86 dae ná gru-ongeluk bly gesin hoopvol

Damian in die hospitaal (Foto: Facebook)

Die familie van ʼn man van Tzaneen in Limpopo wat ná ʼn motorongeluk vroeër vanjaar ʼn ernstige breinbesering opgedoen het, glo vas hy sal deur middel van gebede en geloof eendag weer ʼn normale lewe kan lei.

Bianca Corbett, Damian se suster, het aan Maroela Media vertel haar broer is sedert die aand van die ongeluk in ʼn bykans vegetatiewe staat. Damian het saam met vriende gekuier om sy verjaarsdag te vier. Volgens haar was hy glo later die aand saam met ʼn vriend op pad huis toe, toe dié gru-ongeluk plaasgevind het nadat die motor ʼn sandbank getref het.

“Ons is tot vandag toe onseker oor wie die motor bestuur het. Damian het baie seergekry in die ongeluk – sy arm is gebreek, sy kakebeen was op twee plekke gebreek en hy het ander frakture ook opgedoen. Hy het sy kop ook hard geslaan en as gevolg daarvan ʼn erge breinbesering opgedoen. Ons dink hy moes so seer gekry het omdat die voertuig verskeie kere gerol het voor hy uitgeslinger is. Sy vriend wat saam met hom in die motor was, het geen ernstige beserings opgedoen nie, maar kan niks van die ongeluk onthou nie.”

Volgens Corbett is haar broer langs die pad dood verklaar. Sy sê die nooddiensspanne het twee uur lank gespook om hom weer by te bring, en kon hom stabiliseer voor hulle hom na ʼn hospitaal gehaas het.

Damian voor die ongeluk (Foto: Facebook)

“My ma het al die pad van Welkom af na Pretoria gery om my eers op te laai en toe verder na Tzaneen te ry. Ons kon hom die volgende dag eers sien. Die dokters het gesê ons moet hom groet – ook omdat hy dit waarskynlik nie nog ʼn dag sal maak nie. Sy beserings was te erg gewees. Vandag is dit reeds 80 dae sedert sy ongeluk.

“Die dokters het aanvanklik gesê sy breinbesering is van so ʼn aard dat hy nie weer sy arms sal kan oplig nie. Vandag kan hy vir ons waai, sy oë oopmaak en hy maak al geluide. Ons glo in ʼn almagtige God – een wat wonderwerke kan laat gebeur,” sê sy.

Corbett sê op pad hospitaal toe het sy saam met haar gesin langs ʼn veld stilgehou. Sy sê ʼn ontmoeting met die Here tydens dié oomblik laat haar tot vandag toe glo haar broer sal weer gesond wees.

“Ons het langs die pad afgetrek, en ek het die Heilige Gees hoor sê dat ek ʼn perdeblom moet pluk en vir my broer moet bid. Ek het die perdeblom geblaas sodat sy gebede na die hemel kon sweef. Ek glo dit was ʼn ontmoeting met God en dit was ʼn belofte aan ons om te bly volhard in gebed en geloof. Ons hele gesin het die gebede na die hemel gestuur.”

Damian in die hospitaal (Foto: Facebook)

Sy sê kort hierna is die Dandelion Prayers Facebook-blad gestig om mense van oor die wêreld te nooi om saam met hulle te bid.

“Dié blom dra vandag betekenis vir ons danksy daardie ontmoeting, maar die belangrikste aspek van die Facebook-blad is om mense te vertel van ons storie sodat hulle saam met ons kan bid. Daar is krag in gebed.”

Damian was intussen vir vyf weke in die hoësorgeenheid voor hy na ʼn gewone saal oorgeskuif is. Omdat hy longontsteking opgedoen het, is hy sedertdien weer vir drie weke in die hoësorgeenheid.

Die gesin beplan om hom na ʼn rehabilitasiekliniek te neem wanneer hy sterk genoeg is. Corbett sê dié rehabilitasiekliniek sal hom help om so normaal moontlik te kan wees.

“Ons wil mense vra om saam met ons te glo en te bid. Die pad wat hy tot vandag toe gestap het, is merkwaardig. Wanneer ons slegte nuus kry, raak ons nie negatief nie. Ons volhard in gebed omdat ons glo die Here sal voorsien. Waar ʼn groot groep mense saamkom om te bid, daar is God. Ons het baie gebede nodig, daarom vra ons mense om saam met ons én vir ons te bid vir ons broer se herstel.”

