87 myners van Orkney in hof

Die mynskag naby Orkney waar die polisie destyds toegeslaan het. (Foto: SA Polisie/Valke)

Die 87 onwettige mynwerkers wat verlede jaar naby Orkney in hegtenis geneem is ná ʼn skietgeveg met die polisie, het vandeesweek in die hof verskyn. Die saak sloer al maande lank.

Nog ʼn verdagte, glo ʼn minibustaxibestuurder, het saam met die beskuldigdes in die hof verskyn nadat hy onlangs in hegtenis geneem is.

Maroela Media het vroeër berig oor ses onwettige mynwerkers wat in ʼn skietery met die polisie omgekom het en talle ander wat in die proses vasgetrek is.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê die saak teen die onwettige myners is al drie keer vantevore uitgestel.

Die beskuldigdes se prokureur sou destyds al ʼn hardeskyf wat broodnodige beeldmateriaal bevat aan die staat verskaf het, maar dit is nooit gelewer nie.

“Die prokureur voer aan dat die beskuldigdes se families nie hul samewerking gee nie, dus het hy nog nie die hardeskyf met die betrokke beeldmateriaal in sy besit nie,” sê Mamothame.

“Hy het egter onderneem om teen 30 Augustus, by die beskuldigdes se volgende hofverskyning, die beeldmateriaal aan die hof te oorhandig.”

Die landdros het gewaarsku dat daar geen verdere uitstel sal wees as die beeldmateriaal nie ingehandig word nie.

Die 87 beskuldigdes het ook hul voorneme bekend gemaak om aansoek om borgtog te doen. Hulle het ʼn ander prokureur aangestel om hulle net vir hierdie aansoek te verteenwoordig.

“Die verdagtes het aanvanklik hul borgtogaansoek laat vaar as gevolg hul onwettige status in Suid-Afrika,” sê Mamothame.

Besonderhede oor die skielike ommeswaai is nog nie bekend nie.

Die verdagtes bly in polisieaanhouding totdat die borgtogaansoek aangehoor word.

Die verdagtes staan tereg op ses aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, sameswering om te roof, onwettige mynbou, besit van outomatiese vuurwapens, poging tot moord en die oortreding van die Immigrasiewet.

Intussen is Thethile Master Boyce (60) as die 88ste verdagte by die klagstaat gevoeg. Hy het saam met die ander 87 beskuldigdes in die hof verskyn.

Ondersoekbeamptes verbonde aan die Valke het onlangs aan die lig gebring dat Boyce ʼn minibustaxibestuurder is wat na bewering die onwettige mynwerkers na en van die myn vervoer het, asook kos en ander benodighede verskaf het.

Daar is op sy minibustaxi beslag gelê en hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Die agt verdagtes wat destyds tydens die inhegtenisneming gewond is, is reeds uit die hospitaal ontslaan en is in polisieaanhouding. Dit is nog nie duidelik wanneer hulle in die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Ons mamparra regstelsel is ‘n grap vir die wêreld.

Christine ·

87 Onwettige myners is ‘n druppel in die emmer. Daar is derduisende onwettige myners werksaam op die Oosrand, Wesrand en Vrystaat. Mense wat onwettig die land ingekom het en nou ‘n mafia-bestaan hier voer en ons land se mense terroriseer. 87 is ‘n grap. SAPS word omgekoop, plus hooggeplaasdes baat ook hieruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.