8,5 ton vullis uit Centurion-meer verwyder

Voor en ná opruimaksie by Centurion-meer. (Foto: Facebook)

Omtrent 8,5 ton se rommel is dié naweek uit die Hennopsrivier en die meer in Centurion gehaal. Die rommel, wat tydens ʼn skoonmaaksessie deur lede van die gemeenskap verwyder is, is in 340 sakke, sowat 25 kg per sak, gegooi.

Die Centurion-inwoners hoop om die rivieroewer te herstel en die omgewing weer gesond en aangenaam te maak.

Tarryn Johnston, ʼn komiteelid van die nieregeringsorganisasie Fresh.NGO, sê die projek het die naweek by die Protea Hotel, langs die meer, plaasgevind. “Ons maak elke twee weke in hierdie area skoon, net om die staalnet (wat die vullis in die water opvang) skoon te hou. Daar is soveel gemors wat dit blokkeer dat dit die water verhoed om deur te vloei.”

Die stilstaande water word dan ʼn broeikas vir siektes en muskiete en is daar gereeld oorspoelings omdat die water nie meer in die waterstrome kan vloei nie.

“Daar is soveel plastiek en gemors wat in ons riviere en waterstrome beland, wat die omgewing skade berokken. Ons glo dit is die verantwoordelikheid van voedselvervaardigers om nie meer so baie verpakkingsmateriaal om hul produkte te sit nie, dit is die een plek waar ons kan begin,” sê Johnston.

Johnston vertel dat die plaaslike regering onlangs ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi het en die skoonmaaksessies nou veel vinniger sal gebeur. Die groep kan nou gebruik maak van die munisipaliteit se masjinerie en geld is ook beskikbaar gestel vir opruimingswerk.

Johnston verduidelik dat Fresh.NGO al nette by Supersport Park, Tembisa en ander plekke in die rivier geplaas het om verder rommel op te gaar en die skoonmaakproses te vergemaklik. Sommige van die rommel beland in die stroom wanneer oorstromings plaasvind of asblikke omwaai en rommel wat op die graswalle rondom die riviere gestrooi word, in die rivier beland. Die grootste probleem lê egter by informele nedersettings wat uit onkunde hul rommel in die strome gooi, sê Johnston.

“Die informele nedersettings het geen idee wat die gevolg van hul aksies is nie, maar ons het al ʼn paar opvoedingsprojekte van stapel gestuur om die mense in te lig en te keer dat besoedeling voortgaan. In baie gevalle kom help die mense van die nedersettings ons ook om weer die rommel skoon te maak.”

Johnston sê dit is nie net die rommel wat ʼn probleem is nie, maar dat daar riool in die riviere invloei. “In party areas is daar nie water nie, dis net swart slyk en die e.Coli-vlakke is ongelooflik hoog. Ons dra stewels, handskoene en soms maskers om te voorkom dat ons siektes opdoen.”

Sy sê sowat 120 mense het in die loop van die naweek met die skoonmaaksessie gehelp. “Almal werk op ʼn vrywilligersbasis.

“Mense moet hierdie water self sien, dis eers dan dat jy besef hoe erg dit werklik is. Ons het ingespring want ons kon nie meer vir enigiemand wag nie, daar is net nie meer tyd om te wag nie,” sê sy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willa ·

Skandelik dat dit so lyk.Die skudiges moet vasgevat word.Ons moet dit nie toelaat nie.

wraggies ·

Mense wat nie verstaan dat jy nie net jou rommel in ‘n rivier of elders kan wegsmyt nie, of ‘n rivier gebruik vir jou ontlasting, informele nedersetting of te nie, moet iets fout mee wees.

Tea ·

Willa ek dink nie dit is altyd nodig om te baklei nie, ons weet wie die skuldiges is, doen jy net wat jy moet doen – probeer help waar jy kan en n verskil maak waar jy kan. Ek weet nie of jy kinders het nie, maar om skuldiges vas te vat gaan nie oor 20jr n verskil maak in jou/jou kind se lewe nie, om skoon te maak waar jy kan sal wel.

De Villiers ·

Ek stem saam met Willa. Hierdie morsjorse se sin van bewaring is totaal anders as ons sin. Hulle glo rommel strooi is werkskepping, want hulle sê reguit vir jou dat daar mense is wat betaal word om dit op te tel, daarom doen hulle dit. As jy dit nie glo nie, gaan vra ń bietjie onder hulle of dit hul benadering is. Om dus met hulle te praat daaroor gaan nie as sulks help nie, die regering moet hul werk doen en hierdie ouens beboet en deurgaans advertensies maak soos in die ou dae om jou rommel weg te hou in ń asblik. Gaan kyk bietjie hoe lyk die plastiek eilande in die see en wat dit aan seelewe doen weens hierdie bedoeling, grootliks omdat mense nie herwin nie.

