81-jarige se raaiseldood: Familie soek desperaat self na antwoorde

Jeff Clapperton (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat grafiese inhoud.

ʼn Familie van eMalahleni, Mpumalanga, weier om te glo dat “wilde diere” verantwoordelik was vir die 81-jarige Jeff Clapperton se dood en sê daar skuil vir seker ʼn meer sinistere verduideliking agter alles wat verdere en behoorlike ondersoek van die polisie vereis.

Nie net is die bejaarde se hart, longe, tragea en slukderm onder meer verwyder nie, sy tong is ook uitgesny.

Clapperton is op 16 Julie om 08:30 na eMalahleni om geld te trek en kruideniersware te koop. Clapperton en sy vrou, Ria, woon op ʼn kleinhoewe op die R555 (ou Middelburg-pad) tussen eMalahleni en Middelburg.

Volgens Marietjie Ferreira, Clapperton se stiefdogter, was dit sy gewoonte om soggens dorp toe te gaan en by Standard Bank geld te trek en daarna ʼn draai by die Spar te maak.

“My ma het my die oggend om 11:00 gebel en gesê my pa is nog nie tuis nie. Hy is gewoonlik voor dán al terug van die dorp af. Teen 16:00, toe hy nog nie terug was nie, het ons hom gaan soek. Ons het op die roete wat hy altyd ry, gesoek,” vertel Ferreira.

Die familie het Clapperton dieselfde aand by die polisie as vermis aangemeld.

ʼn Boer het twee dae later, op Dinsdag 18 Julie, ʼn verlate motor op ʼn grondpad by die eMalahleni-polisie gaan aanmeld. Die familie is egter eers op 21 Julie hieroor ingelig. Hulle het die inligting boonop nie by die polisie gekry nie, sê Ferreira.

“Die polisie is al die Dinsdag oor die motor ingelig, maar het nie ondersoek gaan instel of ons daarvan in kennis gestel nie. Dít terwyl my pa se vermistepersoonsaak op hul tafel lê.”

Die motor, ʼn wit Hyundai Atos Prime, wat by die polisie aangemeld is, is daarna as dié van Clapperton geïdentifiseer. Die motor is die Vrydag, langs ʼn plaaspad sowat 20 km buite eMalahleni, verlate aangetref.

Clapperton se motor is langs n plaaspad gevind [Foto: Verskaf]

Clapperton, ʼn gesonde man vir sy ouderdom, se liggaam is in die veld – minder as ʼn kilometer van sy motor – gevind. Sy liggaam het agter ʼn koppie onder ʼn boom gelê.

“Hy is baie wreed vermoor, maar daar was geen bloed op die toneel nie. Dit lyk wel of sy liggaam gesleep is, want daar was duidelike sleepmerke. Ons vermoed hy is elders vermoor en sy liggaam is daarna onder die boom geplaas.

“Die buikgedeelte van sy liggaam het niks makeer nie. Die klere wat hy aangehad het, was ook nie geskeur nie. Hy het wel merke aan sy enkels, elmboë en knieë gehad, maar daar was nie merke aan sy kledingstukke nie.”

Ferreira sê die polisie meen wilde diere het Clapperton verskeur, maar die familie sê dit maak, gegrond op die inligting wat hulle self ingewin het, eenvoudig nie sin nie. Die familie het ook die dienste van ʼn private patoloog ingeroep om dit te bevestig.

“Ons kan nie die twee sangomas wat in die koppie woon as opsie [moontlike verdagtes] uitskakel nie.”

Clapperton se bril het in ʼn tweespoorpad naby sy liggaam gelê. Sy beursie, baadjie en ʼn pakkie sigarette is in die motor gevind. Hy het sy selfoon tuis gelos.

Daar was ook twee duidelike handmerke aan die agterkant van die voertuig, sê Ferreira.

Sy sê daar het omstreeks 08:45 ʼn boodskap op Clapperton se selfoon deurgekom dat ʼn bedrag van R1 000 uit sy bankrekening onttrek is. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hy was egter nie by Standard Bank nie, waar hy gewoonlik geld trek.

Beeldmateriaal wat Maroela Media onder oë gehad het, wys hoe Clapperton by ʼn vulstasie op die dorp by ʼn kitsbank geld trek.

Kringtelevisiebeeldmateriaal by die Inyanda-myn buite eMalahleni wys ook dat Clapperton nie alleen in die motor was toe hy daar verbygery het nie.

