63 pikkies vrek op vreemde wyse

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SANParks Table Mountain National Park/Facebook)

Altesaam 63 pikkewyne van die Boulder-pikkewynkolonie by Simonstad in die Wes-Kaap is Vrydagoggend op ʼn raaiselagtige wyse dood. Dié diere is vermoedelik deur ʼn swerm bye getakel.

Die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad het in ʼn verklaring gesê die skielike vrektes het tussen Donderdagmiddag en Vrydagoggend plaasgevind.

Nog ʼn dooie pikkewyn is kort nadat die ander gevind is, in Vishoek aangetref.

“Die dooie voëls is dadelik na die Nasionale Stigting vir die Bewaring van Seevoëls (Sanccob) geneem vir nadoodse ondersoeke. Biologiese monsters is ook geneem wat vir siekte- en toksikologiese toetse gestuur is.”

Geen eksterne beserings is aanvanklik op enige van die voëls opgemerk nie, maar die nadoodse ondersoek het bevind dat al die pikkewyne verskeie bysteke opgedoen het.

Talle dooie bye is ook op die plek waar die pikkewyne gevrek het, gevind.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die pikkewyne wel gevrek het nadat hulle deur ʼn swerm Kaapse heuningbye gesteek is,” lui die verklaring.

Dit is onduidelik waarom die heuningbye die aanval op die pikkewyne sou loods.

Sanccob sal ondersoeke voortsit om enige oordraagbare siektes of ander moontlike oorsake vir die vrektes uit te sluit.

“Ons is dankbaar teenoor al ons bewaringsvennote wat gehelp het om hierdie ongewone gebeurtenis te ondersoek,” het Alison Kock, marinebioloog van SanParke, gesê.

“Geen dooie pikkewyne is sedertdien in die gebied gevind nie, maar ons sal voortgaan om die situasie te monitor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Plaaskind ·

Wat op dees aarde is pikkies? PIKKEWYNE….. asb wat word van ons mooi moedertaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.