77 plaasaanvalle in 90 dae

Die Witkruismonument vir slagoffers van plaasaanvalle. (Argieffoto: Anja van der Merwe)

AfriForum se jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde toon dat daar nie ʼn noemenswaardige afname in dié voorvalle was as die syfers van die eerste kwartaal van hierdie jaar met dié van dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk word nie.

Minstens 77 plaasaanvalle en nege moorde is tussen Januarie en Maart vanjaar landwyd aangemeld. Dit is effens minder as die 80 aanvalle en 11 moorde wat in dieselfde tydperk verlede jaar opgeteken is.

Luidens die verslag het die meeste aanvalle in Gauteng plaasgevind (19), gevolg deur Noordwes (10), KwaZulu-Natal (10) en die Wes-Kaap (9).

Die verslag beklemtoon dat die helfte van alle plaasaanvalslagoffers en plaasmoordslagoffers ouer as 60 is, hoewel die ouderdom van slagoffers in slegs 36% van die gevalle bekend is.

Indien die ouderdomskategorie vir moord in ag geneem word, was 67% van die moordslagoffers ouer as 60 jaar. Dit strook met bevindings van AfriForum se 2022-verslag oor plaasmoorde, waarin die meeste moordslagoffers (52%) ouer as 60 jaar oud was.

Hierdie verskynsel steun die oortuiging dat plaasmoordslagoffers fisiek meer kwesbaar is, lui AfriForum se jongste verslag.

Altesame 67% van plaasmoordslagoffers was mans en 33% was vroue.

 

In 56% van alle plaasmoorde is die slagoffer doodgeskiet en luidens mediaberigte is drie moordslagoffers in twee afsonderlike voorvalle op teregstellingswyse doodgeskiet.

In twee gevalle is slagoffers met ʼn voorwerp doodgesteek, terwyl ʼn 69-jarige man in ʼn ander voorval aangeval langs sy vrou doodgesteek is, slegs ʼn paar meter van waar sy dogter 11 jaar gelede op dieselfde kleinhoewe vermoor is.

Nog ʼn slagoffer is verwurg. In hierdie geval het die aanvallers eers die slagoffer se vrou vasgebind en hom daarna verwurg.

 

Werkswyse

Die verslag wys dat daar gewoonlik meer as een boosdoener tydens die aanval teenwoordig is en dat die meeste aanvalle snags plaasvind.

Byna die helfte van die voorvalle (48%) het oor ʼn naweek plaasgevind (Vrydae ingesluit), gevolg deur Donderdae (17%).

Die meeste aanvallers was gewapen, en luidens AfriForum se ondersoek is dit ʼn aanduiding dat die aanvallers die bedoeling gehad het om skade te berokken.

In 11 voorvalle is niks van slagoffers gesteel nie. Indien slagoffers wel besteel is, was dit meestal elektronika, vuurwapens en voertuie wat gebuit is.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling se databasis toon dat daar tot dusver slegs nege verdagtes vir die 77 voorvalle aangekeer is.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê die feit dat so min verdagtes vasgetrek word, skep die moontlikheid dat betrokkenes wat nie vasgetrek word nie, weer aanvalle sal loods.

“AfriForum doen ʼn beroep op mense in landelike gebiede om hulself te bemagtig. AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture het die afgelope paar jaar ʼn omvattende veldtog van stapel gestuur om gemeenskappe deur opleiding te bemagtig. Dit sluit onder meer in noodhulp- en wapenopleiding sowel as veiligheidsassessering wat op plaashuise gedoen kan word,” sê Broodryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jacobus ·

Hierdie is n volskaalse oorlog teenoor ons boere deur goed opgeleide terroriste. Dan se die terroristies ANC misdaad bende se president daar bestaan nie iets soos plaasmoorde nie. Boere bewapen en beveilg julself met die hulp van Afriforum.

George ·

Hulle sal dit ook nooit n oorliog noem nie, want so kan ons boere hul self dan ordentelik verdedig sonder die swaard wat bo jou kop hang

JohanR ·

Hello Bheki Cele. Gaan jy eendag jou pap en kuiken moet invoer want al die wit boere is op Afrika in waar hulle waardeer word.

Pieter ·

En hier hoor n mens niks van op enige Nuus of TV nie. Is asof die so gewoonte geraak het.

Manie ·

Die regering beheer die media en sê hulle seker voor oor wat nie genoem mag word nie.

Amelia ·

En die ministers is veilig in hul paleise mos wagte en lyfwagte so hoekom sal hul n vinger verroer om dit te stop hul soek mos grond vir die kamtige ander boere hoop phalaphala is ook n plaas wat onteien word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.