ʼn Rehabilitasiekliniek sal die gesin bykans R7 000 per dag kos. Omdat Damian net ʼn hospitaalplan het, benodig die gesin ook finansiële ondersteuning. ʼn Trustfonds is intussen in sy naam gestig. Vir meer inligting oor bydraes, besoek Dandelion Prayers se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

geloofhoopliefde ·

NIKS is by die Here onmoontlik nie!!!! Hy lewe vir ‘n rede. Bly net GLO en VERTROU dat die Here ‘n plan het met sy en almal om hom se lewens.

jessica ·

Die Here is groot, hy sal daar deur kom, mag liewe Jesus sy hand van gesondheid elke oomblik by hom wees. Damian is geseen met die perdeblom wat hom daar deur sal help. ek dink aan julle voorspoed.

christa ·

Ons God kan wonders doen en doen dit vandag nog. Wees ‘n Habbukik en hou aan met bid. Ek sal ook bid want die Here se waar 2 of meer oor ‘n saak saamstem sal Hy intree. Sterkte

Chris Ws ·

Ons was 4 jaar gelede in ‘n erge ongeluk .My vrou het al haar linker kantse ribbes gebreek,haar linker bo arm en borsbeen ook.Sy het ook ‘n erge brein besering opgedoen en was 24 dae bewusteloos en 6 weke in ICU.Daarna 10 weke in ‘n rehabilitasie hospitaal.
Ek kan getuig dat ons ‘n ALMAGTIGE VADER dien en HY verrig beslis wonderwerke.My vrou loop al ente met ‘n kierie en het baie gevorder van lyk status af waar sy was toe ek haar huistoe gebring het omdat die mediese fonds uitgeput was.Sy kan nie self aantrek nie,niks in die huis doen nie maar haar spraak het darem al baie verbeter.Ek dank ons Vader elke dag vir haar vordering al is dit ‘n stadige proses.Ons sal nooit ophou bid nie.Sterkte vir julle en bly net glo!Ons Vader is in beheer!

Jo ·

Chris, Jy is n wonderlike man, ken jou nie, maar dit wat ek lees gee my baie respek vir jou as n man. Ek dink aan julle en Glo en Vetrou alles sal ok wees. Sterkte vir Damian en geliefdes. Liefde en Ons Vader is Wonderlik. Sterkte almal en dankie vir die inspirasie wat ek vandag hier lees oor geliefdes wat nie opgee nie. Amen

dovaz ·

God is die groot Geneesheer!! Onthou Damian Jesus is altyd met jou en Hy hou jou hand styf vas deur die moeilike tyd
Net vir jou Damian
????Goeie more my Jesus Maatjies.???? Ps. 121: 1-3 Ek slaan my oe op na die berge; waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie, jou Bewaarder kan nie sluimer nie.???? Die Here is altyd daar, ons moet net op ons knie kom en hom opsoek in gebed. Sy oe is altyd op ons, ons moet net seker maak dat ons ons oe sal opslaan en Hom ook in die oog hou.??. Onse Vader, wat in die Hemele is, Laat U naam geheilig word, U is ons bewaarder wat nooit sluimer of slaap nie, leer ons bid en help ons dat ons visie sal wees om altyd ons oog op U gevestig sal hou. Dankie vir U wonderlike beloftes in U woord, en dat U getrou bly al is ons soms ontrou. Amen.???? Geniet hierdie dag, met die wete dat die Vader altyd saam jou is. God seen u. ????

Rika G ·

Sterkte aan familie glo hy sal volkome herstel die Vader doen wonder werke glo net in Hom.

Jo ·

Nee aarde regtig!!!!!!!!!!!, party mense is maar soos hulle is, hoekom hulle hul mening hier opsit sal alleen weet. Hoop en bid jy beland nie in hierdie families se skoene nie want as iets met julle moet gebeur is dit seker DRANK. Daar gebeur ongelukke, daar is ONSKULDIGE mense betrokke.

Chris se vroutjie en Damian, sterkte en bly Glo en Vertrou op Hom. Amen

Nita ·

Jesus was sondaars se vriende, Hy het nie omgegee daaroor nie, waarom moet ons ? Drank of nie drank betrokke, ongelukke gebeur . Mense kry so baie Genade , deel maar bietjie uit ook. Ja dit is ons reg om vir God te vra vir wonderwerke want wonderwerke dra sy Evangelie uit. Is wonderwerke net van toepassing op mense wat geen sonde het nie ???

Nadia ·

Die ander persoon in die Kar was my boetie. Hy het baie seer in sy Hart oor hierdie hele saak. Ek ken my boetie en as hy se hulle het nie gedrink nie, Dan glo ek hom. Asb mense hou op met julle lelike komentaar . Bianca baie sterkte met Damian . Ons bid elke dag vir hom en ek glo dat Jesus hom weer Sal herstel. Jy is regtig n wonderlike sussie vir hom. Bly net so positiewe mens wat jy is.

dovaz ·

Mooi so Nadia! Sterkte aan jou broer. Die Here is groot, genees en heel wonde.
Nou wil ek a vraag aan die mense vra wat oordeel. Bly jul in glashuise? Kan jul a vinger wys? Kan een van julle a klip optel en werp? Ek glo nie dat een v d Suid Afrikaanse mense vandag kan onskuldig pleit aan iets nie.
Die Here gee nie om wat op daai restaurant strokie staan nie. Hy gee nie om wat hulle geeet of oor gesels het nie. Hy gee om vir hulle! Hulle is Sy kinders! Als gebeur volgens die wee v d Here. Die Here het a groot doel met Damian, sy familie en Nadia se broer. Damian is a lewende getuienis vir Hom. Hou aan bid en glo Damian. Jesus is groter as enige pyn of gebreke of probleme. Staan op Sy woord. ‘Die wat vra en glo sal ontvang’.
Asb mense moenie oordeel wat miskien eendag is jul waar hulle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.