8 vas oor beweerde bedrog by Jhb-metro

Herman Mashaba. Foto: Facebook/Democratic Alliance

Agt werknemers van die Johannesburgse metromunisipaliteit sal na verwagting Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn in verband met beweerde bedrog van R2,4 miljoen.

Die werknemers, ses vroue en twee mans, is Vrydag deur lede van die Valke in hegtenis geneem. “Die verdagtes het na bewering bedrieglike briewe geskep waarin uitstaande terugbetalings van die Stad Johannesburg geëis word. Die briewe is geskep deur ʼn regsfirma se briefhoof te gebruik en is geskryf asof dit namens geaffekteerde inwoners aan die munisipaliteit gestuur word,” het kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die werknemers het toe die terugbetalings prosesseer en die geld in hul bankrekenings inbetaal. Altesaam R2,4 miljoen is op so ’n wyse geplunder.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê die aantal verdagtes betrokke by die beweerde bedrog kan vermeerder soos die ondersoek voortgaan. Hy het gesê in sommige voorvalle het eiendomseienaars met die stadsamptenare saamgesweer om opgeblase eise in te dien.

“Sodra die terugbetalings geprosesseer is, is dit in ʼn individu se bankrekening inbetaal waarna hulle die geld onder hulle verdeel het. Ons sal seker maak dat die eiendomseienaars wat met die beamptes saamgesweer het ook aanspreeklik gehou word en die mag van die gereg in die gesig staar. Inwoners wat met beamptes saamsweer en geld by die Stad steel, moet die gevolge dra,” het Mashaba gesê.

Die ondersoek wat die beweerde bedrog oopgevlek het, is van stapel gestuur nadat Nedbank die stad se finansiële departement in kennis gestel het van onregmatige betalings wat in Oktober verlede jaar in een van hul kliënte se bankrekenings inbetaal is. Mashaba het gesê die bank het drie afsonderlike onregmatige betalings van R291 000, R281 000 en R86 000 in die bankrekening geïdentifiseer.

“Nog bedrieglike betalings is later geïdentifiseer deur senior beamptes by die terugbetalingseenheid van die Stad se inkomste-departement. Die Stad se forensiese en ondersoekdienste is in kennis gestel en hulle het die ondersoek van stapel gestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ongelooflik ·

Die kreatiewe denke om die misdade te pleeg is ongelooflik, sjoe hul sal darem baie waarde aan ekonomie kan verskaf as hul net eerlik kan wees!

SêNet71 ·

Ek dink ons het ‘n groter kans dat die skuldiges geskors gaan word met volle betaling hangende verdere ondersoek. En natuurlik sal die ondersoek nooit afgehandel word nie en sal hulle vir jare nog om te kom volle salaris, met voordele, ontvang.

Elizabeth ·

Wel gedaan, maar wanneer gaan hulle die mense aankeer wat regtig plunder??? Hierdie outjies is kuikens in vergelyking met die totale wanorde (heel waarskynlik a.g.v. ander plunderaars) wat in die rekeninge-afdeling heers. Die groot visse word maar altyd beskerm.

Boontjie ·

Nedbank het die bedrog oopgevlek en onder hul aandag gebring? Is almal dan betrokke van heel bo tot die ouditeure reg af tot by die skoonmakers? Of was julle broeke te styf op skool en hulle kon nie konsentreer in die Rekeningkunde klas of toe oneerlikheid bespreek is nie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.