ʼn 63-jarige man het oor die naweek by die Kalkbaai-hawe verdrink, wat die aantal verdrinkingsvoorvalle in Kaapstad sedert 1 Desember by 14 bring.
Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het die man, ʼn inwoner van Mitchells Plain, Sondag omstreeks 08:00 verdrink.
“Die man het van die kaai af in die water gespring en in die moeilikheid beland. Hy is deur ʼn werker by die hawe uit die water gehaal. Paramedici het noodhulp toegepas, maar die man is op die toneel dood,” het hy gesê.
Smith het gesê die aantal verdrinkings dié feesseisoen is kommerwekkend.
“Die aantal verdrinkings oor die feesseisoen is hartverskeurend, veral wanneer die omstandighede in vele van die voorvalle daarop aandui dat dit voorkom kon word.”
Hy het gesê 11 van die 14 voorvalle kan toegeskryf word aan mense wat glo buite die aangewese swemgebiede geswem het.
“Afgesien van die deurlopende opleiding en bewusmaking wat ons alreeds doen om te verseker dat die veiligheidsmaatreëls gevolg word, is ek nie seker watter bykomende stappe gedoen kan word om dit te voorkom nie. Personeel van die stad en bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ook gereeld die kus gepatrolleer in ʼn poging om mense na veiliger swemgebiede aan te wys,” het hy bygevoeg.