Altesaam agt mense is dood toe ’n vragmotor en twee minibustaxi’s kort ná middernag op die N1 naby Leeu-Gamka in die Wes-Kaap gebots het.
Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê voorlopige verslae dui daarop dat die vragmotor in die rigting van Kaapstad en die taxi’s na die Oos-Kaap onderweg was toe die botsing plaasgevind het.
Die bestuurder en ses passasiers van die een taxi het in die voorval gesterf asook die bestuurder van die ander taxi. Dié bestuurder was die enigste insittende van dié voertuig.
Die bestuurder van die vragmotor is ernstig beseer in die voorval.
Die oorsaak van die botsing word ondersoek.
’n Stop-en-ry-beheerpunt is vanoggend ingestel sodat die toneel opgeruim kon word, sê Bakker.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)