7 miljoen doen binne ʼn week aansoek vir R350-toelaag

Talle mense staan in ʼn ry vir die R350-Covid-19-toelaag buite die Mdantsane-poskantoor in Oos-Londen (Januarie 2021) (Foto: Nombulelo Damba-Hendrik/GroundUp)

Deur Marecia Damons/GroundUp

Brenda Sibeko, adjunk- direkteur-generaal van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het gesê sewe miljoen mense het reeds vir die R350-toelaag aansoek gedoen sedert aansoeke verlede Saterdag oopgemaak het.

Kragtens nuwe regulasies onder die Wet op Maatskaplike Bystand, moet begunstigdes weer aansoekdoen vir die toelaag. Die nuwe regulasies diskwalifiseer enigiemand wat R350 of meer per maand verdien – ʼn syfer wat afwaarts aangepas is van R625.

ʼn Inkomste van R625 per maand, die broodlyn, word beskou as die minimum vereiste om aan kosvereistes te voldoen.

Burgerregtegroepe het die afwaartse aanpassing van die beperking skerp veroordeel en gewaarsku dat talle mense wat die toelaag benodig, uitgesluit sal word.

Black Sash, die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid en Maatskaplike Beleidsinisiatief en #PayTheGrants het saam met ander organisasies in ʼn gesamentlike verklaring gewaarsku dat “honderde duisende” begunstigdes gediskwalifiseer sal word van bystand waarop hulle die afgelope twee jaar staat gemaak het om te oorleef.

Sibeko het egter Donderdag in ‘n persverklaring gesê die departement se huidige begroting het slegs ruimte vir 10,5 miljoen mense per maand. Volgens Sibeko leef meer as 18 miljoen mense onder die broodlyn van R625 per maand en 13 miljoen het geen inkomste nie.

“As ons die drumpel plaas op ‘geen inkomste nie’, oorskry ons reeds ons begroting wat slegs ruimte het vir 10,5 miljoen mense per maand.”

Sy sê die departement sal egter die drumpel monitor en sal dit aanpas gebaseer op die beskikbare begroting.

Goedgekeurde aansoekers hoef nie elke maand weer vir die toelaag aansoek te doen nie, maar die data sal maandeliks gemonitor word om te bepaal of die aansoeker steeds kwalifiseer. Aansoekers sal ook elke drie maande moet bevestig dat hulle steeds die toelaag benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Mis die media dit dat die “tydelike” noodtoestand toelae blykbaar nou so hush-hush permanent gemaak is en SA net nog verder as terminaal siek welsynstaat die afgrond instoot?

SjN ·

Laat die werkloses wat Medies geskik is help slaggate herstel , rommel verwyder en stormwater slote skoonmaak in ruil vir die toelaag. Werkskepping wat Al jare beloof word deur die kaders.

Misky ·

Werkloosheid is kommerwekkend in ons land en intussen groei die aanwas net. Kry kinders by dosyne en gaan staan bakhand by Sassa elke maand. Dit stop eenvoudig nie.

Antoinette ·

My dogter het met die eerste R350 aansoek gedoen en nog nooit n sent van dit gekry nie.
Elke keer as sy navrae doen dan se hulle sy moet weer aansoek doen. So sy het seker al 30 keer aansoek gedoen en nog niks ontvang nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.