwyser (of persoon, vir daardie rede) die reg om ‘n kind te foeter of ‘n klap uit te deel, wat die kind se oog bot-toe laat swel en hom/haar in die hospitaal laat beland nie.

Hierdie “dame/vrou” wat hierdie kind só geklap/geslaan het, verdien om van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla te word en dan, ná die kriminele oortreding en vervolging, ook siviel vervolg te word vir skadevergoeding a.g.v. fisiek en emosionele pyn en lyding.

Glo my, ek het ‘n Mej. Pepler in Laerskool Pierre Simond naby die Paarl gehad wat my lewenslank gekniehalter het met haar woorde: “Jou dom donkie, gaan sit agter in die klas!” net omdat ek nie ‘n wiskundesommetjie kon verstaan nie. En tot vandag kan ek met moeite een en twee bymekaar tel, om vier te kry.

Liberaal ·

Groot geleentheid vir liberaliste. Ons superryk globale meesters wil die middel en laeklasse verswak onder andere deur om te sorg dat hulle kinders swak opgevoed word deur om lyfstraf onwettig te maak. Laat lyfstraf erg klink deur om ‘n gewone goeie pak slae te laat verwar met erge aanranding soos hierdie, dis ‘n massamediategniek wat goed werk.

Diefie ·

Dit was nie reg van die onderwyser nie. Ek het ook simpatie met die onderwysers. My vriendin het uit die onderwys bedank. Die kinders het haar rond gestamp in die klas, het selfone, klasse ontwrig, omdat hulle nie wil luister of leer nie. Dit help nie eers om hulle na die skoolhoof te stuur nie. Die onderwyser moet saam stap en in tussen is dit chaos in die klas. Een onderwyser het ‘n video geneem in die klas, net om te wys hoe magteloos ‘n onderwyser is en wat die kinders alles doen. Haar lewe was nie weer dieselfde nie, na al die aanklagtes nie. Die onderwysers het geen reg nie. Die kinders en hul ouers beheer die skole.

Kapenaar ·

Ek kry die onderwysers bitter jammer, die kinders het nie meer maniere nie, en hulle taalgebruik is skrikwekkend. Ek praat nie onnodige aanranding goed nie, maar ek dink enige mens kan net soveel vat, en nie meer nie.

Jantjie ·

Nee wat ek dink die onderwyser was tot op breuk punt gedruk en het net uit magteloosheid so op getree en ek weet van ouers wat nog vir die kinders half aanmoedig om te se n onderwyser mag jou niks doen nie

Lee ·

Ek glo altyd aan ‘n saak het 2 kante….. Het sy hom so geklap of het hy geval of het hy by die huis gekom en sy ouers het hom geklap??? You never know. Ek haal my hoed af vir enige onnie, ek sal dit nie maak nie. Vandag se kinders het geen maniere nie.

Bea ·

So baie kinders word dagliks by die huis mishandel. Die skool moet ’n veilige hawe skep. Hoe en met wie kan hulle praat as dit nie eers in die skool aan gebied word nie?! Name and shame die onderwyser, moet van sy plig geskraap word.

DVL ·

Ai die politici nou is dit sommer die ANC se skuld. Kyk ek het nie ooghare vir enige party of politikus nie hulle is almal ‘n klomp oppurtiniste / leuenaars…… Maar vir die DA om te se dit is die ANC se skuld, so dan is die bendegeweld in die Wes Kaap mos dan hulle skuld. As enige onderwyser ooit so iets aan my kinders moes doen sal hulle nooit weer skool gee nie. Maak nie saak wat die kind gedoen of gese het nie dis ‘n sesjarige jy doen nie so iets nie.

