9 binne dae dood op N4-tolpad

Die vroue het in die ongeluk omgekom. (Foto: Mpumalanga-departement van gemeenskapsveiligheid)

Die provinsiale regering in Mpumalanga het sy kommer uitgespreek nadat nege mense verlede week in drie afsonderlike ongelukke op die N4 in die omgewing van Ngodwana in Mpumalanga dood is. In een ongeluk is drie vroue dood ná hul motor met ʼn vragmotor gebots het wat aartappels vervoer.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê die eerste ongeluk het Woensdagaand plaasgevind toe ʼn vragmotor en ʼn minibustaxi gebots het.

Maroela Media het vroeër berig een mens is op die toneel dood en altesaam 14 mense ernstig beseer. Al die beseerdes is per ambulans na die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela (Nelspruit) gejaag vir verdere mediese behandeling. Twee van dié beseerdes het later aan hul beserings beswyk.

In nóg ʼn ongeluk Donderdagmiddag is drie vroue dood en nóg twee mense beseer toe ʼn vragmotor en ʼn motor gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 14:30 naby die Kaapsehoop-afrit plaasgevind. Die vragmotor, wat aartappels vervoer het, het glo uit die rigting van Mbombela (Nelspruit) na Waterval-Boven (Emgwenya) gery toe dit teen ʼn Toyota Corolla gebots het.

Die drie oorledenes is almal vroue en was passasiers in die motor. Een van die vroue is uit die voertuig geslinger.

Verder is nóg drie lewens op dié pad geëis toe ʼn Kia Picanto Saterdag vroegoggend omgeslaan het. Die bestuurder het glo beheer oor die motor verloor.

Een persoon het ligte beserings opgedoen en nog ʼn persoon is in ʼn ernstige toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Mmusi sê die drie ongelukke word ondersoek.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het ʼn hernieude beroep op motoriste gedoen om verkeersreëls te gehoorsaam om noodlottige ongelukke te voorkom.

“Daar is niks fout met die N4-pad nie; die fout lê by die bestuurders. Ons paaie moenie onnodig weens roekelose bestuurders in ʼn bloedbad verander word nie,” het Shongwe gesê.

Shongwe het gesê bestuurders wat roekeloos en nalatig bestuur, sal nie ongestraf bly nie.

Hy veroordeel ook van dié ongelukke wat glo ná die aandkloktyd plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.