79 vas oor geweld in Hermanus

Altesaam 79 mense is al sedert verlede Donderdag in hegtenis geneem in Hermanus in die Wes-Kaap waar gewelddadige betogings al vir etlike dae woed. Foto: Facebook.

Altesaam 79 mense is al sedert verlede Donderdag in hegtenis geneem in Hermanus in die Wes-Kaap waar gewelddadige betogings al vir etlike dae woed.

Brig. Donovan Heilbron, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die situasie is egter vandag veel kalmer. “Mense gaan weer terug werk toe en die munisipaliteit het reeds begin om die paaie weer skoon te maak.”

Volgens Heilbron het Bonkikosi Madikizela, LUR vir menslike nedersettings in die Wes-Kaap, gistermiddag met verskeie rolspelers vergader en daarna ʼn skare van sowat 5 000 mense by die stadion in Zwelihle, waar die betogings begin het, toegespreek.

“Hy het vir hulle gesê dat daar wel grond [vir behuising] geïdentifiseer is, maar dat daar uiteraard nou konsultasie met regeringsdepartemente moet plaasvind. Daar is ook ʼn multidissiplinêre taakspan saamgestel wat binne die volgende twee weke gaan vergader,” het Heilbron gesê.

Daar moet volgens Heilbron nou ʼn formaliseringsproses plaasvind waartydens daar ʼn databasis opgestel word met die name van persone wat agterplaasbewoners is, ens. “Die polisie sal uiteraard nie betrokke wees in dié proses nie, maar ons hanteer die strafregtelike klagtes.”

Heilbron sê die 79 mense wat sedert Donderdag in hegtenis geneem is, is vir onder meer openbare geweld aangekla en sal hulle in verskillende groepe in die hof verskyn. “Die hele groep sal binnekort almal in die hof verskyn het.”

Hermanus GPF het op hul Facebook-blad gesê ʼn stuk grond in die Schulphoek omgewing is geïdentifiseer is vir agterplaasbewoners van Zwelihle. “Die LUR sal ʼn multi-regeringskomitee saamstel om prosesse en tydlyne in die ontwikkeling van die grond te identifiseer. Daar sal ʼn oudit gedoen word van die agterplaasbewoners om te verseker dat die wat die grond moet ontvang wel in aanmerking kom daarvoor. Die gemeenskap het onderneem om te sorg dat vrede en stabiliteit terug gebring word in Zwelihle en dat dinge weer terugkeer na normaal.”

Die Sandbaai-saal was Dinsdagaand beskikbaar vir persone wat haweloos gelaat is.

Maroela Media het vroeër berig  ʼn satellietpolisiestasie in die dorp is Maandag aan die brand gesteek, drie polisievoertuie is beskadig en een beampte is ook beseer tydens die verskeie skermutselings tussen die polisie en betogers wat glo grond onwettig wou beset en bewoon.

Die polisie het vroeër gesê die betoging het die afgelope naweek begin toe sowat 500 mense met gevaarlike wapens buitebande aan die brand gesteek, rekenaars uit ʼn munisipale gebou gesteel en ʼn private bus aan die brand gesteek het.

Kapt. FC Van Wyk, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag gesê verskeie winkels is intussen geplunder en ander geboue is ook beskadig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lientjie ·

En daar gaan niks met hulle gebeur nie. Borg kry en dan gebeur daar niks verder nie.

dr. Sakkie van der Merwe ·

‘n Mens vertrou dat die reg sy pad sal loop en diegene wat skuldig bevind word beboet of tronkstraf kry. As hul oormore vrygelaat word is hul die volgende dag weer op straat om af te brand en te plunder.

Flip Pretorius ·

Ek wil graag aan die EFF en in besonder Malema n uitdaaging rig. Dit is tog deur die EFF se toedoen dan hierdie sort ding gebeur. Ek daag Malema en sy span uit om die Koning van die Zulus in Kwa Zulu Natal se grond te gaan beset. Kom Malema wys wat in jou steek. Maar soos ons jou al teen hierdie tyd ken is jy n lafaard wat agter jou party wegkruip en nie die uitdaging sal aanvaar nie.

Andre C ·

Dis nou lekker.Ek bly in Hermanus.As jy moor ,afbrand en miljoene rande se skade aanrig kry jy grond.Hier is nou n presedent geskep.Kom ons kyk wat gebeur volgende jaar en daarna .

Willie ·

Ja lamsak malama… gaan beset asb die Zulu koning se grond…. Ek daag jou uit…

Hans ·

Is daar permanente/volhoubare werksgeleenthede vir al mense in Hermanus?

Andre C ·

Nee Hans,baie lewe van regeringstoelaes soos kindertoelaes en verder subsidieer die belastingbetalers hulle elektrisiteit ,water en infrastruktuur.Die minderheid subsidieer die meerderheid

DJH ·

Dit was nog altyd so gewees – die minderheid se belasting het nog altyd betaal vir die meerderheid se bestaan in die geskeidenis van Suid Afrika……. Dis een van die dinge wat nog nooit uitgewys is aan die buitewereld nie……….. Biljoene rande elke jaar het na die tuislande gegaan om hulle te help opgradeer……….wonder wat hulle met die geld gemaak het?……..o, ja dom vraag, ons almal weet dit nou al……in die agtersakke van die leiers.

Reguit ·

SA se tronke is lankal oorvol. Hoeveel wil hulle nog toesluit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.