7 dood in ongeluk ná Sani2C

Die KAP Sani2C-bergfietswedren. (Foto: Facebook via @Sani2c)

Die organiseerders van die KAP Sani2C-bergfietswedren, wat Saterdag in Scottburgh, suid van Durban, tot ʼn einde gekom het, het bevestig sewe van sy organiseerders is dood toe hulle die aand in ʼn trompop botsing betrokke was.

Die ongeluk het omstreeks 18:45 op die R612 naby Umzinto gebeur. Ses van die passasiers is op die toneel dood verklaar, waarna ʼn sewende passasier in die GJ Crookes-hospitaal in Scottburgh gesterf het.

Glen Haw, stigter van die Sani2C en ʼn suiwelboer van die Ixopo-gebied, het gesê hy is platgeslaan deur die nuus. “Ons is steeds so geskok oor hierdie aaklige ongeluk wat die lewe geëis het van sewe van ons personeel wat lank op my plaas en by Sani2C gewerk het. Ons is hartseer oor hul families se verlies, asook die verlies vir Sani2C en die Ixopo-gemeenskappe.”

Die KAP Sani2C-bergfietswedren strek oor ʼn uitmergelende 265 km, van die Drakensberg tot in Scottburgh, en vind oor drie dae plaas. Die manswedren is deur die PYGA Euro Steel-duo Matthys Beukes en Phil Buys gewen. In die vrouewedren het Sam Sanders en Robyn de Groot van die Dormakaba-span die wenstreep eerste oorgesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Helena. ·

Baie baie tragies..simpatie met al die families en almal betrokke.

Sophia ·

Dit is verskriklik, my innige simpatie met die naasbestaandes! Ook vir die groot verlies by Sani2C en Mnr Glen Haw.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.