8 vas ná klopjagte op dwelmlaboratoriums

Sewe verdagtes is op die kleinhoewe in Middelburg in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

Die polisie het vanoggend in samewerking met die Valke op twee beweerde dwelmlaboratoriums, onderskeidelik in Mpumalanga en Gauteng, toegeslaan.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê twee onderskeie spanne het as deel van ’n intelligensiegedrewe, multidissiplinêr geïntegreerde operasie gelyktydig op ’n kleinhoewe buite Breyten en ’n huis in Soweto toegeslaan waar Mandrax na bewering vervaardig is.

Een verdagte is in die huis in Diepkloof, Soweto, in hegtenis geneem nadat dit duidelik geword het dat dié huis as stoorfasiliteit vir chemikalieë, vir die vervaardiging van dwelms, gebruik word.

In Breyten is sewe verdagtes in hegtenis geneem vir die bestuur van ’n dwelmlaboratorium op die kleinhoewe.

Daar word na bewering Mandrax by die laboratorium vervaardig. (Foto: Verskaf)

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê die owerhede was teen vanmiddag nog op die onderskeie tonele doenig. Die waarde van die dwelms en toerusting waarop daar in die klopjagte beslag gelê is, moet ook nog bepaal word.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het intussen die operasie as ’n massiewe deurbraak in die geveg teen dwelmmisbruik bestempel.

Hy het gesê die probleem van dwelmvervaardiging en -verspreiding in Suid-Afrika word met elke klopjag op ’n dwelmlaboratorium stelselmatig opgelos.

*Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Jy klink gerook JohanR want jy sit die pot mis met jou ou grappie! Hierdie “vervaardigers” “skep ernstige probleme wat geen grap is nie!!

Michelle ·

Kan Cele asb sy bonus vat en persoonlik vir die ouens almal nooi vir ‘n ete of ‘n dag se ontspanning of so iets knap gedaan trots op die goeie werk. Om die gemors van die strate af te kry en die probleme en misdaad wat daarmee gepaard gaan sê ek baie dankie julle verdien ‘n medalje. Dit is die dwelm wat die kriminele los laat en onskuldige mense hul lewens kos.

Kobus ·

Hoekom hoor jy niks van die Kaapse Vlakte nie, selfs met die Weermag daar. Hoeveel klopjagte het plaas gevind sonder dat die mense weer terug op straat is

Leon ·

Ek wonder wie in die dwelm ketting het nie sy deel gekry nie en toe die polisie laat weet waar hulle kan toeslaan. die enigste manier wat die owerhede kan toeslaan op laboratoriums is as iemand ‘n fluitjie blaas. hulle is nie self in staat om dit op te spoor nie. Ons destydse Narkotika Buro bestaan nie meer nie. Hulle was effektief.

Heksie ·

ja die tipe goed gaan gewoonlik onder almal se neuse aan vir jare voor hul uitgevang word … Wel gedaan SAPS!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.