80% van onnies, personeel ingeënt

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Meer as 500 000 onderwysers en onderwyspersoneel is met die Johnson & Johnson (J&J)-entstof teen Covid-19 ingeënt sedert die departement van basiese onderwys se massa-inentingsprogram op 23 Junie begin het. Dié program het Woensdag tot ’n einde gekom nadat dit reeds met ’n week verleng is.

Meer as 80% van onderwysers en onderwyspersoneel is ingeënt.

Die departement het aanvanklik gemik om 582 000 mense te bereik. Dit sluit in alle onderwysers sowel as steunpersoneel in die openbare sektor, onder wie onderwysers wat beheerliggaamposte beklee en personeel van onderwysvakbonde.

Maroela Media het vroeër berig meer entstofdosisse is verlede week toegeken sodat nog 800 000 inentings in dié sektor gedoen kan word. Die entstofprogram is toe ook verleng om bykomende entstofdosisse wat hulle ontvang het, toe te dien, asook om probleme wat by bepaalde inentingstasies ontstaan het, reg te stel.

Minister Angie Motshekga, minister van onderwys, het Woensdagoggend haar tweede dosis van die Pfizer-entstof ontvang.

Sy sê sy is baie tevrede met hoe die entstofprogram verloop het.

Mense tussen die ouderdom van 35 en 49 sal van Donderdag aanlyn kan begin registreer om die Covid-19-entstof te ontvang.

Volgens Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, sal teen 1 Augustus met inentings vir hierdie ouderdomsgroep begin word. Ouer mense sal steeds voorkeur geniet met inloop-afsprake.

“Die nasionale inentingsprogram duur reg oor die land voort ondanks gewelddadige betogings wat gelei het tot die tydelike sluiting van sommige inentingsentrums in sekere provinsies, waaronder Gauteng en KwaZulu-Natal,” sê Maja.

Die departement raai dié ouderdomsgroep aan om eerder aanlyn te registreer indien hulle kan.

“Diegene wat wel die inentingsentrums besoek vir registrasie of inenting, veral ouer burgers, moet waaksaam bly vir enige kriminele aktiwiteite.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Tolletjie, moenie jou nie steur aan die kommentaar van die Covid Cowboys nie. Onthou, “the fittest will survive”. En vir die Covid Cowboys, onthou, “Cowboys dont cry”!!

Jedi Knight ·

So diegene wat tot dusver dood is, was volgens jou dus nie baie “fit” nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.