7 vas vir 3 se ontvoering

Argieffoto

Die polisie in Gauteng het Donderdag sewe mense in hegtenis geneem wat met drie voorvalle van ontvoering in dié provinsie verbind word.

Dit volg nadat die polisie vroeër vandeesweek ʼn volwasse man, wat vroeër in Eldoradopark ontvoer is, uit die huis van sy ontvoerders gered het. Die polisie wou op navraag oor dié voorval nié meer inligting bekend maak nie.

Lt.kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê ʼn taakspan wat lede van die Valke en die polisie se honde-eenheid insluit, het Donderdag toegeslaan op drie huise in South Hills in Johannesburg.

Sy sê vier mans en ʼn vrou is in een van die huise waar die verdagtes glo die ontvoerde slagoffers aanhou, in hegtenis geneem. Die polisie het ook by dié huis beslag gelê op selfone en ʼn onbekende bedrag geld.

Muridili sê nog twee mans is by ʼn ander huis in hegtenis geneem. Die mans was ook in die besit van ʼn gekaapte motor en ʼn gesteelde wapen. Die voertuig, ʼn Volkswagen Polo wat ʼn valse registrasienommer gehad het, is op 15 April in Mondeor (ook in Johannesburg) gekaap.

Volgens haar word die groep verbind met ontvoerings in Eldoradopark, Cullinan en Alberton. Al drie slagoffers is in April ontvoer, maar dié van Cullinan en Alberton is intussen vrygelaat. ʼn Motief vir die ontvoerings is nie bekend nie.

ʼn Polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hilda ·

Uitstekend! en dit so reg onder ons almal se neuse! Baie bly die skurke is vasgetrek en hoop die julle kring sit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.