‘7 de Laan’ se David Rees terug in hospitaal

David Rees is weer in die hospitaal opgeneem. (Foto: David Rees/Instagram)

David Rees, die geliefde sepieakteur, was maar skaars ʼn week terug by die huis toe sy gesondheid weer ʼn knou gekry het.

Sy woordvoerder, Corlia Strauss, het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat David weer in die waakeenheid opgeneem is weens ʼn erge longinfeksie en ʼn versteurde hartritme.

“Hy is nog swak, maar verbeter elk dag,” het Corlia gesê.

David, wat die rol van Chris Welman in 7de Laan vertolk, het op Sondag 30 Julie ʼn hartaanval gehad en moes kort daarna ʼn dubbele hartomleiding ondergaan. Hy is op 26 Augustus ná byna ʼn maand in die Milpark Hospitaal in Johannesburg ontslaan.

Sy jongste terugslag so kort na sy ontslag uit die hospitaal was nie net ʼn skok vir sy geliefdes nie, maar ook vir die aanhangers van die akteur.

Volgens ʼn plasing op David se Instagram-rekening is sy gesondheidstryd moeisaam, maar Corlia sê David bly positief en sien met groot afwagting uit na sy terugkeer huis toe.

“Die instroming van ondersteunende boodskappe en goeie wense bly ʼn bron van krag vir David, en ons reik uit vir voortgesette bystand om David se genesing te fasiliteer,” het sy gesê.

David behoort nie aan ʼn mediese fonds nie, en na sy eerste hospitaalbesoek het sy suster Monique ʼn Back a Buddy-blad gestig om sy mediese uitgawes te dek. ʼn Doelwit van R500 000 is op die blad gestel en skenkings van net minder as R90 000 is reeds ontvang. Om tot David Reeds se fonds by te dra, volg die Back a Buddy-skakel of stuur ʼn e-pos na [email protected].

“Geen skenking is te klein of te groot nie, elke gebaar van goedhartigheid beteken die wêreld. In hierdie uitdagende tye kan die krag van gemeenskap nie méér beklemtoon word nie. Met eenheid kan ons werklik wonderwerke vermag en lewens aanraak,” sê Strauss.

“Ons waardeer die geduld, liefde en begrip in hierdie tyd. Ek waardeer die liefde en ondersteuning ongelooflik baie,” het Rees gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Duck ·

Ek kry sommer ‘n naar gevoel op my maag as ek dink aan mense wat nie mediese fondse het nie, ek betaal wel deur my nek aan ‘n fonds maar die gemoedsrus maak op daarvoor. Sterkte ou bul!

Bolandse Nooi ·

Wel, ek het nie ‘n mediese fonds nie, en maak gebruik van staat-mediese sorg, waaroor ek nie kan kla nie. Mediese fonds-lidmaatskap is ook nou nie die alfa en die omega nie. Nodeloos om te sê, ek bly in die Wes-Kaap.

Faraway ·

Duck . . . Daar’s baie van ons en glo my dis net genade van bo wat mens elke dag dra. Al werk ek, kan ek dit ook nie bekostig nie – nie eers net n hospitaalplan nie, al wil ek hoe graag!

Rocco ·

Ek stem saam met jou. Geen DSTV, en die jongste motor vir my nie, maar betaal getrou my maandelikse mediesefonds bydrae. Wil nie bakhand by ander staan nie

Althes ·

My hart gaan uit juis omdat hierdie familie nog finansiële trauma beleef bo-op sy sy gesondheidsuitdagings.

Papsak ·

Ag nee rerig sterkte jy in al jou programme so mooi gespeel GOD sal jou spaar vir ons glo dit sterkte

bolletjie blom ·

Ek behoort aan die maatskappy vir wie ek werk se medies. Ons is verplig om aan die medies te behoort. Ek is nie vir een dag spyt nie want dit sorg dat ek die beste behandeling kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.