‘66% leerders toets positief vir dwelms’

skoolskoene-2

Argieffoto.

Meer as 66% leerders wat onlangs tydens lukrake dwelmtoetse by hoër- en laerskole in die Wes-Kaap getoets is, het positief vir onwettige dwelmmiddels getoets.

Debbie Schäfer, provinsiale LUR vir onderwys, het in ʼn verklaring gesê hierdie statistieke is aanduidend van die omvang van dwelmmisbruik in sommige van die gemeenskappe in die provinsie. “Dit is veral kommerwekkend dat hierdie probleem nie net onder hoërskoolleerders voorkom nie, maar ook onder laerskoolkinders,” het Schäfer gesê.

Sy het verduidelik ʼn aantal dwelmtoetse is gedurende die eerste helfte van die jaar by verskeie skole gedoen waar owerhede ʼn vermoede gehad het dat leerders dwelms gebruik. Slegs leerders wat reeds van dwelmmisbruik verdink is, is getoets. Altesaam 360 laerskoolleerders van 36 skole is getoets en 228 van dié leerders het positief getoets.

Altesaam 605 hoërskoolleerders van 17 skole is vir dwelmgebruik getoets en hier het 415 van die leerders positief getoets.

“Ek is geskok deur hierdie resultate. ʼn Veilige leeromgewing is onontbeerlik indien ons gehalte-onderrig wil verseker en dit is daarom noodsaaklik dat ons skole dwelmvry bly,” het Schäfer gesê.

Sy het ouers aangemoedig om oplettend te wees vir tekens van dwelmmisbruik en ʼn goeie kommunikasieverhouding met hul kinders te handhaaf sodat dwelmgebruik vinnig opgemerk kan word. “Die meeste dwelmgebruik vind by die huis of in die gemeenskap plaas, maar die hartseer werklikheid is dat sommige leerders wel skool toe kom onder die invloed van dwelms of met onwettige dwelms in hul besit.”

Juis daarom ontbied die departement soms die polisie of ander wetstoepassers om soekoperasies by skole te doen. Skole is ook gemagtig om dwelmtoetse onder leerders te doen. “Indien ʼn leerder positief toets vir dwelms of alkohol, mag slegs die leerder en sy of haar ouers van die uitslag van die toets ingelig word. Die identiteit van die leerder mag ook nie bekendgemaak word nie, behalwe aan sy of haar ouers,” het Schäfer gesê.

Sy het gesê die departement het ʼn Veilige Skole-dwelmmisbruikprogram om skole te help om dwelmmisbruik onder leerders te bekamp en bewusmaking daarvan te skep. “Ons doen ons bes om bewusmaking te skep oor die gevare van dwelmmisbruik, maar hierdie probleem is simptomaties van die samelewing waarin ons leef. Ouers moet ook ʼn rol speel om die probleem aan te pak,” het Schäfer gesê.

“Daar is ondersteuning vir leerders en ouers beskikbaar en ek moedig hulle aan om al die beskikbare hulpbronne te gebruik sodat ons die vlaag van dwelmmisbruik in ons gemeenskappe kan beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gerda ·

Die opskrif is baie misleidend. Dit is 66% van die leerders wat klaar verdink was daarvan dat hulle dwelms gebruik, maar dit lyk of dit 66% van al die leerders is. As ek kyk na die hoeveelhede kinders en skole wat getoets is, is dit seker rondom 66% van 2% wat net 1.32% van leerders is. Dis nogsteeds te veel want kinders is nie veronderstel om hulleself met dwelms op te hou nie, maar dis baie ver van 66% af. En as die getoetsde kinders gekies is, is dit nie ‘n lukrake toets, soos in die eerste paragraaf nie.
Julle sal ouers hartaanvalle gee!

Cherokee ·

Heeltemal reg Gerda, dit is bloot 66% van kinders wat onder verdenking is en nie algemeen soos die opskrif probeer voorgee nie.

