60 000 kan werk verloor oor voorgestelde suikerbelasting

Argieffoto (Foto: Peggy_Marco, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Peggy_Marco, Pixabay)

Die koeldrankbedryf in die Oos-Kaap het Dinsdag ʼn beroep gedoen op die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit en die provinsiale regering om hom by te staan om die voorgestelde belasting op suikerversoete-koeldranke teen te staan.

Phil Gutsche, voorsitter van Coca-Cola Beverages Africa, het gesê die voorgestelde belasting deur die nasionale tesourie sal duisende persone se lewens beïnvloed en die ekonomiese groei in die provinsie en die stad bedreig.

Dit kom ná die tesourie verlede maand ʼn beleidsdokument gepubliseer het oor ʼn voorgestelde belasting van 20% op suikerversoete koeldranke vanaf April 2017, in ʼn poging om nie-oordraagbare siektes soos diabetes en hoëbloeddruk te verhoed.

Gutsche voer aan die koeldrankbedryf ondersteun 14 000 persone in Nelson Mandelabaai en talle ander in die provinsie. Hy het verduidelik arm mense sal ʼn oneweredige las dra en min voordeel hieruit trek.

“Nasionaal ondersteun ons meer as 200 000 poste. Indien dié belasting voortgaan, sal ons nagenoeg 60 000 poste kwyt wees in ons bedryf. Meer as 5 000 persone in Nelson Mandelabaai alleen sal hierdeur geraak word,” het hy bygevoeg. “Arm mense sal letterlik armer word en nie maerder nie, as ʼn gevolg van hierdie voorgestelde belasting.”

Mapule Ncanywa, uitvoerende direkteur van BevSA, ondersteun Gutsche in die versoek. Sy het gesê 97% van Suid-Afrika se vetsugprobleme het niks te doen met suikerversoete koeldranke nie, wat slegs 3% van daaglikse kilojoule-inname verteenwoordig.

Ncanywa het gesê vrywillige herformulering, verpakking, etikettering en ander verbintenisse wat reeds in Suid-Afrika toegepas word, sal ʼn groter impak hê om vetsug aan te spreek as die verwagte vermindering van slegs 37 kilojoules per dag weens belasting.

“Daar is beter maniere om die regering se doelwitte te bereik,” het sy gesê.

Ncanywa het gesê die koeldrankbedryf is ernstig toegespits op Suid-Afrika se ekonomie, met planne om te belê in 30 000 nuwe afsetpunte en die skep van 60 000 nuwe poste binne die volgende vyf jaar. Sy het gesê indien die bedryf bly groei, sal sy bydrae tot die belasting binnekort die verwagte inkomste van die suikerbelasting uitpresteer.

Glenn Sheppard, direkteur van Little Green Beverages, het gesê dit beteken hulle sal ʼn beduidende belegging in die uitbreiding van die Buffalo City-aanleg moet heroorweeg, wat 70 bykomende poste sou verseker. Hulle sal ook bemarkingsuitgawes moet sny, wat nasionaal ongeveer R50 miljoen beloop.

Nico de Jager, finansiële direkteur van Twizza, het gesê selfs in ʼn klein dorp soos Queenstown sal die voorgestelde belasting chaos veroorsaak, wat 815 persone afhanklik sal maak aan die staat vir hul inkomste en lewensonderhoud.

Lees alle vorige berigte oor die voorgestelde suikerbelasting op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Maddox ·

Net nog ‘n manier van steel deur die regering. Hoekom nie die kolonel se hoender en ander gemorskos ook belas nie?. Sekerlik maak dit net so vet soos suiker, en op die koop toe kan dit nog lekker die are ook verstop met cholesterol. Nee wat een van die dae sal ons seker nog belas word vir lug besoedeling as jy ‘n wind los. Die massas demand mos net, so iemand moet seker vir hulle betaal.

Frederik ·

As die tesourie dan nou so dringend geld soek, hoekom nie net BTW hef op die basiese voedselsoorte, wat tans BTW vry is nie. As ek die spul so sien toi-toi op Rooioog se TV , kan mens kwalik glo dat party so vet is, en dit is beslis nie van Coke nie.

