Agt verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem nadat die Valke op ’n enorme daggalaboratorium in Bloemfontein in die Vrystaat toegeslaan het.
AO Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê inligting rakende die laboratorium is Maandag ingewin. Die owerhede kon intussen ’n lasbrief bekom voordat hulle vroeër vandag op die laboratorium in Bloemspruit toegeslaan het.
Agt verdagtes, tussen 22 en 52 jaar oud, is in die proses in hegtenis geneem vir die kweek en handeldryf van dagga.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Die Valke in die Wes-Kaap het op hul beurt ’n verdagte vasgetrek wat na bewering ’n besending mandrax vanaf Johannesburg na George vervoer het.
Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê ’n verdagte (37) is Woensdag in Yorkstraat in George voorgekeer waarna sy motor deursoek is.
Volgens Nkwalase is daar op drie pakkies vol mandrax-tablette beslag gelê wat in ’n aartappelsak agter in die motor versteek was. Die tablette het ’n straatwaarde van sowat R150 000.
Die verdagte is op die plek in hegtenis geneem en sal na verwagting Vrydag in die George-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van onwettige middels.
Los hulle,jul anc regering het sulke daggalabs veroorsaak
Nou wat verwag hulle? Daar is baie meer daar buite. Verban rook maar jy kan jou zol rol.
Skaars 1 km van my huis af