85-jarige erg getraumatiseerd ná aanval op plaas

Die deur waardeur die aanvaller toegang tot die huis verkry het. Foto: Verskaf

Toe ʼn plaasaanvaller op ʼn doodgewone Vrydagoggend ʼn vuurwapen in die 85-jarige Lena van As se gesig druk en vir haar sê, “Today is your last day”, was dit byna ʼn seën dat sy doof is en nie dié angswekkende woorde kon hoor nie.

Só sê Sarie Jansen van Vuuren nadat haar ma Vrydagoggend die slagoffer van nóg ʼn plaasaanval in Limpopo was.

Jansen van Vuuren vertel aan Maroela Media dat haar ma vir drie weke by haar en haar man op die plaas in die Modjadjiskloof-omgewing, voorheen bekend as Duiwelskloof, kom kuier het toe die voorval gebeur het. “My ma het omstreeks 08:45 die oggend gesit en televisie kyk. Sy is doof en maak staat op liplees om gesprekke te volg, so die televisie se klank was sag gestel,” sê Jansen van Vuuren.

Jansen van Vuuren was in dié tyd nie op die plaas nie en haar man, Pieter, was ongeveer 100 m weg van die huis besig om na die boerdery om te sien.

“Ons hou altyd die huis se deure gesluit, maar dié betrokke dag was die huishulp daar en die deur was dus oop sodat sy in en uit kon beweeg. Ons huishulp vertel sy was agter in die huis besig toe sy ouma se smeekstemmetjie uit die woonkamer hoor kom en ʼn manstem wat sy kon hoor nie my man se stem is nie.”

Van As het later gesê sy het uit die hoek van haar oog ʼn beweging by die voordeur opgemerk en gesien hoe ʼn hand met ʼn vuurwapen heen en weer beweeg. Die volgende oomblik het die aanvaller op haar afgestorm, haar uit haar stoel geruk en teen die vloer gestamp dat haar loopraam omval. Sy het probeer opstaan, waarna hy haar regop geruk en weer teen die vloer gestamp het.

“My ma is doof, maar sy kon aan sy lippe lees dat hy die woord ‘money’ sê. Sy het net vir hom gesê ‘please, please’, want sy kan ook nie juis Engels praat nie. Ons huishulp het in dié stadium om die hoek geloer om te kyk wat aangaan en gesien hoe hy die vuurwapen voor my ma se gesig hou en vir haar sê, ‘Today is your last day’.”

Die Jansen van Vuuren-egpaar se honde was in ʼn binnehof toegemaak omdat hulle aggressief teenoor vreemdelinge, onder wie die huishulp, is. “Ons huishulp het net besluit, vandag trotseer sy maar daardie honde, sy het geen ander keuse nie. Sy het ongesiens by ʼn deur by die binnehof uitgeglip en om hulp geskree. My man het die honde hoor blaf, haar hoor skree en dadelik na die huis gehardloop.”

In die 25 jaar wat die egpaar al op die plaas woon, het daar nog nooit so iets gebeur nie. Foto: Verskaf

Die huishulp se hulpkrete moes die aanvaller die skrik op die lyf gejaag het, want hy het vinnig laat spaander. Volgens Jansen van Vuuren het hulle eers later agtergekom dat hy in die proses ʼn kettingsaag gesteel het.

Pieter het dadelik hulp ontbied en na buite gehardloop om te kyk of hy die aanvaller sien, maar dié was teen daardie tyd skoonveld.

“Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, maar my ma het geen beserings opgedoen nie – nie eens een gebreekte been of een kneusplek nie. Sy is natuurlik erg getraumatiseerd en sal berading moet ontvang. Pieter sukkel ook om te slaap ná die voorval – ek dink gisteraand was die eerste aand sedert Vrydag wat hy ʼn bietjie slaap ingekry het,” sê Jansen van Vuuren.

“Ek dink die feit dat ons huishulp nie op die aanvaller afgestorm het nie, maar eerder na buite gehardloop het om my man te roep, was ‘n bepalende faktor dat my moeder nie ernstig beseer is nie. Ons is haar baie dank verskuldig.”

Sy sê in die 25 jaar wat die egpaar al op die plaas woon, het daar nog nooit so iets gebeur nie, hoewel daar ongeveer ses weke gelede goed uit die huis gesteel is.

Volgens Jansen van Vuuren het verdagte goed op die plaas in die paar dae voor die aanval gebeur. Dinsdagaand ʼn stuk veld net buite die plaas aan die brand gesteek, maar die gras was so nat dat net ʼn klein stukkie gebrand het. Donderdag het die krag op twee geleenthede onverklaarbaar af gegaan en later weer aangegaan sonder dat hul bure enige kragonderbrekings ervaar het.

Jansen van Vuuren het gesê ʼn saak is by die polisie aanhangig gemaak. Maroela Media het navraag by die provinsiale polisiewoordvoerder gedoen en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Roelof ·

Is hierdie een van die 6 plaasaanvalle in die laaste 56 uur, of is dit ‘n bykomende een? Dankie

Boerseun ·

Vra AGRI-SA en hulle aanhangers, hulle het mos die regte stats

Laurinda ·

Daar was nog ‘n plaasaanval by Eendekuil in Wes Kaap, glo die sewende in 2 dae. Saterdag.