Carien ·

Ek is nie ‘n opgeleide onderwyseres nie maar ek verstaan dat hul op ‘n plek kom waar hul nie meer weet watter kant toe nie maar om ‘n kind só aan te rand is ongehoord.
Ek het 3 seuns waarvan ‘n 2ling is en mense, al moet ek dit self sê, ek het God gegewe Engele. Ouboet nou 36 en 2ling 17 jaar oud . Ek is 100% dankbaar vir hulle. Ek bid elke dat kind soos hulle kan wees. My gebede gaan aan elke ouer en onderwyser vir geduld en vir elke kind dat hul oë sal oopgaan en dat hul sal besef hulle is op ‘n pad van self vernietiging.

jankoos ·

Miskien moes hy n pak gekry het maar die is aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Stephen Namibia ·

Ek lees die kommentaar hierbo en kan nie glo wat mense kwytraak nie. Onderwysers hoef nie ‘hare op hulle tande ” te he nie.
Opvoeding van n kind is primer die ouer se plig en as daar dissipline is by die huis sal die kinders nie moeilik wees by die skool nie.
Te veel ouers dink die onderwysers moet hulle kinders se opvoeding waarneem.
As dit wat met hierdie kind gebeur het met my kind gebeur sal die onderwyser beslis die een wees wat gehospitaliseer word!

Liendempers ·

In my 12 jaar op skool het my ma net een keer skool toe gegaan na ek slae op my hande gekry het. En dit was net om vir die onderwyser te gaan sê dis reg dat ek slae gekry het, maar volgende keer foeter haar op haar sterre, want mens moet jou hande gebruik om te werk. Al waarvoor die sterre goed is om te sit. My punt is, miskien moet die kinders weer slae op die sterre kry…..wettiglik……dan sal hierdie goed nie gebeur nie. Ek stem egter saam, my kind sal so by die huis kom, dan lees julle almal die volgende dag van my op Maroela Media.

Annatjie Kruger ·

My suster is opgelei as ‘n onderwyseres en die stories wat sy my vertel het van hoe die kinders in die klas optree, grens aan riller verhale. Hulle het net eenvoudig geen respek vir die onderwysers nie. Ek wonder of iemand al daaraan gedink het om aan die onderwyspersoneel berading te gee. Miskien as hierdie onderwyseres iemand gehad het om mee te praat ten opsigte van die gedrag van die kinders in haar klas, sou sy anders opgetree het. En glo my ek het al gehoor hoe laerskoolkinders praat, en my mond het oopgehang van skok. Ek was ook eendag in die laerskool op my hande geslaan sodat die hande opgeswel het en my pa het die volgende dag die skool besoek en die onderwyseres gewaarsku. Vir die Duitse onderwyseres wat probeer maak het asof ek onnosel was, het ek in my gedagtes ‘n vinger gewys, want ek het geweet waartoe ek instaat was.

Juffrou ·

Hierdie breek my hart. Dit gee ons as onderwysers so n slegte naam.

Onnie ·

Die ouers het gen respek vir ons as onderwysers en ons beroep nie. Die kinders sien en hoor dit by die ouers en kom haal dit op ons uit by die skool.

Ons as onderwysers het geen meer mag of seggenskap oor wat die kinders moet doen nie en hoe ons hulle kan help opvoed nie.

Kinders mag hul selfone gebruik, op ons bloek en skel en veral skree. Wie kry die skuls altyd by almal, die onderwyser. Julle het nie ń idee wat werklik in skole angaan nie want die “onskuldige engeltjies” word mos altyd geglo. Kry die kind swa punte weens die feit dat die kind eerder boek lees of eerder met die maatjies wil kuier in die klas terwyl die les so uitgewerk is om klas werk toe te laat om huiswerk tyd te verminder.

Nee julle het nie ń idee wat angaan nie. Pleks word ons van die huise af ge-ondersteun word die “engeltjies” eerder in hulle kwad gestook deur die “gehoorsame” ouers.

Help ons as onderwysers om disipline reg toe te pas, deur dit OOK by die huis toe te pas. As daar ń probleem aan jou as ouer gerapporteer word spreek dit aan. Moet nie die onderwyser se tyd kom mors as jy nie streng genoeg is nie.

Help ons, eerder as wat party van julle ons afbreek en sleg maak, dan sal sulke voorvalle soos hierbi nie gebeur nie.

Ons is moedeloos, kinders WIL nie meer leer nie.

