72-jarige man sterf ná val deur dak

ER24-ambulans Foto: ER24

ER24-ambulans Foto: ER24

ʼn 72-jarige man is dood nadat hy deur die dak van ʼn gebou in Langlaagte, Johannesburg, geval het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die man was glo ʼn aandeelhouer in die besigheid wat bande en motoronderdele verkoop. Hy het saam met ander mense op die dak geklim om iets te ondersoek.

“Toe paramedici omstreeks 18:00 by die toneel opdaag, het hulle die man gevind waar hy op ʼn stoel gesit het. Kollegas en vriende het aan die paramedici verduidelik wat gebeur het,” het Vermaak gesê. Die man was baie deurmekaar en die paramedici het hom dadelik begin ondersoek.

“Terwyl hulle besig was om hom te behandel, het die man se toestand skielik versleg en hy het geen tekens van lewe getoon nie. Die paramedici het onmiddellik noodhulp op hom toegepas, maar ten spyte van hul pogings is hy later op die toneel dood verklaar.”

Volgens Vermaak het die man veelvuldige breuke opgedoen en vermoedelik gesterf weens inwendige beserings. “’n Nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van die dood bepaal,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.