6 vas vir moord, ontvoering

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Ses mans tussen die ouderdom van 19 en 30 is in hegtenis geneem op klagte wat verband hou met die moord op die 28-jarige Mthobisi Dlamini buite Nelspruit.

Volgens inligting tot die polisie se beskikking het die verdagtes Dlamini Saterdag by Pienaar in Mpumalanga genader en hom daarvan beskuldig dat hy diesel uit ʼn trok gesteel het wat buite een van die huise in Pienaar geparkeer was.

“Hulle het toe begin om Dlamini aan te rand en te martel, ten spyte daarvan dat hy sy onskuld bepleit het,” sê brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder van Mpumalanga. “Hy het nie lank daarna nie aan sy wonde beswyk en die verdagtes het sy liggaam in ʼn nabygeleë veld gestort.”

Volgens Hlathi het Dlamini se familie bekommerd geraak toe hy nie Saterdag huis toe kom nie en besluit om ondersoek in te stel. “Hulle is later ingelig dat Dlamini glo deur ʼn groep mans ontvoer is. Hulle het die polisie genader en ʼn saak van ontvoering aanhangig gemaak.”

ʼn Ondersoek is onmiddellik van stapel gestuur en die polisie het kort daarna op Dlamini se liggaam afgekom en verdagtes in hegtenis geneem.

Die provinsiale polisiekommissaris het die inhegtenisnemings verwelkom en gesê dit is nooit ʼn oplossing vir gemeenskappe om reg in eie hande te neem nie.

Een verdagte het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en moord. Die res van die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha ·

Maar die wat Blankes vermoor word nooit gevind nie, net ondersoek duur voort. So ontstellend, maar waar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.