87 vas ná geweld in Vrystaat

Hertzogville. Foto: Facebook via Ali Nkitseng.

Die Vrystaat het die afgelope week gebuk gegaan onder verskeie gevalle van gewelddadige protesaksie.

Altesaam 87 mense is in hegtenis geneem in onderskeidelik Bothaville, Hertzogville, Reddersburg en Steynsrus.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê jeugdiges het Sondag omstreeks 11:00 by die gemeenskapsaal in Kgotsong, Bothaville, bymekaargekom en die pad met brandende bande en padtekens versper. “Twee polisievoertuie is ook met klippe bestook en beskadig,” het Thakeng gesê.

Volgens hom is twee sleepwaens van die munisipaliteit ook aan die brand gesteek. “Hulle het later die protesaksie vir die dag gestaak, maar 200 inwoners het omstreeks 06:30 Maandag by die Hlaboloha-laerskool bymekaargekom met brandende bande en het paaie weereens versper.”

Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde moes ontplooi word en 26 mense, insluitend drie minderjariges is vasgetrek.

Volgens Thakeng is meer as 19 winkels wat aan buitelanders behoort geplunder en drie is afgebrand.

Nege van dié verdagtes het reeds in die Bothaville-landdroshof verskyn en hul saak is uitgestel tot 4 Mei wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

In Hertzogville het sowat 2 000 inwoners Dinsdag omstreeks 04:00 bymekaargekom en paaie na Hoopstad, Christiana en Malibogo versper met brandende bande en klippe.

“Drie winkels wat deur buitelanders besit word is geplunder en nege ander is ook geplunder in Malibogo-nedersetting.”

Lede van die polisie is ontplooi en 28 vroue, tussen 18 en 60 jaar oud, asook 23 mans tussen 18 en 56 jaar oud is in hegtenis geneem op ʼn klag van openbare geweld.

Volgens Thakeng was daar ook nie gister enige skole oop in dié omgewing nie. Dié verdagtes sal Donderdag in die Hertzogville-landdroshof verskyn.

Thakeng het gesê die situasie was Dinsdag gespanne en buitelandse sake-eienaars is deur die polisie na ʼn “veiliger plek” vergesel.

In Steynsrus het inwoners gekla oor dienslewering en vir grond om geallokeer te word. “Hulle wou hê die burgemeester van Moqhaka munisipaliteit moet geroep word om hul bekommernisse te kom aanspreek,” het Thakeng gesê.

ʼn Polisiewa is in dié geval ook beskadig na dit met klippe bestook is.

Nege mense is in hegtenis geneem ná buitelanders se winkels weereens geplunder is. Hul sal binnekort in die Steynsrus-landdroshof verskyn.

Intussen het kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, bygevoeg nóg een persoon is Vrydag in Reddersburg in hegtenis geneem vir openbare geweld ná protesaksie ook in dié dorp uitgebreek het.

Die situasie in Reddersburg was volgens haar Woensdag weer kalm.

Brig. Disebo Cezula, waarnemende bevelvoerder van Welkom, het die skade aan eiendom, plunder van winkels en die versperring van paaie ten sterkste veroordeel. Hy het bygevoeg die inwoners moet die regte prosesse volg om hul besware te opper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Groetnis ·

Vandag vas — more los — dit is hoe dit in SA met die kriminele en oproermakers werk. As jy van die ANC of EFF is kom jy met brandstigting, moord en diefstal weg, ook openbare geweld ens ens . en as iemand gevang word dan BRAND JY WEER die volgende dag die plekke om te eis dat die wat die vorige dag gevange geneem is, vrygelaat word.

jaco ·

dis almal dorpe daardie wat stewig onder ANC beheer is. Volgende verkiesing wen die ANC maar net weer daar. Dis asof daar ‘n sinistere “mag” is wat hierdie betogers teen die ANC seb swak dienslewering “keer” om vir enige ander party as die ANC te stem.

Casper Labuschagne ·

@jaco, Die gewone swart kieser sien dit nie as die ANC nie. ‘n Swart aptekersassistent het aan my gesê die dienslewering is Moqhaka se skuld en dit het niks met die ANC te doen nie want Moqhaka is nie ANC nie, sy sal ANC stem totdat sy die dag sterf.

Casper Labuschagne ·

Die burgermeersteres van die bankrot Moqhaka munisipaliteit (Kroonstad voordat die witmense die verkiesing verloor het) het juis ‘n blink Duitse ampsmotortjie van ver oor ‘n miljoen rand bekom om “vinniger te kan reageer op dienslewering.” Daagliks hoor ek loeiende sirenes in die middedorp en kan dan gerus wees dat dit geen busramp of groot ongeluk was nie, maar dat dit net ons eerbare Me Mokgosi is wat in haar eie mini bloulugkonvooi rondrits ter wille van kritise dienslewering. Nou wonder ek waarom sy nie in Steynsrus kan uitkom nie, waar die dorp terloops ook al vir ongeveer drie jaar meestal sonder water in die krane is nie. Toegegee die pad Steynsrus toe is amper onrybaar, maar die ergere onrybare strate van Kroonstad stuit me Mokgosi nie in die minste nie.

jennefer ·

die lisensie kantore van mookgopong/Naboomspruit is eergister gebrand, seker om die korrupsie bewyse te verbrand.

Million ·

En in 2019 stem die makkers WEER ANC of EFF dalk hierdie keer .. wag al 24 jaar vir beloftes wat nie gerealiseer het vir die massas nie, net vir ‘n klein black elite .. nou gaan hulle weer vir dieselfde mense stem om weer 24 jaar te wag, of die EFF wat in AUgustus al vir hulle plase gaan gee en dan gaan almal ryk wildsboere wees .. nie een van die 50 miljoen gaan dan sukkel nie, hulle gaan hierdie 30 000 ryk witboere se plase GELYKOP verdeel tussen 50 miljoen mense … Dan is almal happy want dan is almal so ryk soos die witman, dan het hy betaal vir apartheid . hie haaaaaaaaaaaa

Demokrasie werk nie ·

Tog bly hulle viur selfde party stem… demokrasie werk nie in sekere lande nie.

Reguit ·

Propaganda. 87 glo vas, maar die tronke is lankal oorvol. So as of ons moet glo dat dit gaan help om iemand “vas” te hê. Azanië is ‘n hool. Elke dag slegter.

Ben ·

Demokrasie is ‘n grap daarom is die land van oorsprong die afgelope paar jaar bankrot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.