7 sterf in Jhb-brand: ‘Gebou moet gesloop word’

Foto: Johannesburgse nooddienste

Fikile Mbalula, minister van polisie, het gesê die Cape York-gebou in die Johannesburgse middestad wat Woensdag deur ʼn reuse brand verswelg is, moet gesloop word.

Dit kom nadat minstens sewe mense dood is en 50 mense gered moes word nadat ʼn brand by die gebou in Jeppestraat ontstaan het. Maroela Media het vroeër berig die brandweer en nooddienste is omstreeks 09:00 na die gebou ontbied. Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê ʼn man is dood nadat hy uit die brandende gebou gespring het. Die liggame van nog ses mense is in die gebou gevind.

Die gebou het geen elektrisiteit, watertoevoer of enige vorm van sanitasie nie.

Mbalula, wat tans ʼn Interpol-konferensie in Singapoer bywoon, het in ʼn verklaring gesê hy het onlangs die Cape York-gebou, wat deur inwoners “Mnyamandawo” genoem word, besoek. Mbalula het tydens sy besoek aan die gebou gesê dit is onbewoonbaar.

“Daar is baie geboue in die Johannesburgse middestad wat nie veilig is vir mense om in te bly nie. Die Cape York-gebou moet gesloop word. Dit is ʼn risiko vir diegene wat daar bly, maar ook vir die inwoners van Johannesburg,” het Mbalula in ʼn verklaring gesê.

“Misdadigers gebruik hierdie ou, onveilige geboue om dwelms te verkoop, te verkrag, te moor en allerhande onwettige aktiwiteite te doen,” het Mbalula bygevoeg. Hy meen dat hy saam met die Stad Johannesburg sal werk om Johannesburg se middestad weer veilig te maak. Hy het ook gesê hy beplan om met Herman Mashaba, die burgemeester van Johannesburg, te vergader ná sy besoek aan Singapoer om die sloping van die gebou te bespreek.

“Toe ek op die besoek by die gebou was, het ek inwoners van verskillende dele van die land asook buurlande ontmoet. Wettige- en onwettige immigrante wat na Johannesburg gekom het, op soek na werk. Hulle bly uit desperaatheid in die geboue,” het Mbalula gesê. “Dit is hoekom ons saam met die stad en die relevante departemente moet werk om die kwessies aan te spreek. Ek bied my innige meegevoel aan die families en vriende van dié wat oorlede is in die brand. Ons is dit aan hulle verskuldig om Johannesburg weer ʼn veilige stad te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

MeisieMens ·

“Wettig- en Onwettige imigrante”… So ons minister van Polisie het die onwettige immigrante ontmoet en alles net daar gelos. Almal is welkom in SA. Wettig of onwettig. Bring allerhande onwettige dinge saam, en dis alles welkom!

Helene Heyns ·

Mbalula moet gaan kyk hoe word onwettige immigrante in lande soos Australië, Kanada en Amerika gejag en hul het nie die helfte probleme wat ons hier het nie.

Bertha Phillips ·

Ek dink soos in ander lande behoort daar behoorlike beheer te wees wanneer buitelanse mense land binne kom. Dis net logies dat paierwerk in orde moet wees – bewys van wie hul besoek en waar hul gaan woon. Werkspermitte met kontrakperiodes. Die mense is besig om geweldige druk op ekonomie en mediese en voedselvoorraad te plaas. Misdaad moet noodwendig toeneem – die mense moet eet. Maatskappye en privaat mense wat hierdie mense sonder behoorlike papierwerk in diens neem behoort vervolg te word.

Potlood ·

1. Jy ontmoet mense wat jy weet onwettig is in ons land, en jy as polisie doen niks…?
2. hierdie gebou (e) was spog gewees op ‘n tyd, hoekom is dit nou in so toestand…?
3. aan wie behoort die gebou…?
4. wie gaan betaal vir die sloping…?
5. klink maar weer vir my soos baie praat en niks se wat waarde voeg!!

Hans ·

Wonder net hoekom die owerhede nie die eienaars van die gekaapte behulpsaam is nie om die onwettige intrekkers uit te kry.

HARRY ·

Let wel Mbalula het met sy besoek aan die gebou gese die gebou is onbewoonbaar?Die gebou kan mos nie hoor nie.

TM ·

Ek het dieselfde raakgelees. Miskien is die gebou se gevoelens seergemaak en sal hy self padgee.

Anoniem ·

Konfiskeer net eers al die dwelms en sloop dit saam met die gebou.

jannie ·

Dit is vir my baie hartseer om Johannesburg vandag te sien. Het daar in die laat 70s en vroee 80s gebly. Was spog wereld stad. Voel jammer vir die eienaars van eiendom

F ·

Dit is maar dieselfde as Schubart Park in Pretoria ons het as kinders daar gebly dit was wonderlik en kyk nou hoe lyk dit dit is hartseer

broos ·

en wanneer julle Jhb weer veilig gaan maak, gaan julle die onwettiges terugstuur waar hulle vandaan gekom het???

bee ·

hele Jozi en Hillbrow moet maar gesloop word; dis totaal in verval; of beter bou n muur om dit ; dis belaglik die verval; niemand doen niks aan niks nie.

Leslie ·

Daar gewerk in die sewentiger jare. Was so pragtige stad. Gereeld by “klas OK ” na werk gou ingegaan en oulike oorbelle gaan koop. By Topics pragtige klere gekoop. Ai nee dit breek my hart om die Goudstad so te sien. Te bang om net deur die stad te ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.