89% van kommentare verwerp Bela-wet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Barry Zhou)

Die oorweldigende meerderheid van voorleggings uit die publiek oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (die Bela-wetsontwerp) wat tot dusver ondersoek is, verwerp dié wetsontwerp.

Baxolile ‘Bax’ Nodada, die DA se skaduminister van basiese onderwys, sê dit steun die DA se mening en dui op ernstige besware wat betref die wetsontwerp.

Tydens ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys is onthul dat meer as 18 000 kommentare oor die Bela-wet ontvang is. “Tweederdes hiervan moet nog geanaliseer word. Dit is egter redelik om te verwag dat hierdie voorleggings dieselfde neiging sal volg van algehele verwerping. Trouens, 3 138 kommentare het die wetsontwerp in sy geheel verwerp; 190 het kommer aangeteken oor sekere klousules en 141 kommentare was nie duidelik nie. Slegs 35 voorleggings het die wetsontwerp ondersteun.”

Nodada sê die besware wat die publiek aangemeld het, stem grootliks ooreen met die DA se kwessies met die wetsontwerp, insluitend die instelling van ʼn verpligte graad R; dat skoolbeheerliggame nie meer die mag sal hê om besluite te neem oor toelating en taalbeleid nie wat gebruik kan word om Afrikaans en ander moedertaalonderrigskole te teiken; die sentralisasie van aanskaffing; en die gebrek aan gesprekke met die tuisskoolbedryf. ʼn Waardevolle geleentheid om die regulering van gemengde en aanlyn leer aan te spreek gegewe die post-Covid-onderwysomgewing het ook verlore gegaan.

“Dit is duidelik dat die departement versuim het om met die publiek en onderwysbedryf in gesprek te tree. Die Bela-wet in sy huidige formaat ontneem skole en gemeenskappe van hul mag en dit skep talle geleenthede vir misbruik deur die minister, LUR’e en provinsiale hoofde van die departement van basiese onderwys om skole te kaap.”

Die DA sal die nasionale tesourie versoek om die finansiële implikasies oor verpligte graad R voor te lê aan die komitee. “Ons sal ook versoek dat minister Angie Motshekga en haar departement hul planne voorlê vir die regulering van gemengde en aanlyn leer buiten die huidige voorlopige raamwerk wat talle leerders van tuisonderrig ontneem.”

Nodada meen Suid-Afrikaners het hul siening oor die Bela-wet en die “Lesufi-klousules” duidelik gemaak. “Hulle sal dit nie ondersteun nie en om hierdie wetsontwerp deur te stoomroller wanneer die meerderheid van voorleggings dit verwerp, sal belaglik wees.”

Hy sê skole het bemagtigde skoolbeheerliggame nodig wat passievol is oor hul skole en gemeenskappe sodat die gehalte van onderwys in Suid-Afrika kan verhoog.

“Die DA sal ʼn stem teen hierdie drakoniese wetgewing in die parlement bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie vir die DA se voorgesette steun vir om ons land n beter plek te maak

Harley Davidson ·

Lezufi kan geen beleid in plek stel weens sy haat vir witmens wat al sy denkwyse oorheers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.