Lance ·

Dis nou die manier waarop die anc werk skep …die wat nou die suiker sou koop het nou ook nie eers meer n werk nie ….boer lekker agteruit op alle gebiede selfs hulle aanhang verswak …maar hulle wil nie leer hoor of sien as daar gewaarku word nie (dalk ook maar beter so )…sal maar op harde manier seker leer as dit weer te laat is …

Kobus ·

Dis nie vetsug wat die probleem is nie. Dis die hebsugtige ANC wat als wil reguleer, wat lieg vir ons, vertel vir ons perde oemfe is vye. Hang ‘n ketting om iets se naam en jy kan dit belas in die naam van sonde. Dus pure geldsug van die ANC. Eintlik is dit die finansies minister.

Manuel het mos destyds so in die lug op gekyk, dan die oë gerol as hy die verhoging in die sonde belasting aangekondig het. Wat van kookolie, hoekom nie dit belas nie? Terug by suikerversoete koeldranke, waarom dan nie ook gebak en lekkers wat ook suiker bevat belas nie? Tjoklits.

Belas sommer die sukkerrietboer, dan spreek jy alle suiker verbruikers aan, ook daai ou wat vyf telepels suiker in sy koffie gooi.

Johann Marx ·

Enige regering het net 2 maniere om “inkomste” te genereer…donasies en belastings. Soos wat die vraatsug toeneem, moet die “inkomste” vergroot…en sien ons al hoe meer “taks” op die mees onbenullige, verskans as “dis tot voordeel van die nasie”. Ek was onlangs in Zim. Ry deur die grens en moet “lugbesoedelings-taks” betaal. As jy my ‘n “pad belasting” vra….kan jy die geld gebruik om die pad te onderhou. As jy my ‘n “water belasting” vra…kan jy dit gebruik om water te suiwer….maar “lugbesoedelings-belasting”? Het Zim êrens ‘n enorme lugversorings-eenheid wat “Zim se lug suiwer”? Nie? So waarheen gaan daardie “lugbesoedelings belasting”? Reguit in Bobbie se sak in….Ons is deel van Afrika, en die res is geskiedenis.

LA ·

Amal het hulle eie keuse wat hulle doen en drink of eet vet mense is nie altyd vet oor koeldrank of kos nie maak medies better dat hulle kan help kry beperk ons crime dat kinders we kan buit speel en kan rond hol en op hou in huise le

m ·

Hierdie is nou klug. Dis mos ma elke mens se eie saak as hy dan nou 5 telepels suiker in sy koffie wil drink en dis mos jou eie saak as jy wil oorgewig wees. Liewe hel wat hierdie mense nie ook sal uitdink om geld uit ons te tap nie. Word dit in die res van die wereld ook gedoen of net in hierdie siek land…..

johann ·

Weereens ‘n manier van die regering om ekstra fondse te kry om hulle te financier.
Diabetes en ander siektes sal nie verminder deur word deur belasting op suiker te sit nie.
Om gesond te eet vandag kos baie meer as om gemors kos te eet.
Kyk eerder na die kitskos plekke.
Maak gemorskos duurder, plaas ekstra belasting op dit eerder en maak gesonde kos goedkoper.
Om mense gesond te laat eet kan ‘n mens nie afdwing deur wette nie.
Hier is ‘n vraag wat mense al seker gehoor het…
Hoekom is Barney (purple dinosaur) wat kinders leer, vet?
Maar, Ronald McDonald maer?
Wonder maar net

Nico ·

As mense minder suiker koop, gaan hulle die besparing gebruik om ander dinge te koop.

Die ander dinge gaan weer nuwe werksgeleenthede skep.

Al wat gaan gebeur is dat 60 000 werksgeleenthede in die koeldrankbedryf na 60 000 werksgeleenthede elders gaan verskuif.

gerhard ·

Word wakker nico. dis werksgeleenthede wat gaan verdwyn. baie van daai mense het net ondervinding in die koeldrank bedryf. die regering is bankrot, hulle het al klaar al die geld gesteel, soek nog om te steel.

