87 kinders gemolesteer: Wag laat vaar borgtog

Argieffoto

Die 57-jarige veiligheidswag wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn groot groep leerders by ʼn laerskool in Soweto seksueel aangerand het, het Woensdag in die Protea-landdroshof verskyn.

Dennis Mabasa, vir die beskuldigde, het aan landdros Ronald Zakwe gesê hy het opdrag ontvang om die aansoek om borgtog te laat vaar hangende die afhandeling van die ondersoek.

Die man het na bewering 87 meisies van AB Xuma Primary School gemolesteer.

Staatsaanklaer Cheryl Slack het gesê die uitkenningsparade het nog nie plaasgevind nie, weens ʼn kwessie wat deur die beskuldigde aangeroer is rakende sy regsverteenwoordiging. Sy het gesê die man het met Legal Aid in kontak getree en word nie meer deur Mabasa verteenwoordig nie, en daarom kon die uitkenningsparade nie voortgaan nie.

Mabasa het egter aan die hof gesê die beskuldigde ontken dat hy Legal Aid genader het vir regsverteenwoordiging. Die beskuldigde het aan Zakwe bevestig dat Mabasa steeds sy regsverteenwoordiger is.

Slack het daarna versoek dat die man na die polisiestasie geneem word sodat die uitkenningsparade kan hervat, maar het versoek dat die plek, waar die uitkenningsparade sou plaasvind, nie bekend gemaak word nie, om die veiligheid van die 57-jarige man te verseker en te voorkom dat enigiemand met die ondersoek inmeng.

Die saak is tot 1 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Ouers van die slagoffers en gemeenskapslede wat die verrigtinge bygewoon het, was tevrede dat die man sy aansoek om borgtog laat vaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wanda hendriks ·

Nog 1 van Zuma se cronies, seker gedink hys a parliments’ lid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.