80% van Wes-Kapenaars nou in sensus getel

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap (Foto: Alan Winde/Twitter)

Teen Vrydagoggend het 80% van Wes-Kapenaars reeds aan Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se sensusopname deelgeneem. Met net vyf dae voor die spertyd van 31 Mei, het Wes-Kaapse premier Alan Winde ook ʼn beroep gedoen op inwoners wat nog nie getel is nie, om dit dringend te laat doen.

Winde sê hoewel hierdie mylpaal goeie nuus is, is dit nog nie tyd om terug te sit nie. Die provinsie is steeds agter die nasionale gemiddeld wat tans op sowat 90% staan.

“Dit is eenvoudig: hoe meer akkuraat die opname, hoe beter is die begrotingstoewysing wat ons provinsie kry. Dit sal verseker dat ons kan voortgaan om sleuteldienste in onderwys en gesondheid te lewer en te verbeter,” sê die premier.

Stats SA het sedert 1994 drie sensusopnames gedoen: in 1996, 2001 en 2011. Vanjaar is die eerste keer dat ʼn digitale opname ook gedoen word, wat beteken deelnemers het die opsie om ʼn sensusvraelys met of sonder die hulp van ʼn veldwerker te voltooi.

Die data word gebruik vir beplanning, beleidsformulering en bewysgedrewe besluitneming.

Stats SA het vroeër vandeesmaand opnuut gewaarsku dat lae deelnamekoerse die akkuraatheid van die algehele sensusopname kan beïnvloed. Die opname word as die grondslag vir alle toewysings op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak gebruik.

Die Wes-Kaap is egter steeds onder die nasionale gemiddeld van mense wat reeds aan die 2022-sensusopname deelgeneem het. (Foto: Stats SA)

Die aanvanklike sperdatum vir Wes-Kapenaars om deel te neem was 14 Mei. In daardie stadium was die aantal mense wat in die Wes-Kaap aan die sensus deelgeneem het, steeds te ver onder die gemiddeld van die res van die land. Die telling in die provinsie is gevolglik tot die einde van Mei verleng.

Winde het vroeër gesê indien net 70% van Wes-Kaapse inwoners in die 2022-sensusopname getel word, kan die provinsie broodnodige finansiering verloor waarmee altesame 1 615 dokters, 5 981 verpleegsters en meer as 9 300 onderwysers in diens geneem sou kon word.

In terme van geld, sal die Wes-Kaap altesaam R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van sy provinsiale aandeel, as net 70% van inwoners getel word. Dit sal R2,6 miljard van sy gesondheidsbegroting en R4,2 miljard van sy onderwysbegroting wegvat, met kleiner departemente wat ook verliese sal ly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die Wes-Kapenaars so traag is om deel te neem aan die sensusopname. Dit is tog nie iets vreemds nie en ons het sensusopnames in die vorige bedeling ook gehad.

Stephanus ·

W Kaap waarskynlik net beter georganiseerd. Soos Annie hieronder meld – ons het hulle ook nog nie met n oog gesien nie maar sal nie verbaas wees nie as ons omgewing as 100% deurgegee word. Wie verseker dat hulle die opgawes indien en of diegene wat op die opgawes aangetoon word, ooit werklik bestaan?

Kiepie ·

Hoe weet hulle 80% inwoners is getel as dit juis is waaroor die senus gaan, om uit te vind presies hoeveel inwoners daar in elke provinsie is?

piet ·

Die sensusbeamptes is dalk uitgestuur na areas maar of hulle die nodige gedoen het, is ‘n ander storie. Niemand in ons woonkompleks is getel nie alhoewel spesifieke reelings getref is wanneer die mense kom.

annie ·

As die Kaapprovinsie gereeld beter organiseer en hulle nou eers sover trek, moet ons aanneem dat die res seker nog nie eens 10% haal nie. Die sensustellers is onsigbaar want niemand van ons het hier enigeen nog met ‘n oog gesien nie.

Manie ·

Die informele, asook sommige formele nedersettings is so gevaarlik dat hulle dit nie daar sal waag nie, daar kan maklik ‘n miljoen of meer nie getel word nie. Afgesien van die sensus, behoort dit vir die DA ook ‘n goeie aanduiding te gee oor hoeveel “inkommers” in die Wes-Kaap is.

Anel ·

Hier by ons was 2 wat by die heining gestaan het en op my honde geskree het en toe op my skree wat my naam is, toe draai ek om en gaan die huis in. Nooit weer iemand in die omgewing gesien nie. So hoe nou!

Pietertjie ·

As oud-werknemer van Statistiek SA is ek ook nog nie getel nie. Het ook nog geen opnemer in ons Pretoria Oostelike voorstad gesien nie. Ek sou graag by hulle wou hoor wanneer óns omgewing aan die beurt kom. Ek was in 1992 laas getel.

miche ·

Teen die tyd wat die Sensus uiteindelik afgehandel is, is daar intussen nóg ‘n miljoen Baba’s gebore.

Hennie ·

As julle dan weet hoeveel is 80% dan kan julle mos 100% beteken, of piee ek die pot nis?

Moedeloos ·

Ek dink die mense is baie oningelig oor die sensus opname. Volgens my moet jy registreer en met registrasie meld jy of jy ONLINE gaan doen of met veldwerker se besoek. Of dit so werk weet ek nie maar baie mense is onder die indruk jy word vanself besoek om getel te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.