Basjan ·

Roelof jy moet net die Kyknet nuus kyk en RSG luister hulle doen gereel volledig verslag oor plaasmoorde ek weet net nie wanneer nie vind maar uit by hulle.

ferdi ·

Ses 6 aanvalle in 2dae se tyd dit sal ni ophou ni maak jul gereed vir nog meer

Petro ·

Voel so jammer vir die tannie..en hoop sy is ok. Maar moet stem. Diefwering… Hekke…ten minste?

Deloris ·

Ek wil skreeu skreeu…. ek wil huil huil en net aan hou huil en nog meer bid…Vader hou ons almal en ons boere veilig..

Anner Anton ·

Jy weet in Mexico noem hulle die plaashuis die hacienda. Die skure ens is met hoe heinings om die opstal gebou sodat n mens veilig na hul kan beweeg vanaf die hoofhuis. Die plaasvoorman bly binne die heining. Die opstal self waar die eienaar bly is omring met hoe mure. Binne hierdie laer kom geen gewone werker nie en dit is helder belig in die aand. Daar is nie bos om die area nie. Boere hier in ons land moet sekuriteit aanpas want die hienas is baie en die leeus min in hierdie tyd. Makliker gese as gedaan maar dit moet!

Kaufman ·

Mexico is ook n land met baie geweldsmisdaad, ons kan gerus kyk wat ons by hulle kan leer.

Presies ·

Ja ons moet almal oral en altyd gereed wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Alida ·

Ai mense los tog maar die raad en verwyte en bid vir die tannie. Terloops Anton is bly in SA nie Mexico nie.

Sue ·

Dit is baie waar en is n goeie idee van wat n mens in n land soos ons sn sal moet doen. Wat my nogal opval is daardie oop glas deur. Ek bly in n komplex wst binne in n sekeriteids village is en ons het hekke en slotte en grendels op. Dis sooo n groot risiko om so oop te leef op enige plek in Suid Afrika.
Hoop van harte dat die mense sal sekeriteid aanbring daar en dat die tannie regtig okay sal wees. Dis 4 jaar na ons in n huis roof was en ek se jul, niks is nou nog okay nie.

Sussie ·

Baie baie dankie aan die huis hulp wat die ou tante se lewe gered het, sy is van goeie stofasie gemaak soos ons ouer garde sal se.
Die GROOT HAND het haar beskerm van enige ernstige beserings.

Werner ·

Alida gaan lees gerus Jacobus 2 om net te wil bid die heeltyd is ook nie die antwoord nie geloof sonder dade beteken niks Anton het baie goeie bydrae gelewer dit klink na goeie plan ons sal basies moet laer trek soos in die verlede

Elize ·

Nog n weerlose oumens, so jammer hoop sy herstel van die skok. Hierdie huishulp het regtig op haar voete gedink. Dit kon veel erger gewees het, alle Eer aan Onse Vader.
Jammer… maar ek wil ook net vra, waar is die veiligheids hek of diefwering. Ons die tyd wat ons lewe is dit regtig n moet…..asb.

liz ·

Elke liewe dag, elke dag maar dit hoef nie op regeringsvlak ondersoek te word nie, kom nou dis so voor die handliggend, daar is net een doel voor oe, moor ons uit.

jakes ·

Afskuwelik dat dit nou n daaglikse stokperdjie word in SA. Wat ook wel kommerwekkend is dat baie boere nie hulself of hul plase beveilig nie. Ek het al hoeveel plase besoek agv die werk wat ek doen en 80 % van die plase het feitlik geen behoorlike diefwering, sekuriteits stelsels of noodmaatreels in plek sou n aanval plaasvind nie. Baie boere dink dat so iets hulle nie sou oorkom nie en dis jammerlik.

Roger ·

Terwyl die regerende party die aanslag ontken, sal ek bly glo dat hul aandadig is. Die feit dat nie een ANC-politikus al ooit simpatie betoon het met plaasmoord-slagoffers nie, is ook ‘n duidelike boodskap dat hul dit aanmoedig en ondersteun. Liberale wittes sal nou weer stik in hul gin & tonic, want die huigelaarsgene in hulle word nou onmiddellik geaktiveer deur my stelling.

Gesiggie ·

Ek voel so ongelooflik jammer vir die Tannie, ek kan net dink deur wat sy moes gaan… die feit dat sy doof is, moes als nog erger maak, dankie aan die huishulp wat bietjie verder gedink het, anders kon dit anders gewees het.. God het sy Engele laat waak… en dankie dad die Tannie nie seer gekry het. Dit is net jammer die honde is n gevaar vir jul huishulp ook, anders sou ek voorstel maak hul oop , want hierdie skelms het nie reg gekry wat hul wou, so sal dalk weer try? net as n mens dink als gaan goed en dit sal nie met ons gebeur… dan kom so iets… sterkte aan die Tannie, ek hoop dat sy gou oor die aanval sal kom, maar ek weet dit is nie maklik om so iets te vergeet. Pas julself mooi op..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.