Marix ·

Watter mooi gebaar deur almal wat aan die skoonmaak deelgeneem het. Om die inwoners van die informele nedersettings te betrek en in te lig is wonderlik. Hulle sal self meer respek begin ontwikkel as hulle sien hul eie omgewing baat ook daarby.

Marlene ·

Ek sien amper daagliks hoe mense vullis, van sigaretstompies, tot vrugtestronke of sakkies met gemors by hul vensters uitgooi uit motors, maar dat selfs taxi’s stop en daar en dan goed uitgooi. Niemand word beboet nie en dis net so groot krisis indien nie groter as om n klein verkeersoortreding te begaan. Waar is die mense wat hul beboet. Hul is soms daar en sien dit selfs. Almal moet streng beboet word. En deel daarvan gemeenskapsdiens soos om te help met die opruiming van die areas.

Lee ·

Dis ‘n great job wat julle doen. Welgedaan. Ons het n veld naby ons huis ook gaan skoonmaak so rukkie terug maar ongelukkig het dit net ‘n paar dae gehou toe lyk dit of dit nooit skoongemaak is nie. Mense is varke wat Rommel strooi.

KaterinaKat ·

SOME of mankind is a virus. There are entire countries that are in general very clean and well maintained.

Anoniem ·

Die Apiesrivier by die Laagwater brug in Capital Park lyk presies dieselfde. Na die reen wat die afgelope paar dae geval het, het al die rommel in hierdie rivier afgespoel. Mense gee nie meer ‘n flenter om vir die natuur nie, en riviere word deesdae gebruik om rommel in te strooi en so vernietig die mens die lewe in die riviere.

SjN ·

Laat die werkloses wat n toelae ontvang elke maand een of ander daad verrig, soos bv n soort gemeenskap diens lewer, alvorens hy kwalifiseer vir uitbetaling, hy is mos onproduktief en kan mos die tipe van werk doen.

des ·

SjN Baie goeie plan, maar om dit te implementeer gaan jy met n panarie sit

m ·

Dis so verblydend om te sien dat mense iets doen aan die waterkwaliteit!
Ons het as kinder kleilat gegooi en vis/krappe gevang op die banke van die Hennopsrivier, baie jare terug, maar ‘n mens sal seker nou baie min lewe in die rivier kry nie.

Witkind ·

Dankie aan almal – julle doen die werk v/d munisipaliteite en hulle word betaal?!! Ons ‘vrywilligers’ gaan nog die HELE land moet skoonmaak. Gratis

Anel ·

Ek het eendag bir ‘n vrou wat haar lëe skyfies papier net neer gegooi het, gevra om dit op te tel. Wat was die antwoord: ” No, and you raciste”. Was te versla om verder iets te sê.
Ons ry altyd met sak en alles word daarin gegooi en by die huis weggegooi. Ons kinders doen dit ook in hul eie motors. Dis net opvoeding. Gooi nie eers pit by die ruit uit nie.
Iemand het eendag saam met my gery en voor ek kon keer is die strootjiepapier by die ruit uit gegooi. Ek het dood gestop, dit was veilig, en die persoon gemaak dit gaan optel.

John ·

Dit is ‘n gevaarlike werk. Siektes kan maklik opgedoen word… net die vee oor die neus/lippe of spatsels in die oè kan erge probleme veroorsaak en niemand om van te eis nie. Miskien moet die weermag ook daar begin help.

anton ·

Dit is maar net Afrika vir jou.
Dit sal nooit ooit verander nie!!!
Julle mors julle tyd.
Jammer maar julle gaan permanet besig wees met skoonmaak.

JohanL ·

Terwyl daar informele nedersettings langs die rivier is, sal die spesifieke probleem nooit opgelos word nie. Daardie mense se gebrek aan opvoeding laat hul optree soos hulle optree.

Die skoonmaak-aksie is prysenswaardig – maar ons weet dit is ‘n “whack-the-mole” poging. Slaan hier en dan kom die probleem op ander plek veer na vore. Hiermee gee ek nie te kenne ons moet opgee nie. Welgedaan aan diegene wat probeer om Centurion skoon te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.