83 in een week in Wes-Kaap vermoor

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die jongste misdaadstatistieke wys dalk dat die Wes-Kaap van ál die provinsies die kleinste styging in die moordsyfer (0,2%) het, maar “uiterste geweld en brutaliteit teister hierdie provinsie,” sê die minister van polisie.

Min. Bheki Cele het Donderdag tydens ’n mediakonferensie in Kaapstad onthul dat 83 mense in minder as ’n week (5 tot 11 September) in die Wes-Kaap vermoor is. Die meeste van dié moorde is in en om die Kaapse metropool en op die Kaapse Vlakte gepleeg.

Argumente, rooftogte en bendegeweld blyk tans die grootste oorsake van moord in die provinsie te wees.

Cele het ook vandag onthul dat dit in dié stadium drie keer meer waarskynlik is dat ’n oortreder in die Wes-Kaap ’n vuurwapen sal gebruik om mee te moor as enige ander wapen. Die feit dat 33 vuurwapens en 538 koeëls onlangs binne ʼn week van die Kaapse Vlakte se strate verwyder is, is tekenend hiervan.

Cele se kommer oor Kapenaars spruit uit die jongste misdaadstatistieke wat toon dat die Wes-Kaap tussen April en Junie vanjaar ʼn toename in kontakmisdaad, waaronder sake van moord, poging tot moord, seksuele misdrywe, aanranding en roof, beleef het.

Die Nyanga-polisiestasie in Kaapstad is dan ook die voorloper in die Top-30-kontakmisdaadpolisiestasies in die land.

Dit lyk ook asof ander Wes-Kaapse polisiestasies hul hande vol het. Altesaam 32 sake van ontvoering is vanaf Maart vanjaar vir ondersoek by die Wes-Kaapse polisie aanhangig gemaak. ’n Totaal van 15 vermeende ontvoerders is egter ook in dié tydperk in hegtenis geneem.

Intussen het die Wes-Kaapse vervoersektor onder geweld, intimidasie en sabotasie gebuk gegaan. Altesame 38 sake van aanvalle op onderskeidelik busse van Intercape, Golden Arrow, Mavumisa sowel as taxi’s is in Augustus alleen by die Wes-Kaapse polisie aangemeld.

Altesame 16 mense is in verband met dié voorvalle in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklag van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.

Cele het Kapenaars egter vandag gerus gestel dat die polisie gefokus bly op die voorkoming, bekamping en ondersoek van misdade.

Luidens die minister se statistieke is 16 mense in hegtenis geneem vir hul beweerde rol in veelvuldige skietvoorvalle in Khayelitsha en Gugulethu wat die afgelope paar maande die lewe van 58 mense geëis het.

Die howe het boonop tussen 1 April en 11 September 21 oortreders van moord en verkragting skuldig bevind en lewenslange vonnisse opgelê. Dít terwyl 118 skuldig bevind is aan ernstige misdade soos moord (27) en verkragting (84).

Tog heers daar nou diep kommer oor landdroste se veiligheid ná die onlangse moord op Romay van Rooyen, ʼn Kaapse landdros.

“Die departemente van polisie en justisie asook die misdaadvoorkoming- en veiligheidsgroepering (JCPS) as geheel bly diep bekommerd oor die veiligheid van lede van die land se regbank,” het Cele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johann ·

Minister van nommers en statistieke. GEEN emosie geen empatie, geen simpatie. Gewetenloos. Net daar om sy kader en comrades se belange te beskerm. SHAME IN YOU!

Republikein in die Wes Kaap ·

Tik…tak..Wes Kaap, die tyd loop uit.

Jacobus ·

Wat verwag jy anders, julle en dit is die polisie het dan ingehandigde vuurwapens uitgedeel in die Weskaap. Die ANC het in die openbaar gedreig dat julle die Weskaap onregeerbaar gaan maak.

Owlie ·

Hoe is dit moontlik met so n goeie minister van polisie en volle ondersteuning van die president? Waar is die ander partye wat moet bewys dat hulle n plek as leier verdien? Ons mooie land SA sal baie beter af wees sonder enige regering of politieke party want dus nou oor en oor bewys dat ons n regeting sonder menslike bestuur is

Willem Jacobus ·

Ek wonder net hoeveel van die vuurwapens wat in die skietery gebruik word kom oorspronklik van die polisie en weermag af.

Magda ·

Hoekom Val Di ANC altyd net Di Wes Kaap aan. As Di ander plekke wat deur Di ANC beheer word maar net n tiende van Di Wes Kaap SE dienste Kan lewer.

Delia ·

Ek as n individu en ma en ouma is ook in die geheel diep bekommerd oor die SAPD en Justisie se vermoë om iets te doen aan die misdaad. Die verskil is dat u as Minister van Polisie iets kan doen, maar ek as n individu kan net hoop en bid dat my familie nooit vermoor/verkrag ens sal word. U het wagte wat deur my belastinggeld betaal word, maar ek is op myself en my gemeenskap aangewese.

annie ·

Die Kaapse Vlakte… Jan van Riebeeck het in ‘n gebed ná sy aankoms in die Kaap gebid vir Hulp “… de Justitie gehanthaefft ende onder dese wilde, brutale menschen…”. Ná 1994 het duisende uitlanders na die Kaap gestroom en skaamteloos hul afkoms uitgeblaker selfs in ‘n Afrikaanse dagblad in advertensies as werksoekers. Politieke partye was tjoepstil. Al gooi die minister sy nuwe hoed in die hoek en wys vinger hot-en-haar, hierdie nagmerrie sal bly.

Nico ·

Voor 1994 was daar nie sulke probleme nie, bring terug die apartheids regering.

Johan ·

Vra die Speaker of sy nie ‘n kommitee kan skep nie, Hulle sort mos alles in hierdie land uit. Klomp grappe wat op hierdie aarde wandel!!!

Danie ·

Misdaad hool ????Wat gaan hoed se volgende verskoning wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.