88-jarige gered ná kaper se wilde jaagtog

(Foto verskaf deur JP Smith)

Kaapstad se verkeersdiens en wetstoepassers het die afgelope week 225 verdagtes in hegtenis geneem en 68 454 boetes uitgereik. Die nooddiens-kommunikasiesentrum het 1 867 voorvalle oor die naweek aangeteken.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê dit is van die suksesse wat die stad se wetstoepassers vermag het.

“Beamptes van die metropolisie het Sondag ʼn gekaapte voertuig gevind kort ná dit in Belgraviaweg in Athlone gesteel is. Die bestuurder van die voertuig, wat ʼn 88-jarige passasier gehad het, het buite die perseel stilgehou en sy het die motor laat luier om iets in die huis te gaan haal. ʼn Onbekende man het verskyn, die passasier met ʼn vuurwapen gedreig en met haar steeds in die motor weggejaag.”

Lede van die plaaslike buurtwag, wat die voorval sien gebeur het, het die motor agternagesit en die metropolisie in kennis gestel. Die metropolisie was besig met misdaadvoorkomingspatrollies op die hoek van Klipfontein- en Belgraviaweg.

“Beamptes het vinnig gereageer en die gekaapte motor agternagesit. Die bestuurder, wat roekeloos gery het, het geweier om stil te hou en teen minstens twee ander motors gebots.”

Die kaper is uiteindelik in Racecourseweg tussen Melomed-hospitaal en Access Park, Kenilworth, voorgekeer.

“Die verdagte het uit die motor gespring en weggehardloop. Beamptes het hom gejaag en hy is gou in hegtenis geneem.”

Die 40-jarige verdagte is in aanhouding by die Athlone-polisiestasie op aanklag van die besit van ʼn vermoedelik gekaapte motor, ontvoering, roekelose of nalatige bestuur en dat hy hom teen inhegtenisneming verset het.

“Die getraumatiseerde passasier is bygestaan en is met ʼn ambulans na Groote Schuur-hospitaal geneem vir verdere bystand en traumaberading.”

Verkeersdiens

Beamptes het ook padblokkades, voertuig-nasienpunte en spoedkontrole-operasies uitgevoer. Altesaam 63 672 boetes is uitgereik, 205 openbarevervoer-voertuie is geskut en 3 260 lasbriewe vir inhegtenisneming is uitgevoer.

Veertig motoriste is vir dronkbestuur in hegtenis geneem en vyf vir roekelose of nalatige bestuur.

Nooddiens-kommunikasiesentrum

Altesaam 1 867 voorvalle is oor die naweek aangeteken. Altesaam 728 van dié gevalle was medies van aard en 123 was persone wat fisies aangerand is. Dit sluit 16 gevalle in waar ʼn vuurwapen gebruik is.

Sake van huishoudelike geweld is ook aangemeld en 59 oproepe vir bystand is ontvang.

Die sentrum het 49 motorongelukke hanteer.

Wetstoepassing

(Foto verskaf deur JP Smith)

Beamptes op patrollie is Sondagoggend vroeg by die parkeerterrein by Leeukop voorgekeer deur drie persone wat in hul motor gesit het.

Hulle het die beamptes in kennis gestel dat hulle deur drie verdagtes aangeval is en met ʼn vuurwapen gedreig is. Beamptes het ʼn beskrywing ontvang van een van die verdagtes wat na bewering tydens die voorval gestruikel en teen die helling afgerol het.

“Die beamptes het met ʼn helder lig in die bosse geskyn en die verdagte onder die straatligte in Kloofstraat opgemerk. Hulle het dadelik na dié gebied gery en die verdagte in hegtenis geneem.”

Hy staan tereg op aanklag van gewapende roof en poging tot kaping. Die twee ander verdagtes is nog voortvlugtig.

Tydens patrollie het beamptes ʼn verdere 180 verdagtes in hegtenis geneem en 4 882 boetes uitgereik vir verskeie oortredings.

Inwoners kan 021 480 7700 skakel van ʼn selfoon of 107 van ʼn landlyn om ʼn noodgeval of misdaad aan te meld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

trotsNAMSA ·

Geluk aan al die vroue, mans en K9’s met julle goeie werk. Trots op julle en ek bid vir jul veiligheid.

Bolandse Nooi ·

Ek begin wonder … is lyfstraf dan nie ‘n oplossing vir al hierdie “kleiner, ligter” misdade nie? As die oortreder op heter daad betrap word, foeter die lus vir misdaad pleeg uit sy of haar agterent uit. Trónkstraf is duidelik nie meer ‘n afskrikmiddel nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.