7 kitsfeite oor jongste ‘Toks & Tjops’

Rikus de Beer is een van die nuwe aanbieders van ‘Toks & Tjops’. (Foto: verskaf)

Die twaalfde seisoen van die gewilde rugbygeselsprogram, Toks & Tjops, skop vanaand (10 Februarie) af – dié keer op ’n splinternuwe stel met ’n spoggerige nuwe baadjie.

Hier is sewe feite oor die jongste seisoen van Toks & Tjops voordat jy later vanaand voor die kassie, of eerder by die losie, inskuif.

’n Hele paar nuwe gesigte

Rikus de Beer (Radio Raps), Hamilton Wessels en Rika Nieuwoudt sluit dié seisoen by Breyton Paulse en Janina Oberholzer as aanbieders van die program aan.

Hulle sal op weekliks op roterende basis aan’t stuur van sake wees.

Welkom in die losie

Die 12de seisoen skop op ’n splinternuwe stel, ’n kroeg wat bekend staan as “die losie”, af. Oud-rugbytruie van Jean de Villiers en Breyton Paulse sal op die mure van die nuwe stel pryk.

’n Nuwe temalied

Toks & Tjops skop vanjaar met ’n nuwe temalied, geskryf en opgevoer deur Robbie Wessels, af.

’n Paneel kenners

Die nuwe formaat van die program sluit ook ’n paneel kenners, gelei deur Breyton Paulse, in.

Voormalige Springbokkaptein, Jean de Villiers, voormalige Springbokspeler, dr. Jannie du Plessis en Jonathan Mokuena vorm deel van hierdie paneel kenners.

Vaaitjie hou steeds die kole warm

Braaimeester, Tommy Dickson, alombekend en -geliefd as Vaaitjie, hou die kole steeds lekker warm en sal deur die loop van die seisoen heerlike disse voorberei.

Neem ’n bietjie deel

Die weeklikse gehoor in die ateljee gaan voorts ook meer betrek word by die regstreekse uitsending van die program.

’n Span met ’n plan

Liebie Opperman, vervaardiger van Toks & Tjops beloof ’n dinamiese span wat weekliks die program op die lug sal sit.

“Ons trek ’n nuwe baadjie aan, maar die hart van die program bly dieselfde.”

  • Toks & Tjops se 12de seisoen skop Vrydag 10 Februarie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Agge nee ·

As ek in hierdie tydsgleuf gaan bad, gaan ek niks mis nie.

Pieter9 ·

Met Radio Raps se man daar is daar geen manier dat ek sal kyk nie. Begin van die einde vir Toks en Tjops. Kon nie ‘n swakker keuse gemaak het nie.

Sandra ·

Hoe kan hulle nog Toks se naam gebruik as hy nie meer daar is nie? Dis baie “lame”. Kon daar nie ‘n nuwe naam uitgedink word nie? Eish!

Pieter9 ·

Die Toks is eintlik nie verwysend na Toks vd Linde nie maar na die rugby skoen wat ons almal ook’ Toks ‘noem. Ek het aanvanklik ook gedink dit is na Toks die persoon venoem.

Pieter9 ·

Dit is nie na Toks die persoon vernoem nie maar na die rugby skoen ‘Toks’ – ek het ook gedink dat dit na die persoon vernoem is, maar dit is nie.

AmY ·

Klomp Leeuhaters. Gaan bad eerder in daai tyd. Hierdie sal beslis die laaste seisoen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.