9 van polisie vas vir marteling, ontvoering, moord

Nege polisiebeamptes het vandag in die landdroshof in Durban verskyn. (Foto: Verskaf)

Nege polisiebeamptes het Dinsdag in die Durbanse landdroshof verskyn op aanklagte van marteling, poging tot moord, moord, ontvoering en regsverydeling.

Die aanklagte hou verband met ’n aanrandingsvoorval in polisieaanhouding meer as drie jaar gelede wat in 2018 tot die dood van Regan Naidoo gelei het.

Altesame 19 polisiebeamptes is nou reeds formeel aangekla in verband met Naidoo se dood.

Die 32-jarige Naidoo is dood nadat hy glo op 28 Augustus 2018 deur polisiebeamptes by die Chatsworth-polisiestasie in Durban aangerand is. Hy is destyds vir ondervraging aangehou nadat hy vermoedelik ʼn vuurwapen gekoop het wat vroeër in ʼn moord gebruik is.

Eric Morjane (44), Mlamhli Ntutuka (39), Andries Botes (46), Ralph Ogle (43), Eric Karsen (39), Muhammed Raoof (52), Pushpanthan Pillay (48), Sihle Ngidi (39) en Trevor Chetty (44) is vanoggend in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in Naidoo se dood.

Dit volg nadat tien ander polisiebeamptes reeds verlede week op soortgelyke klagte in hegtenis geneem is.

Minstens nog vyf inhegtenisnemings word boonop in die volgende paar dae verwag, sê Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod).

GroundUp berig polisiebeamptes verbonde aan die Durbanse polisie se honde-eenheid, die Durbanse blitspatrollie, die polisie in Chatsworth se trio-misdaadeenheid en die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad het Naidoo en twee ander mans destyds glo by ʼn vulstasie in Chatsworth vir ondervraging opgelaai.

Naidoo, Ahmed Dawood en Fardeen Carrim is glo tydens hul ondervraging aangerand. Hulle is daarna vir verdere ondervraging na die polisiestasie in Chatsworth geneem.

Naidoo het egter in die vroeë oggendure by die polisiestasie ineengestort en is in ’n polisievoertuig na ’n hospitaal geneem waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Langa sê al nege verdagtes is Dinsdagmiddag borgtog van R3 000 elk toegestaan en sal weer op 29 Oktober saam met hul medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Opod se ondersoek duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Pleks doen hulle net hulle werk en hou op om hulle tyd en energie te mors op hulle eie agenda.

Blikkies ·

Ek wens hulle was net so fluks om ander Kriminele ook te arresteer vir net sulke ernstige misdrywe. Nie dat hierdie saak ook aandag moet geniet nie.

Swerwer ·

Die klomp is veronderstel om summier ontslaan te wees sonder vergoeding tot hofsake afgehandel is.
Dan verwag hul ‘n mens moet die SAP vertrou. Genade maar die Sirkus word net al hoe groter.

Di ·

Sjoe, dis juis hieroor dat ek GEEN respek het vir die polisie nie. Elke dag is hulle in die nuus vir allerhande wandade. Raak ontslae van al die vrot appels in die polisie, o askies tog, dan gaan daar omtrent niemand oor wees nie

Belinda ·

dink mos die land behoort aan hulle so hul kan doen net wat hul wil. dis hoekom die land is soos hy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.