Moegviraldiebeloftes ·

miskien moet hulle sommer alles belas – want alles het suiker in en dis nie die suiker wat vet maak nie dis die wegneem etes, min oefening ens wat vetmaak. en wie kan die 60 000 bedank die CancER bank. wonder wat is volgende op die trog lys

Peet ·

Ek dink hierdie is ‘n goeie plan, oortollige suiker is baie ongesond en al die ernstige siektes waartoe dit bydra sit ‘n groot las op die gesondheidsdienste (maw ons belastinggeld). En om te se mense gaan werk verloor is ‘n swak argument, dis dieslefde om te se rook is OK want dit is werkverskaffing vir tabak plase.

Maggie van Zyl ·

Nee wraggies Peet, jy dink nie mooi nie… Suiker is nie ongesond nie. OORTOLLIGE suiker is ongesond, OORTOLLIGE enigiets is ongesond, maar hou dan net matigheid voor oë, Hou op om liters gaskoeldrank in jou keelgat af te gooi, hou op om so baie te eet, natuurlik gaan jy dik word en siek word. Maar dit sal grotendeels jou eie skuld wees, omdat jy nie matigheid voor oë kan hou nie. As jy weet jy mag nie suiker inneem nie, moet nie, eenvoudig. Wil jy eerder die mense nog meer vergiftig met die Aspertame en Asulfame-K en ander chemikalië wat hulle in die 0% en dieet koeldranke inprop….?? Werkloosheid is ‘n daadwerklike probleem. Miskien dink jy nie daaraan as jy lekker cozy agter jou lessenaar sit nie, maar onthou ‘n ou se lewe kan in ‘n oogwink verander… Elke persoon wat sy werk verloor, gaan sy blyplek verloor, die kinders gaan nie kan skool toe gaan nie, daar is nie geld vir skoolfonds nie, daar is nie kos op die tafel nie, so die wetteloosheid gaan vermeerder. Meer mense gaan begin roof… en by onwettige dinge betrokke raak, ens. dit is ‘n bose kringloop, en jy is OK daarmee?? Dink weer asseblief…

Johann Marx ·

Hahahah Peet jou ou yster….ek hou van hoe jy dink. Kom ons stop nie net by suiker en tabak nie…Kom ons verban alle karre, want hulle spoeg gifasse in die lug in, wat ek en jy in-asem. Kom ons verban alle graanprodukte want die mens se gestel is eintlik net gebou vir proteine volgens die “banters”. Kom ons verban alle geysers, want mense kan brand met warm water, en om ‘n geyser te laat werk nodig elektrisiteit en elektrisiteit nodig steenkool, en steenkool nodig steenkoolmyne, en mynwerkers word siek van steenkoolstof in-asem…..en dit sit ‘n las op ons gesondheidsdienste. En kom ons verban messe en vurke want dis wat mense gebruik om hulleself so oorgewig te vreet….hahahahaha….Peet, jy is awesome!!!

Johann ·

Ek stem saam met Maggie – TE VEEL van als is nie goed nie!

Jeanne ·

Ons het ‘n vreemde regering. HIer is juis so ‘n groot werkloosheidssyfer, maar hulle gaan nog veroorsaak dat 60 000 mense sonder werk sit en dit oor SUIKER-belasting? Dit bly steeds die indiwidu se keuse om suiker te gebruik, waarom mense belas daarop? Daar is egter BAIE ongesonder goed as suiker. EK sou my meer bekommer oor misdaad en werkloosheid as oor SUIKER.

johannes ·

Ek is ‘n diabeet en my dogter ook en nie een van ons het diabete geword agv oormatige suiker gebruik of omdat ons vet is nie.Ek het byvoorbeeld op 42 jarige ouderdom ‘n diabeet geword en my dogter op tien.
As ons suiker val dan sal ons gewone coke drink om ons suikertelling te laat styg.My opinie hieroor is dat dit net nog ‘n manier van die regering is om geld op ‘n “eerlike manier” te steel en om bedrog te pleeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.