62 vas ná N3-betoging

Foto: ANA

Die gedeelte van die N3 in KwaZulu-Natal wat Woensdag ure lank gesluit was nadat betogers dié snelweg met vragmotors versper het, is Donderdag weer vir verkeer oopgestel.

Anita Heyl, woordvoerder van die N3-tolkonsessie, het Donderdag bevestig die N3 is by Van Reenenspas tussen Harrismith en die Tugela-tolhek in albei rigtings weer vir verkeer oopgestel nadat tussen 60 en 70 vragmotors weggesleep is.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder, het bevestig 62 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die voorval en sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld en die ontwrigting van verkeer.

Mbhele het gesê talle vragmotorbestuurders het Woensdag die N3-snelweg versper uit protes teen die indiensneming van buitelandse burgers.

Die swaar voertuie het gedurende die betoging oor ʼn afstand van 10 km in albei rigtings van die N3-roete opeengehoop, waarna ʼn groot volume verkeer herlei moes word. Mbhele sê geen skade is aangemeld nie en die polisie is steeds besig om die gebied te patrolleer.

Con Roux, die kommersiële bestuurder van die N3-tolkonsessie, sê druk verkeerstoestande in die gebied word vandag nog verwag, aangesien ʼn deel van die opeengehoopte verkeer teen Donderdagoggend nog moes deurbeweeg. Roux het ʼn beroep op vragmotorbestuurders en motoriste gedoen om ekstra versigtig en geduldig te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wessel ·

My maggies, maar nou verstaan ek glad nie…..die buitelanders is dan steeds van Afrika, en hulle hoort hier volgens sekere poltieke figure….(Dink maar aan diegene wat die geskiedenis anders vertolk met die emigrasie na die suide) Die stelling word mos gereeld gemaak tydens debatte ondom die grondkwessie!! ? Maw, hulle mag maar hier bly, maar mag nie werk nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.