Leahim ·

Skerp Gerda,ek wens MM wil mense soos jy aanstel wat nie net kan onderskei tussen wit en swart nie maar die grys gedeelte ook sien.Ek hoop die word geplaas want ek het die S woord gebruik

Tegnies... ·

Dagga is nie dwelms nie. Dis n plant. As daai redenasie gevolg word dan is kafeïen, tabak en suiker ook dwelms

andre ·

Ek glo nie die kinders is vir suiker, tabak ens getoets nie

Koos1 ·

Tegnies, Alle dwelms word van een of ander plant of grondstof vervaardig.

Lion ·

@tegnies, tegnies is enige iets waaraan jy verslaaf kan raak “dwelms” . Suiker, nikotien ens, suiker en diabetes maak baie meer mense jaarliks dood as drugs.

Carel Wilken ·

Tegnies. Morfien is oorspronklik vervaardig van opium – afkomstig van opiumpapawers. Kokaiene is oorspronklik vervaardig van die kokaplant blare. Alkohol word oa. vervaardig deur gisting van verskeie plantsappe. Jy reken dus kokaiene en morfien is nie dwelms nie… Hoekom kry ek die indruk jy probeer voorbrand maak vir die wettiging van kannabis (dagga)?

andre ·

Geen wonder dat leerders nie kan vorder as hulle winddronk by die skool opdaag nie.

Paul ·

Die opskrif is ERG misleidend.

Let daarop dat die syfer van 66% slegs betrekking het op diegene wat enigsins getoets is. Slegs diegene wat reeds van dwelmmisbruik verdink is, is getoets. Dit het ook slegs in sommige skole – waarskynlik meestal in skole wat nie baie “goed” is nie, gebeur.

Met ander woorde, as daar 1 000 kinders per skool was, en die toetse het in 53 skole plaasgevind, was die totale groep 53 000 kinders. Van daardie groep is net 965 getoets met 643 wat positief getoets het. Dan is die koers van positiewe uitslae slegs 1,2%. En onthou, daar kan vals positiewes ook wees – dwelmtoetse is berus daarvoor dat dit vals positiewe kan gee.

Dis regtig ‘n ERG alarmistiese en misleidende opskrif.

marous ·

Doodreg. Die gebruiker moet tien keer harder geslaan word as die handelaar , dan sal daar geen mark wees vir die twak nie.

Cherokee ·

Ice, ek hou van jou tegniese beskrywing van wat hy is. Jy het dit net in kort gesê en kon eintlik nog ‘n paar snaakse karakters bygevoeg het. Jy is heeltemal reg met wat jy gesê het.

PC van Rooyen ·

Hou op om te redeneer oor tegnies, plante en persentasies. Wat met ons jongmense aangaan is ‘n krissus. Dit help nie om tegniese redenasies te hê en elke dag hoor ons van ouers wat moedeloos is oor kinders wat net doen wat hulle wil. Moenie Skoolhoofde en onderwysers die skuld gee nie. Dit skuld lê in die gemeenskappe en die ouers en polisie weet dit. Neem verantwoordelikheid oor wat onder jou eie dak aangaan. Hou op om ander mense te blameer. Begin weer huisgodsdiens hou.

John ·

In die ou dae het die onnies gou die rotang ingespan en die dwelms het dadelik tot nuwe insae gekom en die pad gevat… Deesdae moet die onnies die pad vat as hulle net in die rigting van die rotang durf kyk.

Marilize ·

Dwelms is groot probleem en ouers lewe onder n wanindruk. Daar is waarskynlik meer as 50% van hoeerskool leerlinge wat dwelms gebruik. hetsy dit onwettige of wettige dwelms soos pynmedikasie is. Ons het amper ons kind so verloor, gebaklei vir sy lewe en hom gestuur na goeie langtermyn rehabilitasie. En glo my, ons het deur hel gegaan. So as jy iets vermoed as ouer, jy is waarskynlik 90% korrek, jou kind gebruik iets. En glo my, hulle sal jou allerhande slim storietjies vertel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.