7-jarige kankerpasiënt met baanbrekertegniek behandel

Foto ter illustrasie. (Foto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Die radioterapieafdeling by Netcare Unitas-hospitaal in Centurion het vir die eerste keer in Suid-Afrika ʼn sewejarige seun se leukemie met volumetriese boogterapie behandel. Dié terapie stel dokters in staat om die hele liggaam te bestraal en chemoterapie in enkele sessies toe te dien, terwyl die pasiënt gemaklik kan lê.

Die seun se hele liggaam is deur die loop van drie agtereenvolgende dae met ʼn kursus van bestraling en chemoterapie behandel. Dié behandeling het kankerselle in die seun se bloed vernietig voor hy die beenmurgoorplanting ontvang het.

“Sover ons weet, is dit die eerste keer in Suid-Afrika dat ʼn leukemie-pasiënt behandel word met behulp van volumetriese boogterapie voor ʼn beenmurgoorplanting,” sê dr. Sheynaz Bassa, kliniese en bestralingsonkoloog by Netcare Unitas-hospitaal.

Leukemie is ʼn kanker wat in die beenmurg ontstaan en kom dikwels by kinders voor. Indien die kanker terugkeer, word ʼn beenmurgoorplanting gedoen en kankerselle moet eers verwyder word om die sukses van die oorplanting te verhoog.

Bassa sê dat ʼn kombinasie van bestraling en chemoterapie tradisioneel gebruik word om die hele liggaam te bestraal, maar dat pasiënte dikwels vir lang tydperke in ongemaklike behandelingsposisies moet sit. Dit verg ook omslagtige loodblokke om belangrike organe, soos die radiosensitiewe longe, te beskerm. In die proses word die akkuraatheid in die bestralingsdosis vir hierdie organe verminder en pasiënte het nie die voordeel van gerekenariseerde tomografie-skandering nie.

“Nuwer, meer gevorderde tegnologieë soos volumetriese boogterapie maak dit moontlik om die hele liggaam meer doeltreffend te bestraal. Hierdie terapie is vinniger, makliker en gee ons inligting oor die organe wat ons probeer beskerm, wat dit aansienlik veiliger maak,” sê Bassa.

“Loodblokke is ook nie meer nodig nie, aangesien die volumetriese boogtegnologie die vermoë het om deurlopend velde om die organe te vorm.”

Volgens Bassa kan die dosisse vir elke orgaan vooraf bepaal en verander word, wat die waarskynlikheid van newe-effekte by pasiënte aansienlik verminder.

“Volumetriese boogbestraling stel ons in staat om die beplande behandeling vooraf te visualiseer met behulp van die driedimensionele beeldvorming.”

Bestralingsterapiebeplanners het eers omvattende navorsing gedoen voordat besluit is om volumetriese boogtegnologie op die seun te gebruik.

“ʼn Simulasiedag is gereël om die pasiënt aan sy behandelingspan voor te stel en hom gemaklik te maak om alleen in die behandelingsbunker te wees,” sê Bassa. “Die behandelingsbunker het oudiovisuele toerusting, wat die span en ma van die kind gehelp het om tydens die behandeling met hom te kommunikeer. Dit het ook die bestralingsterapeute in staat gestel om die pasiënt te sien tydens behandeling, wat ’n bykomende vlak van veiligheid bied.”

Die seun se ma sê dat die behandelingspan vinnig die vertroue van haar seun gewen het en dat die simulasiedag sy angs tydens die behandeling verminder het.

“Dit is bemoedigend om ons jong pasiënt suksesvol te behandel deur dié nuwe tegniek,” sê Bassa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.