Polisieondersoek frustreer

Jeff Clapperton en sy dogter, Jayne [Foto: Verskaf]

Die familie is gefrustreerd met die polisie wat volgens hulle “nie hul werk behoorlik doen nie”. Hulle sê die polisie het nog nie eens verklarings afgeneem nie en ook nie selfoonrekords nagegaan nie. Die familie voel ook dat die moordtoneel nie behoorlik ondersoek is nie, met dié dat die motorsleutels nog soek is.

Die familie volg gereeld enige moontlike vordering in die saak op, maar kom elke keer voor dooiemansdeur te staan.

“Die polisie sê elke keer vir ons die ondersoek kan tot vier jaar duur en ons moet geduldig wees. Ons hande voel afgekap.”

Hulle probeer ook sin maak van hul geliefde se “sinnelose moord”.

“Ons soek antwoorde. Daar is soveel los drade. Ons sal nie berusting vind voordat hierdie los drade vasgemaak is nie.

“My pa het maar slegs 55 kg geweeg. Teen wie sou hy baklei het?”

Jayne Clapperton, Clapperton se dogter, sê haar pa se dood het die familie emosioneel, geestelik en fisiek geraak.

“Ons harte is in miljoene stukkies gebreek,” sê Jayne.

Sy en haar twee volwasse seuns, Shaun en Daymond, probeer ook self antwoorde vind en hul lewe wentel nou om die poging om geregtigheid vir Clapperton – wat hulle vas glo vermoor is – te laat geskied.

Jeff Clapperton en sy kleinseuns, Shaun en Daymond [Foto: Verskaf]

“Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Ons soek antwoorde.”

Jayne onthou haar pa as ʼn “liefdevolle en vriendelike” mens. “Hy was die beste pa in die wêreld,” sê sy.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer. Die kommentaar sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Delia ·

Sjoe. Hoe verwerk mens as eggenoot en kind dit as dit is hoe jy jou ouer/lewensmaat verloor? Ek het nie woorde vir hierdie dade nie.

Christine ·

Hartverskeurend! En die toestand van ons polisiediens is meer as kommerwekkend.

Karoo ·

Clapperton Familie, my hart gaan uit na julle wat julle Vader, Man, Familie lid en Vriend op so ‘n “geheimsinige” manier verloor het. Ek glo daar gaan’ n deurbraak kom met antwoorde. Vrede en Liefde vir julle.

Hendrik ·

Die polisie se onkunde is absoluut mimis 0
Klere is nie verskeur nie. Watter wilde diere is daar in die omgewing. Wilde diere kan hom nie uit sy moter verwyder nie. Waar is die wilde dire se spore. Hdie polisie behoort onmiddelik gepos te word.

ES ·

Hoe kan die polisie bloot aanname maak dit die saak tot “4 jaar” kan vat? Al wat hulle eintlik se is dat hulle nie lus is om nou daaraan te werk nie en hulle sal een of ander tyd miskien aandag gee daaraan.

So vreeslik jammer vir julle verlies, dit moet ongelooflik aaklig wees.

Laat private ondersoekers julle help hiermee, die polisie gaan dit beslis nie doen nie.

Sterkte aan die familie… ons harte is seer saam met julle!

Wondermaarnet ·

Ek hoop nie die polisie mors hierdie saak op sodat daar dadels van kom nie. Sterkte aan die familie en mag geregtigheid geskied.

Dries ·

Swak, SAPD. Weereens, die velkleur is deurslaggewend, dit bepaal die erns van die ondersoek.

Dries ·

My simpatie met die familie. Ons beweeg elke dag tussen wildr diere rond. Ek sien hulle elke dag in die strate, n mens kan nie genoeg versigtig wees nie.

Aai ·

Sterkte daar gaan beter wees om privaat speurder te kry maar ja seker sal die nadoodse ondersoek ook meer lig kan gee.

Roek ·

Meegevoel vir julle en die oom , ons is ogelukkig uitgelewer aan ‘n gebroke wereld en kan daar absoluut niks aan gedoen word nie !

piet ·

Dis van luigeid om die saak te ondersoek. Die wilde dier opsie is die maklike roete.

Hannelie ·

Hoe kan mens van hierdie GEMORS in hierdie wettelose land, ontslae raak??
Hulle veroorsaak net hartseer. Dis so so wreed, ek het nie woord nie.

Manie ·

Die polisie moet pasop, netnou word hulle voor die MRK gedaag om moordenaars wilde diere te noem…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.