7 beseer in ontploffing by staalaanleg

staalbedryf seifsa

Argieffoto: Hera.org.nz

Minstens sewe werkers is beseer toe ʼn smeltoond by ʼn staalaanleg in Nigel aan die Oos-Rand glo die afgelope naweek ontplof het.

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het gesê die voorval het Saterdag tydens die aandskof by Fortune Steel plaasgevind. Volgens die vakbond kom dié voorval minder as 24 uur nadat Numsa Vrydag ʼn betoging teen die maatskappy gehou het.

Fortune Steel is deel van die Fortune-groep, ʼn staalmaatskappy wat in Indië gebaseer is. Numsa beskuldig die maatskappy daarvan dat hy basiese gesondheids- en veiligheidswette oortree, asook arbeidswetgewing ignoreer.

Numsa het daarop aangedring dat die maatskappy se bedrywighede gestaak word totdat ʼn ondersoek deur die departement van arbeid gedoen kan word en die departement die werksomgewing as veilig kan verklaar.

“Een van die werkers wat in die ontploffing beseer is, is in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Alberton nadat hy veelvuldige beserings aan sy kop, bors en arms opgedoen het. Soos gewoonlik het die bestuur probeer om hierdie voorval toe te smeer,” het Phakamile Hlubi-Majola, Numsa se waarnemende nasionale woordvoerder, gesê.

“Hulle het geweier om ʼn ambulans te ontbied en het probeer om die beseerdes self in private voertuie te vervoer. Dit is eers ná die ingryping van die plaaslike polisie dat die werkers mediese sorg deur ambulanse ontvang het. Die bestuur het die vermetelheid om die voorval af te maak as ʼn geringe werkplekkwessie.”

Fortune Steel was nie onmiddellik beskikbaar om op die bewerings te reageer nie.

Hlubi-Majola het gesê indien die departement van arbeid in Nigel die werkers by Fortune Steel se besware al vroeër ernstig geneem en ingegryp het, sou hierdie voorval nooit gebeur het nie. “Fortune Steel toon ʼn totale minagting van die welstand van werkers en hul veiligheid. Numsa veroordeel die departement van arbeid omdat hulle versuim het om die werkers te beskerm,” het sy gesê.

Sy beweer Numsa is bewus van minstens 70 gevalle van onregmatige afdanking en minstens 19 gevalle waar werknemers afgedank is omdat hulle aan diens beseer is, maar nooit vergoeding ontvang het nie.

“Numsa dring daarop aan dat Fortune Steel onmiddellik gesluit moet word totdat ʼn volledige ondersoek deur die departement van arbeid gedoen is wat bevestig die omgewing is veilig om in te werk. Numsa doen ook ʼn beroep op die Indiese ambassade om na aanleiding van hierdie kwessie in te gryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johnnie ·

Die plek behoort seker maar aan die guptas of aan zuma se seun dis hoekom daar niks gedoen word om hulle aan te vat deur die departement nie.

Kobie ·

Alles goed en wel Numsa. As die bestuur gehoor gee en die plek sluit sal julle seker vir al die wekers sorg vir ‘n heenkome.

Anoniem ·

Kobie. Sal jy in n plek werk waar jou lewe bedreig word of is dit maar ok met jou as ander hul lewens moet verloor sodat jy die gerief kan benut van wat hulle vervaardig met daai staal. Indien jy ja stem is jou hande net so vol bloed soos die van moordenaars. Elke mens het die reg tot veilige werksomstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.