72-jarige sit ‘handsakdiewe’ agterna

Argieffoto

Argieffoto

“Julle gaan dit nie aan my doen nie,” het ʼn 72-jarige vrou aan twee boewe gesê nadat hulle haar handsak gegryp en sy besluit het om terug te baklei.

Yvonne Viljoen het Woensdag omstreeks 16:00 na Boyesweg vir ʼn saamrygeleentheid gestap aangesien haar motor in was vir ʼn diens, het sy aan News24 gesê. Viljoen, wat aktief bly deur fiets te ry, te swem en met haar honde te stap, moes ʼn stel trappe klim om by die plek te kom waar haar saamrygeleentheid gewag het.

“Ek het opgekyk en gesien hoe twee jong en goedgeklede mans op pad af was. Ek het vir hulle gewag aangesien die trappe baie nou is.” Een van die mans het vir haar gesê sy kan maar die trappe begin klim aangesien daar genoeg plek is. Volgens Viljoen het een van die mans aan haar hangertjie geraak en beleefd gevra: “Sal jy dit nie graag vir ons wil gee nie?”

“Hy het toe na my handsak gewys en gevra of ek dit vir hulle sal gee. Ek het geantwoord: ‘Nee, julle gaan dit nie aan my doen nie.’” Een van die mans het die band van Viljoen se handsak gegryp en dit begin trek. “Ek het hom in die maag geskop maar ongelukkig nie hard genoeg nie. Hy het sy balans verloor maar kon daarin slaag om my handsak te gryp en te hardloop.”

Volgens Viljoen het sy eers gedink om die mans te los waarna sy besluit het dat sy wel haar handsak terug wil kry. “Ek het om hulp geskree en agter hulle begin aanhardloop.” Viljoen het die twee mans in ʼn stegie opgemerk. “Ek het na hulle toe gegaan en my eiendom terug gevra. Ek het my handsak se band gegryp en ʼn toutrekkery het ontaard. Die man het gewen en hulle het in die rigting van Mainweg gehardloop.”

Viljoen het weer agternagehardloop. Sy het intussen haar buurman se seun gewaar en vir hom geskree wat gebeur het. Hy het saam met Viljoen die mans agternagesit. ’n Motoris het intussen ook gesien wat gebeur en by die jaagtog aangesluit. Die groep het die mans gevind waarna Viljoen se buurman se seun en die motoris hulle vasgekeer en uitgetrap het.

Die mans het die handsak teruggegee en om verskoning gevra. “Ek was net bly om dit terug te hê.” Lede van ʼn private veiligheidsmaatskappy het die twee mans in hegtenis geneem en na die Muizenberg-polisiestasie geneem.
“Ek dink hulle het hul les geleer. Hulle sal sekerlik twee keer dink voor hulle weer bejaardes in die toekoms teiken,” het Viljoen gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

CHRISTA ·

Die Engelse sê altyd: “Give that guy a Bells”. Ek sê: “Gee daai tannie ‘n Witblits!!!” Goed so vir jou tannie Viljoen! Ek het gister gesê ons moet self begin optree teen misdaad in ons land en hier is ‘n dame (IN HAAR 70’S) wat hulle goed bykom!! Dankie ook aan haar bure wat haar gehelp het en die onbekende motoris!

Anoniem ·

Baie dapper van mev Viljoen en alles het goed af geloop. Ek beveel dit egter glad nie aan nie want die handsak kon haar lewe gekos het indien hulle wapens gehad het. Geen handsak is
‘n kosbare lewe werd. Indien begin met agtervolging kry hulp wat gelukkig in die geval gebeur het. Hoop hulle kry nie net waarskuwing van SAP nie maar ‘n gepaste vonnis.

Berhalet Beukes ·

Jy verdien ‘n medalje oumatjie! Laat dít vir die misdadigers ‘n les wees!

Irene ·

Al wat ek kan sê is gee daardie tannie ‘n bells nee wag sommer twee.

EMK ·

Mooi so! Ek is al twee keer “probeer” aangeval deur gemors maar het ook nie flou geword nie. Ek het hulle vinnig laat verstaan wie is wie. Vrouens moet fiks bly en bietjie selfverdediging leer, dis nonsens dat sulkes dink hulle kan net mens se goed gryp. Die tannie kort sommer ‘n ontwerpershandsak en ‘n lekker koppie tee met ‘n groot stuk koek daarby!!

CJAN ·

Skitterend Ouma Yvonne. Die Polisie MOET by u kom leer hoe om diewe te vang.

zahn ·

Kruisig my soveel julle wil, ek gee nie om nie, maar die twee skollies kort ‘n paar warm klappe. Nie teen hul menseregte nie, maar teen hul koppe! Mooi so tannie, en die twee manne wat gehelp het.

Ben ·

Ek is ook oud, maar ek dra ‘n Skokstok in my broeksak. Almal behoord dieselfde te doen. Hulle wissel van R75-00 tot R400-00 vir die uitskiet-tipe en jy sal daardie boelie skok dat hy neerval. Geen lisensie word benodig. Moenie net slegte behandeling aanvaar nie!

Fanie Opperman ·

Absoluut puik,,,wat n voorbeeld vir die res van ons blankes..alle respek vir u mevrou…ons het meer van u nodig..

susan kruger ·

Bravo! Ek is nog nie sewentig nie en weet nie of ek nog kan hardloop nie … sal dalk ‘n paar lesse moet gaan kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.