60%-daling in toeriste in Wes-Kaap

Argieffoto (Foto: Aloysius/Pixabay)

Byna al die groot toeriste-aantreklikhede in die Wes-Kaap het meer as 60% minder besoekers gedurende die piekseisoen in Desember ontvang. Sommige het ʼn daling van meer as 80% beleef.

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sê die provinsie se ekonomie word lamgelê deur vlak 3-afsonderingsregulasies wat daartoe lei dat nog ondernemings byna daagliks hul deure moet sluit en meer Kapenaars by die dag hul werk kwyt is.

In ʼn laaste poging om die situasie te beredder gaan die minister nou voor die einde van die somerseisoen ’n skrywe aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, rig en versoek dat die regulasies ten opsigte van die aandklokreël, die sluiting van strande, die verbruik van drank in restaurante sowel as die proe en verkoop van drank by wynkelders en wynplase verslap word.

“Enige hoop op herstel gedurende die feestyd het verlore gegaan. Die somer is nog nie verby nie en ons het nog steeds die geleentheid om die voortbestaan ​​van ondernemings en werkgeleenthede in die Wes-Kaap te verseker. Dit kan egter slegs gebeur indien die beperkings dringend verslap word,” sê Maynier.

Data van die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap (Wesgro) toon dat 83% minder besoekers Robbeneiland gedurende Desember besoek het, vergeleke met die vorige Desembermaand.

Die Tafelberg Nasionale Park het op sy beurt 75% minder besoekers ontvang, terwyl die gewilde kabelkar na Tafelberg ’n 66,4%-daling in besoekers gedurende die feestyd beleef het.

Getal besoekers

Desember 2019

Getal besoekers

Desember 2020

Daling in besoekers (%)
Kirstenbosch Botaniese Tuin103 89279 907-23,1%
Robbeneiland 37 6806 175-83,6%
V&A Waterfront 3,39 miljoen1,71 miljoen-49,5%
Tafelberg Nasionale Park333 71682 452-75,3%
Tafelberg Nasionale Park: Boulders-afdeling86 55222 489-74,0%
Tafelberg Nasionale Park: Kaap die Goeie Hoop116 93035 812-69,4%
Tafelberg-kabelspoor110 22936 997-66,4%

Maynier sê dié data bevestig die desperate toestand van die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die Wes Kaap.

Om sake te vererger, wys die minister daarop dat die tweede golf gelei het tot strenger internasionale reisbeperkings en kansellasies deur lugdienste wat ook ’n ernstige uitwerking op die toerisme- en gasvryheidsektor gehad het.

“Die aantal internasionale reisigers was dus baie laer as wat aanvanklik vir die tradisionele spitsseisoen verwag is.”

Data van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (ACSA) toon dat die Kaapstadse Internasionale Lughawe die afgelope Desember slegs 19% van Desember 2019 se aantal internasionale reisigers ontvang het.

“Dit verklaar gedeeltelik waarom die hotelbedryf, wat baie afhanklik is van internasionale reisigers, steeds nie herstel het nie,” sê Maynier.

Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het terselfdertyd 51% minder plaaslike reisigers oor Desember ontvang.

Markdata oor die hotelbedryf toon dat Wes-Kaapse hotelle in Desember maar 32,7% vol was vergeleke met 68,1% in Desember 2019.

Soortgelyke syfers is in die Tuinroete en die Kaapse Wynlande aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariana ·

Dit is hul doel, om daardie besighede toe te maak met hul onsinnige regulasies. Deur strande toe te maak het nie net formele besighede hul deure toegemaak nie maar ook informele straatmarkte ens. Hulle gaan nog die vrugte pluk van hul besluite.

Ben ·

Wat de ongeluk help dit as die minister eers aan die einde van die somer iets wil doen. Dit kan mos nie waar wees nie.

Kokerboom ·

100% van ANC verstaan nie Ekonomie 101. Sny staatsuitgawes ook met 60%

Piet ·

Ons moet regtig ophou kerm oor die Covid-situasie. Dis nie asof SA uniek is nie, ALLE lande word ernstig geraak en die situasie daar is in baie gevalle baie erger en meer frustrerend as hier in SA.

Alet ·

Wil ook net sê baie toeriste plekke cater vir die buitelandse mark en RSA gewone burgers hou elders in die land vakansie omdat dit goedkoper is. En die Kaap is een van daai plekke wat vir die buitelandse mark cater. Julle is nou afhanklik van die Suid Afrikaanse mark. Dalk bietjie na julle sommetjies kyk.

My siening ·

Cyrel het jy al gekyk wat sit onder kopdoek van Dlamini zuma. O ekskuus sy en jou kaders is bo die wet ai wie is ons nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.