85 000 besware teen onteieningswetsontwerp

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, met die voorlegging en handtekeninge wat hy Dinsdag by die parlement ingedien het. (Foto: Verskaf)

Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, het vanoggend 85 000 besware teen die onteieningswetsontwerp ingehandig by die parlement.

Die besware is oorhandig aan die DA-LP Madeleine Hicklin, wat dit in die tersaaklike portefeuljekomitee, die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur, ter tafel sal lê.

Vrystaat Landbou verteenwoordig ʼn ledetal van sowat 3 400 kommersiële boere in die Vrystaat.

Sie DA en die VF Plus het in hierdie dae mense aangemoedig om hul stemme teen die wetsontwerp te laat hoor, en onderneem om dit hand en tand te bestry.

Vrystaat Landbou se inset is deel van ʼn groeiende getal insette wat die parlement bereik namate Sondag se sperdatum vir insette deur die publiek oor die omvattende wetsontwerp nader kom.

Vrystaat Landbou se hoofbesware teen die wetsontwerp is teen klousule 1, wat munisipaliteite se magte uitbrei en die voorwaardes vir onteiening in die openbare belang te breedweg definieer. Hulle is ook gekant teen klousule 3, wat volgens Vrystaat Landbou se interpretasie de facto staatsbeheer oor alle eiendom beteken.

Voortspruitend daaruit het Vrystaat Landbou veral vier besware, naamlik die wetsontwerp se impak op grondhervorming, die bepalings oor vergoeding, veral oor nul-vergoeding, die fokus op alle eiendom eerder as landbou-eiendom en die impak wat onteiening op Suid-Afrika as geheel kan hê.

Agri SA het ook hul kommentare verlede week ingedien. In ʼn uiters omvattende en empiries nagevorste voorlegging word die volgende vervat:

  • Agri SA verteenwoordig die grootste groep landelike grondeienaars en wil ’n volhoubare, lewensvatbare sektor verseker.
  • Die landbouers van vandag kan nie alleen aanspreeklik gehou word vir historiese gebeure nie en daar kan nie van hulle verwag word om die las van die apartheid-era se ontnemings te dra nie.
  • Agri SA se ondersteuning van vryemarkbeginsels bly onveranderd.
  • Grondeienaars wie se grond onteien word, moet altyd die reg hê om hulle tot die howe te wend.
  • Verwysing word gemaak na die ekonomiese studie oor die potensiële ekonomiese gevolge van nulvergoeding of minimale vergoeding en spesifiek die uitwerking op kapitaal-vorming asook van die studie oor die uitwerking van die pandemie op die landbousektor.
  • Die internasionale perspektief word gestel dat die meeste lande se grondwette vergoeding vereis en daar word verwys na die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie se studie oor beste praktyk vir verpligte verkryging van eiendom.
  • Lesse geleer uit Zimbabwe en Venezuela word gedeel en illustreer die rampspoedige gevolge van hul grondbeleid vir hul onderskeie ekonomieë.
  • Die belastingimplikasies in terme van ’n potensiële verlies aan belastinginkomste vir die regering word ook beklemtoon asook die potensiële nadelige uitwerking op voedselsekerheid.
  • Kommentaar op spesifieke definisies en klousules, soos die omskrywing van “onteiening” en “openbare belang” en die R0-vergoedingklousules, word gelewer.
  • Agri SA voel sterk daaroor dat grondeienaars onmiddellik genoegsame en effektiewe vergoeding behoort te ontvang, wat hulle dan in staat sal stel om elders weer te begin, en hulle moet nie swakker daaraan toe wees as gevolg van die onteiening nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Gaan onteiening sonder vergoeding net oor landbougrond? Ek besit 2 huise in stedelike gebied. Gaan albei onteien word net omdat ek wit is, of gaan net 1 onteien word met as argument: “dis onregverdig om 2 huise te besit. 1 is mos genoeg”.

Estelle ·

Daar moes 850 000 besware gewees het en nie net 85 000 nie. Maar dis hoe dit gaan, ons kla heeldag maar doen nie die moeite om werklik iets omtrent omstandighede te doen nie. Ons sal seker eers begin saamstaan as ons alles verloor het.

Fritz ·

Dit help nie om jou tyd te mors nie. As jy iets doen, moet daar darem n redelike kans op sukses wees. Die regering luister nie na insette nie. Het nog nooit nie, sal ook nooitnie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.