9-jarige sterf ná skietery tydens kaping

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Negejarige meisie is dood nadat sy Maandagoggend in ʼn skietery tydens ʼn kaping in haar maag gewond is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 07:30 in Shallcross naby Chatsworth in KwaZulu-Natal gebeur.

Volgens Gwala was die meisie saam met haar pa in die voertuig toe hulle deur drie kapers oorval is. Die kapers het die voertuig by die pa afgeneem en weggejaag met die 9-jarige kind steeds in die voertuig.

Die kapers het egter in hul poging om te vlug met ʼn vragmotor gebots in Caucusweg, nie ver van waar die kaping plaasgevind het nie. Die kapers het van daar probeer om te voet verder te vlug.

Gwala het gesê ʼn polisiebeampte wat van diens af was het die botsing sien gebeur en kon daarin slaag om een van die vlugtende verdagtes vas te trek. ʼn Tweede verdagte het op die toneel gesterf, terwyl die derde verdagte daarin kon slaag om te ontsnap.

Tydens hierdie gebeure het daar ʼn skietery ontstaan en die 9-jarige meisie is in haar maag gewond. Sy is na ʼn hospitaal gehaas waar sy later gesterf het.

Gwala wou nie mediaberigte bevestig dat die kind gewond is toe daar ʼn skietgeveg tussen haar pa en die kapers ontstaan het nie. “Daar is gerugte dat die kind se pa op die kapers geskiet het, maar ons kan dit nie in dié stadium bevestig nie. Dit is nog nie duidelik wie geskiet het of wat presies gebeur het nie. Dit vorm deel van die polisie se ondersoek,” het sy gesê.

Sy wou ook nie bespiegel oor die oorsaak van die verdagte wat op die ongelukstoneel gesterf het, se dood nie. “Ons weet nog glad nie wat die oorsaak van sy dood was nie. Dit kan slegs deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word,” het sy gesê.

Die 39-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn. Sake van moord en voertuigkaping word ondersoek. Die polisie doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek in verband met die tweede verdagte se dood.

EWN het intussen die 9-jarige meisie as Sadia Sukhraj geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Laat weet vir Sisulu hier is regtig nie geweld in ons land nie. Dat n kind met haar lewe moet boet terwyl sy net n klomp bollie in die buiteland praat.

Koos de Meyer. ·

Ek stem. Dit is siek verby. Sisulu word wakker en kyk wat in die land aangaan. Hier is mos geen anargie en moorde in ons land nie.

Haan ·

Die “maar néé, volgens Sisulu” opmerkings raak regtig nou bietjie oud

jennefer ·

Die Kapers het geen gewete, mens weet mos daar is kinders in n skool omgewing , hul moes voorsien het dat n kind iets kon oorkom

Daan ·

Dit voel mens wil verby selfbeheersing gedruk word van woede …

Anoniem ·

Ag Here, dat ‘n onskuldige kind nou gesterf het as gevolg van duiwelskinders se jaloesie en hebsug… hoe gaan haar pa en ma kan slaap vannag? My hart wil breek vir hierdie mense. Help asb vir Suid-Afrika, U kinders gaan ten gronde hier.

Sarel ·

Tragedie van ‘n land waar politiek belangriker is as die mense. Jong mense en kinders verloor onnodig hulle lewe a.g.v misdaad en moorde. Wie vermoor kleuters? Los jou meissie jounvermoor jy haar. Dreig jou vrou om jou te skei word sy of die hele gesin vermoor

Sê-ma-net ·

Sinlose geweld en anargie sal voortgaan vir solank as wat dit ongestraf bly. ‘n Tik op die vinger, ligte boete of opgeskorte vonnis is geensins ‘n afskrikmiddel nie. En ja, dit is uiters lonend om bende geweld en sindikate te onderhou in Suid Afrika. (Crime pays). Effektiewe, swaar strawwe en minder verdraagsame howe behoort te help. Halsmisdrywe moet soos van ouds outomaties ‘n lewenslange vonnis of doodsvonnis dra. Eers dan sal dit nie meer lonend wees vir die individu nie en geweldsmisdade soos roof, moord, verkragting en dies meer sal afneem. So lank as wat ons as samelewing soos skape lewe, sal ons deur wolwe oorheers word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.