83 jaar vir reeksverkragter van Mpumalanga

selle

(Argieffoto: Unsplash)

Moses Charles Mahlangu (29) is in die Kwaggafontein-streekhof skuldig bevind en 83 jaar tronkstraf opgelê op vyf aanklagte van verkragting, vyf aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede en een aanklag van seksuele aanranding.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Mahlangu het sy misdade tussen Augustus 2017 en Mei 2019 in Vlaklaagte gepleeg.

“Hy het vroue geteiken wat op die voetpaadjie tussen Gemsbokspruit en Vlaklaagte geloop het. Hy het hulle met ʼn skerp voorwerp, soortgelyk aan ʼn skroewedraaier, gedreig en hulle in ʼn bos in gedwing en hulle verkrag. Hy het soms ook hulle besittings soos selfone gesteel.”

Sake is aanhangig gemaak en die beskuldigde is opgespoor deur ʼn selfoon wat die polisie gevind het. Hy is gevolglik deur DNS met die verskillende sake van verkragting verbind.

“Hy het skuld ontken op alle aanklagte. Staatsaanklaer Nicky Coetzer het die getuienis gelei van die slagoffers wat getuig het oor hoe hulle hom op die voetpad teëgekom het. Hulle het vertel hoe hulle weens sy dade gely het en die getuienis is ondersteun deur DNS.”

Slagofferimpakverslae is by die hof ingedien wat uiteensit watter impak die verkragting op die vroue gehad het.

“Landdros Greyvenstein het hom skuldig bevind op alle aanklagte.”

Daar was nie enige omstandighede wat kon lei tot ʼn afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis nie. Hy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit en sy naam sal opgeskryf word in die nasionale register vir seksuele oortreders.

“Die NVG erken die goeie werk wat die vervolging- en ondersoekspan gedoen het om seker te maak geregtigheid seëvier vir die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Hoop nou net hy sit so lank en kry nie borg na 10 jaar nie!!!!!

Prikkie ·

Ja, die klomp lang tronstrawwe beteken niks. Dit lyk net mooi. Na ‘n klompie jare kry hy weer parool en dan kan hy voortgaan met sy smerige werk.

Marcello ·

Lewenslank is dan die maksimum, waar kom 83 jaar vandaan, daar is mos nou nie ‘n manier dat hy so lank kan sit nie, dan is hy al 112 jaar oud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.