Elsa ·

Onnosele besluit en ‘n onbetroubare onderwyseres. Wonder of sy kinders het? my mening total onbevoeg nen sal die volle prys betaal….nie waardige person in onderwys posisie nie

Annamarie Olivier ·

Ek dink ‘n onderwyser verloor dit net omdat hulle elke dag met stout en ongehoorsame kinders moet deel. My vriendin is ‘n onderwyseres en het een aand met oueraand gekla by die ma van een van haar leerlinge, net daar het die ma die kind aangerand oor die kop geslaan net waar sy kon bykom. Sy het net daar besluit sy kla nooit weer by ‘n ouer nie so geskok was sy oor die ma se optrede.

Anoniem ·

Ek sal graag die onderwyseres se kant van die storie ook wil hoor.

Annelize ·

Ek ook Anoniem, maar as Onderwyser/grootmens, weet mens mos waar omd ie streep te trek en verantwoordelik op te tree.

Daar is ‘n verskil tussen pak gee en aanrand. Dis agv sulke dinge dat die van ons wat die verskil ken, die roede ontneem is.

Anoniem ·

Ek stem heeltemal met jou saam dat daar ‘n verskil is tussen pak gee en aanrand. En ‘n hou of drie op die boud op die regte tyd kan ‘n kind in die regte rigting stuur.

MAAR dit maak my hartseer dat soveel mense gevolgtrekkings maak sonder om die volledige feite te ken en dan sommer net begin oordeel. Dalk was dit die onderwyseres, dalk nie. Dalk was daar ‘n bakleiery (boelie) onder kinders wat sy uitmekaar gemaak het? Dalk het iets anders gebeur wat ons nie eens oor kan droom nie…

Mens kry nog ordentlike kinders, maar hulle word al dunner gesaai. Daar is soveel kinders op skool wat heeltemal ontaard het, en dit goor maak vir die onderwysers(esse) én hul klasmaats.

Lerato ·

Hallo Anoniem
Jou bydrae maak sin. Mense maak gevolg trekkings sonder feite.

Wat blykbaar n feit is, is dat dwelm gebruik in skole astronomies toegeneem het.

Daar is hoofde en beheer ligamme wat die polisie by skole verwelkom om die probleem aan te spreek.

Ander weier

Diefie ·

Wat gemaak as ‘n kind so onmoontlik is en die skool het met die ouers gepraat om die kind na ‘n sielkundige te neem, maar die ouers wil niks weet nie. Hulle sê die probleem is by die onderwysers en skoolhoof. Die skool het alles probeer, maar die ouers weier om enige verdere hulp te kry. Die kind se leêr is skrikwekkend. Nou wat nou?

Clene ·

Ek stem 100% saam met jou Onnie. In ons dae as jy stories by die huis aanbring van die skool af het jou sterre weer gebrand maar nou moet ek ook sê ons het respek vir grootmense gehad.

Sê-ma-net ·

Onderwys gee is ‘n roeping, nie ‘n ‘job’ nie. In die ou dae was daar na ‘n onderwyser verwys as ‘meester’. Welliswaar sal daar iewers ‘n vrot appel uitkruip. Dit vind jy in alle beroepe. “Anoniem” raak ‘n hele paar geldige punte aan. Ongehoorsame kinders sal jy altyd kry – dis deel van ons natuur. Dis die proses van bevraagtekening van die status quo, maar nie almal beskik oor die vermoë om dit elegant te verwoord nie, deste minder ‘n jong kind.

MAAR – swak maniere, disrespekvolle optrede en dies meer kan nie geduld word net omdat dit ‘ontoelaatbaar’ is om te tugtig nie. Gebruik ‘n diskrediet (De-merit) stelsel soos wat vir motoriste voorgestel word. Verloor ‘n sekere aantal punte en jy word geskors / verbeteringskool toe gestuur. Sulke kinders EN hul ewe swakgemanierde ouers moet maar ge-swartlys word. Hulle sal vinnig van deuntjie verander wanneer die arme bloedjie se skool opleiding deur hul eie toedoen gekniehalter word en deure (universiteit / kollege ens) begin toegaan vir hulle. Daarmee saam waai toekomstige werksgeleenthede ook by die venster uit. Wie nie hoor nie moet voel. Indien nie nou nie, dan later. Indien dit bevind word dat die onderwyseres onregmatig gehandel het, sal ‘n “oor die vingers tik” uitkoms nie aanvaarbaar wees nie. Die straf moet die erns van die oortreding weerspieël.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.