76% van polisiestasies het nie verkragtingstoetsstelle

(Foto: SA Police Service/Twitter)

Altesaam 76% van polisiestasies in Suid-Afrika het nie verkragtingstoetsstelle vir volwassenes nie, terwyl ʼn verdere 69% van polisiestasies nie toetsstelle vir kinders het nie.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, het gesê dié skokkende statistiek is deur lt.genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, bekend gemaak nadat die DA ʼn aansoek om inligting ingedien het.

“Sonder hierdie toetsstelle kan bewysstukke in verkragtingsake nie ingesamel word nie en sonder bewyse neem die vermoë om verkragters suksesvol te vervolg drasties af.

“Dit is geheel en al onaanvaarbaar en ’n verdoemende akte van beskuldiging teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dat slegs ’n handjievol polisiestasies toegerus is om getuienis te bekom van slagoffers van verkragting,” het hy gesê.

Volgens Whitfield sal hy aan Bheki Cele, minister van polisie, skryf en hom 90 dae gee om te verseker dat alle polisiestasies die toetsstelle het. “Die tekort aan die toetsstelle is ʼn krisis van nasionale belang en moet dringend opgelos word.”

Volgens die huidige syfers is daar slegs 18 000 toetsstelle vir volwassenes en kort die SAPD meer as 128 000 van die toetsstelle.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het vroeër die week ook haar kommer uitgespreek oor die tekort aan die toetsstelle by polisiestasies landwyd.

Sy het ʼn beroep op die SAPD se bestuur gedoen om dringend aandag aan die kwessie te gee en seker te maak dat die toetsstelle by alle polisiestasies beskikbaar is.

“Die komitee het ook ’n beroep op die bestuur van die SAPD gedoen om te verseker dat polisiestasies ten alle tye gereed is om geweld en dade teen vroue en kinders te hanteer.”

Nonhlanhla Ncube-Ndaba, voorsitter van die portefeuljekomitee oor vroue, kinders en persone met gestremdhede, het op haar beurt gesê die tekort aan die toetsstelle sal daartoe lei dat die regstelsel verkragtingslagoffers faal.

Die SAPD is vroeër vanjaar deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid gedagvaar om rekenskap te gee van die implementering van die aanbevelings voortspruitend uit ’n aanvanklike ondersoekverhoor wat verlede jaar gehou is.

Die aanbevelings van die kommissie aan die SAPD was oor die administrasie van DNS-toetsing, veral in gevalle van huishoudelike en geslaggebaseerde geweld, swak polisie-afdwinging van beskermingsbevele en opleiding vir polisiebeamptes in die hantering van sake van huishoudelike geweld en geslagsgebaseerde geweld.

“Vroue se lyding moet nie vererger word deur die onbeskikbaarheid van verkragtingstoetsstelle nie.” Ncube-Ndaba het gesê die komitee sal die vordering monitor ten opsigte van die uitvoering van verbintenisse en ooreenkomste wat aangegaan is.

Die komitee doen ’n beroep op die kommissie om te verseker dat die SAPD verantwoordbaar gehou word vir die tekort aan verkragtingstoetsstelle en dat polisiestasies gemonitor word om vas te stel of die stelle beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SjN ·

Die toestelle is seker verkoop aan die onwettige immigrante, viva anc.

Wat 'n klug ·

Maar weer ‘n bewys dat die huidige regering ‘n veer voel vir vrouens. Groot toesprake oor vroueregte, maar nie eers die mees basiese maatreëls om verkragters te kan identifiseer, is in plek nie.

Lynette ·

Moet opgeleide mediese personeel nie die bewyse van dns met die toetsstelle insamel nie? Van wanneer af doen polisie dit in verkragtingssake? Ek sal nie gemaklik daaroor voel nie!!! Of verstaan ek verkeerd?

Nico Strydom ·

Dagsê Verwonderd en Dis Nou
Dis ‘n toetsstel nie ‘n toestel nie. Dit is ‘n sogenaamde “rape kit” wat gebruik word om bewysstukke te versamel indien iemand verkrag is.
Vriendelike groete
Maroela Media

sweis ·

90% van polisiestasies het nie eers regte polisie nie,hoekom dink julle is die misdadigers in beheer van SA?

Anoniem ·

Dit is so skrikwekkend dat daar nie “verkragting kits” vir volwassenes en kinders is nie… en dit is nie toestelle. So die verdagtes kan maak soos hulle wil!!! Ek kry die victims so jammer….. geen bewyse, geen saak ! Waarheen is ons land oppad ?

Johanna Botha ·

Dit gaan noual so, wat gaan nie gebeur met die nasionale gesonheids program ….ag dit gaan ook n FLOP wees …soos alles waraan die anc sy hand sit …viva new SA !

john langenhoven ·

Dit is u strokie wat die vrouens en kinders toets,met ander woorde as daar semen en bloed is word dns toetse gedoen,natuurlik net deur staat geneesheere of jou private dokter.

Slagyster ·

Hierdie toetsstelle klink ingewikkeld, miskien is dit die rede vir die tekort!

George in Bloem ·

Ja en ek is redelik seker 76% van die polisiestasies het ook nie genoeg breins,intelligensie of bevoegdheid nie.En dit het mens ook ongelukkig nodig om misdadigers aan te keer.(Met alle respek aan die klein minderheid in die mag wat steeds hul beste lewer.)

Gerrit ·

En hier loop die storie dood. Die DA gaan nie na 90 dae die minister vra of al die polisiestasies toestelle het nie. Net nou grootmond en dis dit. Toemaar, geeneen van die ander partye sal ook enigiets verder doen nie. Selfs die media sal nie die storie opvolg nie.

Valerie ·

Behalwe vir een polisiebeampte hier en daar, bestaan die SAPS nie. Ongelooflik swak; van die swaktes en mees onbeholpte ter wêreld. Hulle kan maar herdoop word vanaf SAPS na KFC. Ek skaam my.

SjN ·

Hul kan nie eens die basiese nakoming slaag nie, ek eis om te weet wat hul gaan probeer uitrig met die toets stel.

willem Botha ·

En die probleem is ons moet betaal vir hierdie diens wat ons nie ontvang nie ,wat n skande en hulle wanabee cowboy minister dink alles loop 100%.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.