80-jarige nou regstudent

Op die ouderdom van 80 mik Johan Drotschie nou na ’n LLB-regsgraad. (Foto: Verskaf)

Op die ryp ouderdom van 80 het Johan Drotschie van Roodepoort in Johannesburg vir ’n LLB-graad by die Stadio-regskool ingeskryf. Dit sal die eerste keer in 40 jaar wees dat Drotschie weer agter die boeke inskuif.

“Dis eintlik mal,” het hy Vrydag skertsend aan Maroela Media gesê.

“Ou mense moet mos eintlik op die stoep sit en kyk hoe die dag verbygaan.”

Die afgetrede Drotschie en sy vrou, Ans, woon al drie jaar lank in die Waterval Village-aftreeoord in Florida en is al 56 jaar getroud. Hulle is die ouers van drie kinders en die trotse ouma en oupa van vyf kleinkinders – van wie een so lank soos die rugbyspeler Victor Matfield is.

Drotschie het in 1982 ʼn BCom-graad in beleggingsbestuur aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), nou die Universiteit van Johannesburg, behaal en is ook ʼn gesertifiseerde finansiële beplanner. Drotschie het destyds ook ʼn nagraadse sertifikaat in gevorderde trustreg aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het by Sanlam afgetree waar hy as ʼn provinsiale bestuurder in die maatskappy se werknemervoordele-afdeling gewerk het.

Drotschie dien tans as trustee in verskeie rade vir pensioen- en voorsorgfondse. Dit is juis hierdie rol wat hom aangespoor het om sy regsgraad te verwerf.

“Baie van die kwessies waarmee ons in hierdie rade te doen kry, het met die reg te make.

“Danksy my agtergrond, blootstelling aan regskenners en ervaring het ek ʼn goeie begrip van die reg met betrekking tot die administrasie van pensioenfondse. Daar is egter baie meer wette ter sprake. Jy moet hierdie wette ken en kan toepas. Ek het dus gevoel ek moet iets doen om dit te leer ken en verstaan.”

Drotschie sê hy besef ʼn mens kan ook as ʼn stokperdjie oor die reg oplees om jouself met kennis te bemagtig, maar dit sou hom nie op die kennisvlak plaas waar hy graag wil wees nie.

Omdat hy nie voorheen ʼn graad in regte behaal het nie, sal hy nou eers sewe oorbruggingsvakke moet slaag om eindelik sy LLB-graad te verwerf. Indien alles goed afloop, behoort hy dié graad teen 2024 in sy sak te hê.

“Dit gaan sover ʼn bietjie moeiliker as wat ek gedink het,” bieg Drotschie.

“My probleem is nie die studie of om die werk deur te gee nie, maar die tyd om daarby uit te kom. Ek het eers my handboeke op 28 Maart ontvang en moes teen 22 April al my eerste werkstukke inhandig.”

Hy sê afstandleer, wat deur Stadio aangebied word, is ook vir hom ʼn aanpassing. Dié onderwysinstelling bied ʼn verskeidenheid van regskwalifikasies deur middel van afstandleer en kontaklesse aan, en het kampusse in Johannesburg en Namibië.

“Ek het destyds klas bygewoon. Jy kry baie meer leiding in ʼn klas waar jy daai persoonlike kontak het.” Hy is nietemin opgewonde oor die kursus.

Drotschie kan binnekort vir die tweede semester inskryf en het reeds sy handboeke aangekoop. “Ek gaan intussen begin leer sodat my tyd nie so beperk is nie.”

Drotschie sê sy rol as trustee hou hom uiters besig. “Dis nie net die bywoon van vergaderings nie, maar baie voorbereidingswerk.”

Hy het nog nie veel met sy kinders en kleinkinders oor sy nuwe studieplanne gesels nie omdat hy nie ʼn groot bohaai daaroor wil maak nie.

“Ek doen dit maar net vir myself.”

Drotschie speel in sy vrye tyd gholf en trek gereeld ʼn mikrofoon nader.

Hy het voorheen in verskeie kore gesing en tree nou dikwels as solis by kerkfunksies en aftreeoorde op. Hy sing graag liefdesliedjies uit die 50’s en 60’s en liedjies van Koos du Plessis.

Stadio het in ʼn e-pos aan Maroela Media gesê dat hulle uiters opgewonde is om Drotschie by die instelling te verwelkom.

“Hy is ʼn wonderlike voorbeeld dat ouderdom nie ʼn hindernis vir persoonlike sukses is nie. Ons wens hom alle sterkte toe,” het prof. Philip Stoop, hoof van die Stadio-regskool, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Realis Thailand ·

Ek bewonder die man wie op 80 weer studeer maar miljoene kinders dros elke jaar uit die skole waar hulle al die geleenthede het. Die armes meesal gratis onderwys
Die man wen kennis in wat hy op sy oudag gebruik maar die jongmense wag eerder vir toelaes va ndie regering deur kleintjies te he en op straat te le.

piet ·

Wys jou nou net, as jou gesondheid reg is, is ouderdom nie ‘n faktor nie. Biden en Trump is al amper 80…Wat nogal ‘n grap maak van indiensneming in SA. Hier is jy definitief te “oud” as jy oor 50 is (eintlik al as jy oor 40 is).

Gert K ·

Johan dien as ‘n voorbeeld vir baie van ons. Alle sukses met die studies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.