80-jarige en sy vrou aangerand, beroof  

bejaarde-hande-kierrie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Stevepb/Pixabay.com)

’n Bejaarde egpaar van Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap is Dinsdag helder oordag deur twee gewapende rowers in hul huis in Walmer oorval.

Die rowers het die 78-jarige vrou en haar 80-jarige man aangerand en met kabelbinders vasgebind voordat hulle met verskeie goedere in die egpaar se blou Volkswagen Golf 5 (1999-model) gevlug het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, was die vrou in haar studeerkamer besig toe twee onbekende mans deur ʼn skuifdeur die huis binnegegaan het. Een van die mans het ʼn vuurwapen gehad en die ander een ʼn mes.

Haar man was nie in dié stadium tuis nie.

“Die vrou is aangerand en met kabelbinders vasgebind waarna die verdagtes die huis geplunder het. By haar man se tuiskoms het die verdagtes hom ook aangerand en vasgebind.

“Die man het homself later losgewikkel en ook sy vrou losgemaak. Die vrou het deur ʼn venster geklim en die bure omtrent die voorval ingelig.”

Dit is nie duidelik of die rowers in dié stadium nog in die huis was nie.

Die egpaar is wel kort nadat hulle hulp ontbied het hospitaal toe geneem.

Volgens Naidu het die aanvallers met onder meer ’n televisiestel, selfone en ʼn tablet in die egpaar se voertuig gevlug. ʼn Saak van huisroof word tans deur die polisie ondersoek.

“Die polisie doen opnuut ʼn beroep op inwoners om seker te maak dat alle veiligheidshekke gesluit is wanneer deure oopgelaat word. Veiligheidsmaatreëls moet opgeskerp word en bykomende paniekknoppies moet in kamers geïnstalleer word of by inwoners gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wondermaarnet

Gaan Cele en enige van sy kaders nou ook besoek aflê by hierdie egpaar?

Deon

“Die polisie doen n beroep……….” Okay polisie, nou doen ek as n lid van die publiek, n beroep op jou om te keer, let wel keer, dat hierdie goed gebeur.

Pampoen

So ons moet nou bewend agter geslote deure sit. Mag nie eers uitgaan om in die tuin te werk, buite te stap of na jou kar te gaan nie. Kan die polisie nie ‘n beter verskoning uitdink nie?

Ian

Hierdie gedrag word aangewakker deur werkloosheid. Dit gaan baie meer en baie erger raak. Suid Afrika is nou besig om in die toilet te spoel. Ons het werklik n houvas op wet en orde verloor in die land. Ek hoop regtig vir n ommekeer

Dup

Hulle is soos “wildehonde” wat jag maak op ander om te roof en te mishandel.Daar is lankal nie meer menslikheid in hulle te bespeur nie.Hulle weet ook dat sekere dele van die SAPS te onbekwaam is om arrestasies te kan doen.Die polisie se afgesaagde respons is dat mense hulle veiligheidsmaatreëls moet verbeter maar sê nie wat hulle aksieplanne is om misdaad te bekamp nie.Ons sal moet sterk staan vorentoe.