95% van Pikitup-werkers terug op hul pos

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Byna al die werkers van Pikitup, Johannesburg se vullisverwyderingsmaatskappy, het Maandagoggend vir werk opgedaag nadat sy vyf weke lange staking tot ʼn einde gekom het.

Pikitup het in ʼn verklaring gesê ongeveer 95% van werkers het by die onderskeie depots vir werk opgedaag en voortgegaan met hul gewone geskeduleerde vullisverwyderingstake.

Die uitgerekte staking deur Pikitup-werkers het uiteindelik Saterdagaand tot ʼn einde gekom toe die stad en die munisipale werkersvakbond Samwu ʼn ooreenkoms bereik het. Jacky Mashapu, woordvoerder van Pikitup, het gesê die maatskappy is nou vasbeslote om die agterstand in vullisverwydering teen 30 April in te haal.

“Die werkers sal voortgaan om vullis wat onwettig in oop gedeeltes en op straathoeke gestort is, te verwyder. Ons voorsien dat die herstelplan meer as drie weke sal neem om te voltooi. In die meeste gevalle sal die alledaagse bedrywighede vertraag word deur die oortollige vullis wat die afgelope vyf weke opgestapel het,” het Mashapu gesê.

Die Stad Johannesburg het vroeër gesê hy is bekommerd oor die gesondheid- en omgewingsimpak van die staking nadat ʼn dooie rot positief getoets is vir latente pessiekte.

Gedurende die staking het Pikitup R1 miljoen per dag bestee om privaat kontrakteurs te huur om die vullis te verwyder. Pikitup het gesê hy sal in die loop van die volgende maand steeds voortgaan om die privaat kontrakteurs te huur om te help met die vullisverwydering en so die skoonmaak van die stad te bespoedig.

Intussen is ʼn proses om ʼn ooreenkoms tussen Pikitup, die Stad Johannesburg en Samwu te bereik Maandag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) begin. Dumisani Dakile, Cosatu se provinsiale sekretaris, het Sondag gesê die onderhandelinge oor salarisse sal gegrond word op ʼn salarisskaal, ʼn graderingsisteem en salarisverhogings volgens tydperk in diens en werksprestasie.

Daar is ook ooreengekom dat salarisaanpassings terugwerkend tot in Januarie sal wees.

Al die sowat 4 000 werkers wat aan die staking deelgeneem het, is skuldig bevind aan wangedrag tydens ʼn dissiplinêre verhoor. Pikitup het egter gesê hul terugkeer na die werk sal dien ter versagting teen moontlike dissiplinêre stappe teen hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wat-ek-lees ·

“Sies vir jou!! Jy was stout om dit te doen!! Asseblief, moenie dit wéér doen!! Hier is nog lekkers vir jou . . . In die ou SA se tyd sou jy ‘n paar rapse gekry het. Nou egter is jy die baas en ek die klaas. Nog ‘n suigstokkie?”

william ·

Wat hierdie mense nie verstaan nie is dat hul leier,mr Gupta, se besluite hulle direk raak en eendag kom hul agter dat hul Rande nie naastenby genoeg is om hul gunsteling sprodukte te kan koop nie. Die inflasie syfer is n miete en verwyder van die werklikheid.

Hendrik ·

Ek het nog nooit so vrot, vuil plek soos Johannesburg gesien toe ek Saterdag deur die middestad gery het nie. My pot se deksel is dat geen winkeleienaar voor sy winkel skoonmaak het nie tydens die pikitup staking. Waar kom die vullis alles vandaan? Dit lyk of die inwoners net die papiere en gemors gooi waar hulle wil. Ek voel dat daar baie van hierdie geboue net moet gesloop word. Die hele plek is ‘n vrot nes!

alida ·

Stem saam maar onthou die hele kabinet is net so’n vrot nes en die rotte skarrel nou rond om leuens uit te dink !!!

hans ·

Die R1 miljoen bykomend onnodige per dag sal nou seker van die belastingbetaler verhaal word! Die stakers sal beslis nie aangespreek word om die onnodige koste te verhaal nie,hoe maklik is dit in RSA die gevolge van jou dade te ontduik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.