6 sterf in busongeluk

Die wrak van die bus. (Foto: Verskaf)

Ses mense, onder wie ʼn baba, is Sondag laat in ʼn busongeluk op die R61 tussen Aberdeen en Beaufort-Wes dood.

Charles Bramwell, adjunkdirekteur van provinsiale verkeer in die Oos-Kaap, het aan Maroela Media gesê ʼn bus met 36 insittendes was van Langa in die Wes-Kaap na Elliotdale in die Oos-Kaap onderweg toe die bestuurder van die bus na bewering beheer oor die bus verloor het.

Die bus het omstreeks 23:55 deur ʼn heining geploeg waarna dit omgeslaan het. Ses insittendes het in die voorval omgekom. Drie mans, twee vroue en ʼn baba is onder die sterfgevalle, het Bramwell gesê.

Die wrak van die bus. (Foto: Verskaf)

Drie ander insittendes het ernstige beserings in die ongeluk opgedoen en is na die Midlands-hospitaal in Graaff-Reinet gehaas terwyl 21 ander met ligte beserings in die Aberdeen-hospitaal opgeneem is.

Volgens Bramwell het die bus glo teen ʼn hoë spoed gery. Die bestuurder was kort ná die ongeluk skoonveld en dit is nie duidelik of hy al opgespoor kon word nie.

Die presiese omstandighede rakende die voorval word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niklaas ·

Kyk na die ongeluks tyd. Die bestuurder was baie moontlik uitgeput en het sekerlik aan die slaap geraak .

Gert van Wierdapark ·

Dis HOOG TYD dat die ministerie van Vervoer in SA wakkerskrik rakende die on-aanvaarbare en onverantwoordelike padslagting van onskuldig mense in SA!!! Hou op praat en begin iets doen, want so MAG dit nie aangaan nie! Roekelose bestuurders en bestuurstyle wat insluit die minagting van BASIESE VERKEER-REELS, asook beperkte wetstoepassing, behalwe ‘n groot vertoon tydens vakansie/langnaweek projekte!! Daar moet by die OORSPRONG van die Helse Probleem begin word, en nie probeer word om dit van BO af reg “te dokter/praat” nie. Die SLAGTING ons paaie skreeu ten hemele, maar daar is skynbaar meer kommer dat die plaaslike SOKKER nie op SABC uitgesaai gaan word nie!!!

Muffin ·

Ongelukstoeneel verlaat. Wonder of was hy nie onder die invloed nie.

Kobie Welgemoed ·

Verseker was hy nie nugter nie en besef hy moet vlug! Sluit hom toe vir baie lank. Sterkte aan die families wat nou met die hartseer sit.

Fanie Gerrie ·

Ek bly in Bloemfontein en moet ongelukkig gereeld gebruik maak van die busdienste vanaf Kaapstad en weer terug. Ek probeer egter om by die meer bekende name te bly. Nie dat dit baie troos nie, want was dit nie deur die Genade van Bo en deeglik opgeleide busbestuurders nie, sou ons al in a paar ernstige ongelukke gewees het.

By n vorige geleentheid (ek praat van skaars twee maande gelede) ontmoet ons bus n aankomende swaarvragmotor in ons baan op pad na Laingburg, besig om n string voertuie verby te steek en dit nogal om n blinde draai!

Nodeloos om te vertel, ons busbestuurder moes een helfde van die bus van die pad af ry om die ongeluk te vermy. Gelukkig word die busse van die groter en meer bekende name beperk tot 95km per uur en het hulle deesdae almal “dash cams” geinstalleer.

Ek bid baie meer tydens hierdie ritte as op ander dae….

Anne-Marié ·

Ek wonder of veiligheidsgordels in busse effens kan help. Het al gehoor daar’s busse oorsee wat hulle geïnstalleer het en in sommige areas is dit glo verpligtend. Interessant dat ons in vliegtuie moet veiligheidsgordels dra maar in busse nie. Tweedens wonder ek of daar verpligte babastoeltjies in busse is. Met ander woorde ouers moet die of ouers bring een saam vir die baba óf die bus moet een voorsien. Babastoeltjies help veral om fatale ongelukke te minimaliseer. Ek het meer as 15 jaar laas bus gery in SA en is nuuskierig oor die veiligheidsmaatreels binne busse. Kan iemand wat weet bietjie vertel?
Dis so tragies. En lyk my toerbusse raak nou dieselfde probleem as minitaxis op snelweë.

Anita ·

Ek kan slegs praat van die Interkaap se voorste sitplekke, bo – maar daar is wel gordels beskikbaar. Min mense gebruik dit egter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.