90 verhongerde hoenders uit motorhuis gered

‘n Inspekteur by een van die hoenders. (Foto: Facebook)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein in die Vrystaat het vandeesweek 90 verhongerde hoenders uit ’n motorhuis op ’n plaas buite die stad gered.

Duán Matthee, inspekteur van die DBV, sê in ’n verklaring die organisasie het ’n klagte ontvang oor hoenders wat sonder enige kos of water in ’n motorhuis op ’n plaas aangehou word. Luidens dié klagte het die persoon wat na die diere omsien in dié stadium daagliks dooie hoenders uit dié motorhuis gedra.

Die DBV het die plaas in Glen sowat 30 km buite Bloemfontein besoek waar beamptes by hul aankoms geskok was oor dít wat hulle in die motorhuis aangetref het.

Volgens Matthee is die diere in ’n klein spasie sonder enige kos of water aangehou. Daar was geen ontlasting op die vloer nie wat daarop dui dat die hoenders vir ʼn lang tydperk geen kos gehad het, sê Matthee.

Hy verduidelik dat die hoenders aan mekaar gepik het vir kos. “Ons het in die motorhuis gestaan ​​en hulle het aan ons klere en skoene gepik en gedink ons het kos. Van die hoenders het gevrek van honger. Hulle het brandwonde weens ammoniak gehad en sommige was met bloed bedek. Dit was hartseer om te sien hoe hierdie hoenders moes leef,” sê Matthee.

Die persoon wat na die hoenders in dié stadium omgesien het, het aan inspekteurs erken dat die diere dae laas kos gehad het. Volgens dié persoon het die eienaar van die hoenders sowat twee weke gelede vir hom ’n sak hoenderkos gegee en gesê hy moet daarmee klaarkom.

Die persoon het vertel dat hy die eienaar verskeie kere gebel het om te sê dat die kos intussen opgeraak het. Die eienaar het glo niks daaraan gedoen nie.

Volgens Matthee is ’n lasbrief inderhaas bekom om die hoenders van die eiendom te verwyder. Die hoenders is intussen na die DBV geneem waar hulle individueel gevoer moes word aangesien hulle baklei het oor die kos. “Dit was moeilik om te sien hoe honger hierdie hoenders was,” vertel Matthee.

Die DBV gaan nou ’n saak van wreedheid teenoor diere teen die eienaar aanhangig maak.

Die hoenders is steeds in die sorg van die DBV en ontvang sedertdien elke dag kos. “Ons hou hulle elke dag dop en sorg dat hulle sterker en sterker word. As ons hulle sien loop, gras voel, maak ons dit gelukkig.”

Die DBV doen ’n beroep op skenkings, byvoorbeeld kos en medikasie vir die hoenders. Maak hier kontak met die DBV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Ek is nie ongevoelig teenoor enige diere nie, ek boer self en het n paar hoenders ook…. Wat gaan hulle met die hoenders doen? Vet maak en slag?
Dis sal gaaf wees as maroela media ons kan op hoogte hou van hierdie berig sodat ons kan sien wat uiteindelik word van plaas diere wat deur die DBV gekonfiskeer word.

Pieter

Al weer Bloemfontein. Wat gaan met die mense daar aan? Rover die hond, hond van Winburg met die klappers wat sy ore beskadig het, hond wat geskiet is deur ‘n sekuriteitsbeampte, die dieretuin, ens. Tyd dat die Mandela standbeeld op Naval Hill val.

Sonneblomkind

Terrible dis mos onmenslik… Ek ken plaas lewe. Maar regtig..kyk na die diere way ou n inlomste bring

Eerlik

Sal graag die verskoning van n mens wil sien of ten minste weet wat sy naam is……ongelukkig kry diere mishandeling nie genoeg aandag in die kollig dat ons kan weet of geregtigheid wel seevier nie. Pruis die mense van die DBV en ander instansies wat 24/7 hulle lewens daaraan toewy om die wat nie vir hulself kan praat nie te probeer beskerm, net jammer ons land se regsstelsel is so power.

Cherokee

Die persoon wat na die hoenders moes omsien, moet saam met die eienaar aangekla word.