8 leeus se liggaamsdele grusaam verwyder

Die agt geskende leeukarkasse. (Foto: Facebook)

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies van aard en mag sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Agt leeus is Vrydagoggend grusaam by ’n gewese lodge en dieretuin buite Rustenburg in Noordwes vir hul liggaamsdele doodgemaak.

Gert Blom, die eienaar van die Predators Rock Bush Lodge, het aan Maroela Media gesê hy is omstreeks 08:00 na een van sy leeukampe teenaan die lodge ontbied nadat twee van sy werkers op agt geskende leeukarkasse in die kamp afgekom het. Die diere se pote en ’n deel van hul kake is verwyder.

Die leeus was almal sowat drie en ’n half jaar oud. “Twee mannetjies en ses wyfies. Drie van die wyfies was dragtig en een van hulle het twee dagoudwelpies gehad,” vertel Blom.

Een van die welpies is sedertdien dood.

Die voetspore van vier verdagtes is in die kamp gevind. Die boosdoeners het eers oor die muur van sowat 2,4 m hoog reg rondom die kamp geklim voordat hulle die slotte van die kamp se hekke geknip het.

Volgens Blom moes die leeus tussen 02:00 en 05:30 van kant gemaak word aangesien hy hulle omstreeks 01:00 nog gehoor brul het. Die diere is eers met stukke hoender vol gif vergiftig voordat hul liggaamsdele verwyder is.

Daar word in dié stadium vermoed dat die diere vir moetie-doeleindes doodgemaak is.

Blom vertel dat hy juis weens soortgelyke omstandighede besluit het om die lodge en dieretuin op die plaas se deure te sluit nadat sy buurman se leeus twee jaar gelede wreedaardig van kant gemaak is. Dieselfde tragedie het sy buurman ’n jaar later vir die tweede keer oorgekom.

“Daar is niks wat sulke wreedheid regverdig nie,” sê Blom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.