95 vas wat glo kwarantynreëls oortree

Zeke, ʼn lid van die polisie se honde-eenheid (Foto verskaf deur die SAPD)

Stad Kaapstad het die afgelope week 95 persone in hegtenis geneem op aanklag van, onder andere, dronkbestuur, omkopery, die besit van dwelmmiddels, opsetlike saakbeskadiging en bykomende aanklagte van oortreding van die nasionale afsonderingsriglyne.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê 44 persone is deur die metropolisie in hegtenis geneem en 51 deur die polisie.

“Metropolisielede het oor die naweek in Dunoon beslag gelê op ongeveer R500 000 se alkohol by ʼn taverne wat sy deure oopgehou het, ondanks die verbod op die verkope van alkohol. Beamptes het ook ʼn persoon in hegtenis geneem wat R5 000 omkoopgeld aangebied het ná hy onwettig sigarette in Mfuleni verkoop het,” het Smith gesê.

Zeke, ʼn lid van die polisie se honde-eenheid, het Saterdag drie pakkies dagga uitgesnuffel in ʼn voertuig wat by ʼn padblokkade op die N7 naby Milnerton voorgekeer is. Drie persone is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelmmiddels en versuim om by hul huis te bly tydens die afsonderingsperiode.

“Dit kom slegs vyf dae ná metropolisiebeamptes ʼn verdagte by ʼn padblokkade op dieselfde pad in hegtenis geneem het vir die besit van mandrax met ʼn straatwaarde van R50 000.”

Metropolisiebeamptes het Maandagoggend in Lansdowne twee persone opgemerk wat rondgestaan het. “Hulle het weggehardloop toe hulle die beamptes gesien het, maar een van hulle is aangekeer ná ʼn kort jaagtog. Hy het ʼn byl, metaalsaaglem en ʼn mes in sy sak gehad,” het Smith bygevoeg.

Beamptes het na die toneel teruggekeer waar die twee mans rondgestaan het en afgekom op kabels wat geknip is – gereed vir verwydering. “Die 31-jarige man is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van opsetlike saakbeskadiging, poging tot kabeldiefstel en oortreding van die Wet op Rampbestuur.”

Polisiebeamptes het die afgelope week 51 persone in hegtenis geneem op aanklagte van, onder andere, die besit van dwelmmiddels en ongelisensieerde vuurwapens. Beamptes het ook 1 866 boetes uitgereik.

“Beamptes, op patrollie in Bantrybaai, het op 2 April ʼn middeljarige man op ʼn muurtjie sien loop. Hulle het vinnig reageer en hom gekeer voor hy kon spring. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”

Die stad se verkeersdiens het 16 348 boetes uitgereik vir verskeie oortredings.

“Ek doen ʼn beroep op gemeenskappe om te voldoen aan die afsonderingsreëls en om by die huis te bly. Ons beamptes doen alles in hul vermoë om inwoners veilig te hou, maar dit verg ʼn kollektiewe poging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Brakkies ·

Dronk bestuur op lockdown…..rerig…
Respek vi jouself en vir ander en vir wette is vi 80% in die land by die deur uit…
Dankie Here dat my ouers my Reg groot gemaak het met selfrespek….
LUISTER…. BLY IN JOU HUIS!!!!

Michael 1 ·

Uitstekend gesê ” dankie Here dat my ouers my reg groot gemaak het” dit ontbreek in SA in 2020 en moet reg gemaak word.

Linda ·

In Gordonsbaai se Pick n Pay parkeer area staan mense tou om ingelaat te word vir inkopies, en ‘n man tel sommer daar voor almal ‘n prostituut in sy kar en oorhandig die geld aan haar en ry weg. Sonder skaamte, en nie ‘n polisieman in sig nie…

Danie ·

Die hoeveelheid boetes wat die verkeersbeamptes geskryf het verstom my. Ek wonder hoeveel geld maak hulle buite die inperkings tyd. Teen net R500 per boete, wat die munimum is, is die bedrag omtrent R8,2 miljoen binne `n week. Beslis voordelig vir die verkeersafdeling. Wat maak julle met al die geld? Ek het altyd gewonder of dit oor die wetstoepassing of oor die geld gaan. Nou weet ek.

Ansie ·

Dit maak nie vir my saak wat hulle met die geld doen nie. Wat ek wil weet is waarom mense aanhou om die wet te oortree? Het ons nou so aanmatigend geraak dat ons dink die wet is net op ander van toepassing? Laat die oortreders maar vasgevat word – dis ‘n goeie ding.

Ansie ·

Wat gemaak met die kinders wat bedel by die robot vanuit N1 Stad na Monte Vista Boulevard?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.