775 skole deur Covid-19-gevalle geraak

ʼn Skool word ontsmet teen Covid-19 (Foto: Ayanda Ndamane African News Agency/ANA)

Volgens ʼn berig deur die aanlyn nuuswebwerf IOL word 775 skole landswyd deur Covid-19-gevalle geraak.

Die departement van basiese onderwys het gesê 1 169 personeellede en 523 skoliere het die virus opgedoen, het IOL berig en die skole moes tydelik gesluit word vir ontsmetting.

In die jongste geval het die skoolhoof van Heathfield High School in Kaapstad gesê ʼn onderwyser, wat 10 dae gelede op die skool se perseel was, het positief getoets vir Covid-19. ʼn Kollega, wat nabye kontak gehad het met die onderwyser, is in self-isolasie ná die persoon geringe simptome getoon het. Verskeie ander onderwysers het ook simptome getoon, het die skoolhoof in ʼn Facebook-plasing gesê. Ouers sal op hoogte gehou word met die ontsmettingsproses. Leerders sal na verwagting Woensdag reeds kan terugkeer skool toe.

John Thompson, ʼn onderwyser aan Kensington High School, ook in Kaapstad, het Saterdag omgekom weens komplikasies wat met die virus verband hou, slegs ʼn paar uur ná hy sy uitslag ontvang het. Die Wes-Kaapse onderwysersforum het sy afsterwe bevestig. Die provinsiale departement van onderwys het opdrag gegee dat die skool Maandag en Dinsdag gesluit moet bly om ontsmet te word. Leerders sal na verwagting Woensdag terugkeer skool toe.

Duisende skoliere sal na verwagting op 6 Julie terugkeer skool toe tydens die tweede fase om skole landswyd oop te maak. Ondanks versoeke deur, onder andere vakbonde, dat skole gesluit moet bly terwyl Suid-Afrika die piek van die pandemie nader, het die departement van onderwys skoolhoofde gemaan om deur te druk met voorbereidings en seker te maak dat daar aan gesondheidsprotokol voldoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.